Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Godsdiens(1) – JP Louw
Die vertelling waarmee die Bybel begin, handel oor God se skepping, sy voorskrifte vir menslike gedrag wat deur Adam en Eva verbreek word en wat verwydering van God meebring. Soos die boek Genesis voortgaan, word dit al meer duidelik hoe sonde verwydering bring en ook God se oordeel – Genesis 6-8, en veral 6:5. Hierop volg sosiale chaos soos in Genesis 11:1-9 beskryf word. Nou word die mense ook van mekaar verwyder. Hierdie vertellings beeld die kernprobleem van die menslike bestaan uit: God se skepping wat deur sonde vervreem word en nodig het om na God terug te keer. In die Nuwe Testament kom God self na die aarde in Jesus Christus wat mens geword het. So versoen God self die wêreld met horn. Die hele Bybel is so ‘n boek van God se liefde en vertel van hoe Hy horn met die mens bemoei. Ons sou ook kon sê dat die hele Bybel ‘n relaas is van die verhouding tussen God en die mense, ‘n verhouding wat so intens word dat God self mens word ten einde die mens volmaak te leer hoe by voor God moet leef. In Johannes 13:15 sê Jesus uitdruklik “Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen”. Die merkwaardige bemoeienis van God met die mens vind sy uiterste in Jesus wat die mens se sonde op horn neem om die mens met God te versoen. Hierdie boodskap verwoord 1 Petrus 2:24 deur van Christus te sê: “Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra”. En Paulus sê dit nogeens in Kol 2:14 “Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker het Hy dit vir goed weggeneem.”
Maar die boodskap gaan nog verder. Jesus het uit die dood opgestaan en woon deur sy Gees in die mens. So het Hy die dood oorwin en vir die mens die ewige lewe bewerk. Daarom sê Paulus ook in Romeine 6:5 “aangesien ons met Horn een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Horn een wees in sy opstanding”.
Die Bybel is dus in kort enersyds die verhaal van die mens se nood en verlossing en andersyds van God se bemoeienis met die mens – en die twee kante is onlosmaaklik aan mekaar verbonde. Die lang verhaal deur die geskiedenis heen begin in die Ou Testament en is verweef met die mens se gebruike en gewoontes, sy denke en redenasies, sy optrede en handelswyse. Daardeurheen loop die goue draad van God se bemoeienis. Hierdie draad kan des te beter gesien word as ons die mens in sy lewensomstandighede ken. Hierdie draad is ook uniek in terme van die godsdienste van Bybeltye. Al die ander godsdienste van die ou wêreld was eintlik radikaal anders – ‘n wêreld van bonatuurlike wesens wat deur die mens met offers en rites gepaai moet word om hulle goedgesindheid te wen. Moraliteit, sovêr dit daaglikse lewenswandel betref, het weinig met godsdiens te doen gehad. ‘n Persoonlike verhouding met die godheid was ondenkbaar. Daarom word die godsdienste van die antieke wêreld dikwels apotropies genoem, ‘n tegniese term wat daarop dui dat die bonatuurlike magte van jou af weggehou moet word deur hulle goedgesindheid op ‘n afstand te verkry. Hierteenoor het ons ‘n totaal ander opset soos beskryf in Genesis 12:1-2. God kies ‘n mens, Abraham, en sê vir horn “Trek uit. Ek sal jou ‘n nasie maak en vir jou ‘n land gee”. In Genesis 15:18 word dit met ‘n verbond bevestig, ‘n verbond wat verder in Genesis 17:7 uitgebrei word met die woorde “Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag”. Later word hierdie verbond herbevestig met Abraham se kleinseun Jakob (Genesis 28:13-15) en weer aan Moses herhaal in Eksodus 3:6 – en so gedurig deur God bevestig dat Hy sy volk wat Hy gekies het, sal versorg. Dit is in die godsdienste van die antieke wêreld die unieke, die enigste godsdiens van so ‘n opset. Die Joodse godsdiens is dus anders deurdat dit op ‘n verhouding tussen God en mens bestaan. Al die rites en gebruike wat mettertyd ontwikkel het in oud Israel, het om hierdie verhouding, ‘n persoonlike verhouding, ontwikkel. Al het Israel gewoontes en gebruike ontwikkel wat uiterlike ooreenkoms met die godsdienste van ander volke vertoon het, soos byvoorbeeld feeste, offerandes en reinigingswassinge, heilige plekke, heilige voorwerpe, ‘n tempeldiens, ens, was dit in wese gans anders. Hieraan is Israel ook voortdurend herinner. In Psalm 51:18-19 word gesê dat God nie juis ‘n offerande vra nie, maar verootmoediging. Die offerandes was dus net uiterlik in ooreenstemming met offers in ander godsdienste maar innerlik totaal anders. Wanneer Israel afgedwaal het sodat die rites net uiterlike handelinge geword het, is hulle herinner aan die ware betekenis van godsdiens soos Amos 5:21-24 dit stel: offers en liedere is nie wat God verlang nie maar die doen wat reg is. Miga 6:8 stel dit soos volg: “Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God”.
Skrywer: Prof JP Louw