Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Die Oppas van Skape en Bokke(2) – Hennie Stander
Die taak van die herder
In die Ou Testamentiese tyd het omtrent elke familie ten minste ‘n paar skape en bokke gehad, en dus het die meeste gesinne ook herders gehad. So lees ons dat Ragel, die latere vrou van Jakob, haar pa se kleinvee opgepas het (Genesis 29:6-10). Dit was ook die taak van Moses (Eksodus 3:1). Arm families het gewoonlik die jongste kind gebruik om die skape op te pas. Dawid, die jongste van agt broers, was juis in hierdie posisie toe Samuel na die huis van Isai gegaan het om te soek vir die toekomstige Koning van Israel (1 Samuel 16:11). Ook die profeet Amos is van sy kudde weggeroep vir ander diens (Amos 7:14). Maar veeboere het ook huurlinge gehad om die skape op te pas.
In die lente, na die winterreëns, was daar heelwat weiveld buite die dorp. Nadat die koring geoes is, is die skape toegelaat om te wei op dit wat agtergebly het. As dit klaar was, het die herders met hul kleinvee na beter weivelde getrek en na plekke waar daar waterbronne was (1 Kronieke 4:39-41; Psalm 23:2). Wanneer die bogrondse waterbronne nie meer in die behoeftes kon voorsien nie, het die vee water gedrink wat uit die putte gekom het (Genesis 29:10).
In die Bybelse tyd moes kleinvee voortdurend beskerm word omdat wilde diere, wat uit die ruigtes van die klowe by die Jordaanrivier gekom het, ‘n ernstige bedreiging vir die vee ingehou het. Leeus en bere was volop in die veld (Rigters 14:8; 2 Konings 2:25). Dawid se optrede is sprekend van die gevare wat die herders moes trotseer om hul kuddes to beskerm (1 Samuel 17:34-36). In Amos 3:12 lees ons van ‘n herder wat selfs net twee pootjies en ‘n stukkie oor uit die bek van ‘n leeu weggryp (wat by waarskynlik aan die eienaar as bewys sou kon voorlê dat die bok of skaap nie gesteel is nie, maar deur wilde diere verskeur is). Die Here het dit hier as ‘n beeld gebruik van die oordeel wat oor die Israeliete in Samaria sou kom.
Skape en bokke is dikwels as een kudde opgepas
Verder was hiënas en jakkalse volop. Jesus het dus ‘n baie reële beeld gebruik toe Hy gesê het dat die goeie Herder sy lewe aflê vir sy skape (Johannes 10:11) alhoewel dit darem nou ook nie ‘n alledaagse gesig was in Palestina dat so jets sou gebeur nie. Aan die ander kant het herders eintlik geen ander keuse gehad as om die kudde met alle mag en krag te beskerm nie, aangesien dit dikwels van hulle verwag is om aan die eienaar te vergoed vir die vee wat deur wilde diere verskeur is, of wat gesteel is (Genesis 31:39; vgl egter Eksodus 22:10-13).
Wanneer ‘n skaap moeg of sick was, het die herder dit op sy skouers getel (vgl Lukas 15:5) en wanneer die skapie afgedwaal het, het by hom gaan soek (Lukas 15:3-6; Psalm 119:176; vgl ook Jesaja 53:6). Tog het dit maar te dikwels gebeur dat herders wat gehuur is, hulle taak nie met dieselfde toewyding verrig het nie bloot omdat dit nie hul eie skape was wat hulle opgepas het nie (Johannes 10:12-13).
Skrywer: Prof Hennie Stander