Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Godsdiens(20) – JP Louw

image_pdfimage_print

Heilige voorwerpe

In die Joodse godsdiens was verskeie voorwerpe toegewy aan die erediens en is hulle as sodanig as God se eiendom beskou sodat hulle nie deur gewone mense aangeraak mag word nie. Toe Ussa (2 Samuel 6:7) die Ark van die Verbond aanraak, het by gesterf. So ook Nadab en Abihu (Levitikus 10:1-2) wat ongeoorloofde vuur hanteer het. Verskeie voorwerpe in die Tabernakel en in die latere Tempel – veral in die heilige en Allerheiligste gedeeltes was verbode vir gewone mense.

Onder hierdie voorwerpe was die Verbondsark in die Allerheiligste seker die belangrikste. Dit word in Eksodus 25:10-22 beskryf. Dit was ‘n kis wat byna een en ‘n kwart meter lank was, en net oor ‘n half meter hoog en breed. Die twee kliptafels met die Tien Gebooie was daarin gebêre (Eksodus 25:16, Deuteronomium 10:1-5). Volgens Hebreërs 9:4 was daar in die ark ook ‘n houer met manna en die staf van Aäron wat gebot het, maar volgens 1 Konings 8:9 en 2 Kronieke 5:10 was net die twee kliptafels in die ark. Moontlik was die manna en die staf aanvanklik voor of langs die ark geplaas, en later daarbinne, of die skrywer van Hebreërs wat soveel eeue later geleef het, praat van die voorwerpe globaal in terme van hulle lokaliteit. Die belangrikste deel van die ark was die goue deksel, genoem die versoendeksel omdat daar die sondes van die volk versoen is (Levitikus 16:11-17). Twee gestaltes van engele, wat as gerubs bekend gestaan het, het op die kante van die deksel gesit en was simbool van God se teenwoordigheid (Psalm 99:1).

In-die heilige deel van die Tabernakel en die latere Tempel was ‘n goue tafel, ‘n lamp en ‘n altaar. Die tafel was sowat ‘n meter by ‘n halwe meter. Twaalf -brode in twee rye van ses is daarop geplaas en elke Sabbatdag vervang (Levitikus 24:5-8, 1 Samuel 21:6). Die term “toonbrode” of “gewyde brode” of “offerbrode” (1 Samuel 21=6) beteken letterlik `brood van die aangesig of “brood van die teenwoordigheid” omdat dit simbool was van God se teenwoordigheid. As die brode omgeruil word, het die priesters dit geëet (Levitikus 24:9).

Die lamp was ook van goud en het naas die hoofstam ses arms gehad, drie aan elke kant (Eksodus 25:31-40) met sewe lampies aan die punte van die hoofstam en arms – simbool van die lig van God se heerlikheid.

Tussen die tafel met die brode en die lamp het die goue altaar gestaan – ‘n half meter vierkant en een meter hoog (Eksodus 30:1-10). Op die altaar is wierook gebrand (Eksodus 30:34-38) wat as besonder heilig beskou is.

Ander heilige voorwerpe was die skouerkleed van die hoëpriester met die urim en tummim daarin (Eksodus 28:30) wat gedien het om God se wil te bepaal (sien p. 274 hierbo). Verder het die Jode ook ‘n baie klein kissie as heilige voorwerp op die voorkop vasgemaak of om die arm (Deuteronomium 6:8). In die kissie is die woorde (geskryf op ‘n klein strokie) uit Deuteronomium 6:4-5 geplaas. Die woorde het herinner dat daar net een God is en dat Hy met alle mag gedien moet word. In Matteus 23:5 word van die gebedsband (“gedenkseëls” in die Ou Vertaling) gepraat wat na hierdie kissie verwys en vandag nog dikwels by geleentheid deur Jode gedra word. Soms bestaan die een om die arm uit ‘n lang band met die woorde daarop. Hierdie kissies is ook by die deurposte en stadspoorte aangebring (Deuteronomium 6:9).

 

Griekse en Romeinse godsdienste

Deur die lang geskiedenis van die Jode het hulle nie juis enige invloed van die Griekse en Romeinse godsdienste ondergaan nie. Slegs enkele groepe het tot ‘n mate aan so ‘n beïnvloeding meegedoen uit eie gewin soos die Sadduseërs wat graag in veral die Romeine se goeie boeke wou bly. Tog was dit min en oppervlakkig, want die Jode het altyd hulle godsdiens as hulle identiteit gesien.

In die Nuwe Testamentiese tyd het die Romeinse godsdiens, wat heelwat van die Grieke oorgeneem het, tot ‘n groot mate net ‘n uiterlike skyn gehad wat veral in spele, feesmale en kunsuitinge na vore gekom het as eerbetoning aan een of ander god.

Die Jode se felle verset teen hulle oorheersers deur baie eeue van hulle geskiedenis heen het in hoofsaak in hulle godsdiens gele. Vreemde gode en gebruike was vir die Jode altyd ‘n gruwel.

Skrywer:  Prof JP Louw

image_pdfimage_print

You may also like...