Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Godsdiens(4) – JP Louw

image_pdfimage_print

Die Egiptiese godsdiens

Ons gegewens oor die invloed van die Egiptiese godedom op Israel is baie min en daaruit lyk dit of daar weinig oorname van Egiptiese gebruike deur die Jode was. Tog kon dit misleidend wees aangesien die Jode geslagte lank (430 jaar volgens Eksodus 12:40-41) in Egipte gewoon het voor die Uittog en Josef volgens Genesis 41:50 met Asenat, die dogter van ‘n priester van die Egiptiese god On, getroud was. Josef het twee seuns by Asenat gehad, Manasse en Efraim, wat deur sy vader Jakob in Genesis 48:5-6 sonder meer as deel van die volk Israel aanvaar is. Hoeveel ons hieruit kan aflei is nie seker nie, maar die hele geskiedenis van Israel in Egipte gee nie blyke van vermenging met Egipte nie. Daar is in die Bybelse geskrifte, anders as oor die Assiriese, Babiloniese en Kanaänitiese gode, geen vermelding van die Egiptiese Re, die songod nie. Ook nie van Yeb, die aarde, of Thoth, die maan nie. Hapi, die Nyl, en Amon, die god van krag, word nêrens genoem nie.

Die Egiptiese godebeelde is as lewende wesens beskou. In die groot tempels waar hulle gehuisves was en waar die gewone mens nie toegelaat was nie, het die priesters hulle gewas, geklee en voedsel gegee en hulle net op feesdae na buite gebring. Dit kon moontlik gemaak het dat die Jode wat apart in Egipte in die landstreek Gosen (Genesis 45:10, 28-34) gewoon het feitlik geen kontak met die Egiptiese godsdiens gehad het nie. Tog is Josef gebalsem en as ‘n mummie in ‘n kis gesit (Genesis 50:26).

 

Die Kanaänitiese godsdienste

In die lig van die voorgaande is dit opmerklik dat toe die Jode hul eers in Kanaän gevestig het, dit ‘n heel ander prentjie opgelewer het. In Kanaän was hulle baie aangetrokke tot die heidense gode en het hulle, soos reeds i v m Salomo hierbo gesê is, baie ander gode van tyd tot tyd begin dien wat die volk telkens onder God se oordele gebring het. Miskien was een van die aantreklikhede van die Kanaänitiese gode vir Israel die feit dat in die droë klimaat die meeste gode met die landbou te doen gehad het. Onder hierdie gode was Baäl seker die belangrikste. Hy is meestal met storms, fonteine en waterstrome verbind.

Toe Israel in Kanaän aangekom het, het hulle op verskillende plekke Baäls aangetref, want die woord Baäl, wat moontlik “beer” of “besitter” beteken, het, is toegepas op baie lokale gode. In Numeri 25:5 word Baäl-Peor genoem, d w s die heer of besitter van die berg Peor (Numeri 23:28). In Rigters 3:3 lees ons van die Baäl-Hermonberg, en in 8:33 van Baäl-Berit, in Josua 11:17 is Baäl-Gad ‘n pleknaam waar daar baie water was en van oudsher af ‘n plek van aanbidding was. In Hooglied 8:11 word nog ‘n plek, Baäl-Hamon, genoem en in 2 Samuel 13:23 lees ons van ‘n ander plek met die naam Baäl-Gasor. In al hierdie plekke was daar waarskynlik heiligdomme vir Baäl. Of anders gestel: iedere Baäl het waarskynlik sy eie plek van aanbidding gehad. Die naam Baäl is ‘n soort van versamelnaam vir gode. So lees ons in Rigters 2:11 dat die Israeliete die Baäls (meervoud) gedien het, d w s die gode (van die areas). In Rigters 3:7 word die Baäls saam genoem met die gewyde pale wat aanbid is. Dan weer vind ons dat die naam dikwels in die enkelvoud voorkom soos hierbo aangetoon in die name, en soos ook blyk uit Rigters 6:25 en verder, waar net van Baäl se altaar gepraat word. So ook in 2 Konings 3:2, 10:18, en op baie ander plekke. Die Baäldiens was seker die mees algemene afgodsdiens onder Israel. Agab het selfs in Samaria (1 Konings 16:32) ‘n tempel vir Baäl gebou en in 2 Konings 10:18-27 word baie Baälpriesters deur Jehu gedood. In die tekste wat by Ras Sjamra aan die kus van Sirië teenoor Siprus gevind is, word Dagon, die god van die Filistyne (Rigters 16:23, 1 Samuel 5:2-7), die vader van Baäl genoem. Die Baäldiens het lank geduur. Nieteenstaande felle optrede kry ons byna regdeur die Ou Testament met Baäl te doen.

‘n Ander god wat net soos Baal met die vrugbaarheid van die natuur geassosieer is, was Tammus, ‘n Babiloniese god wat ook soos Baäl verbind is met die somer en winter en die koms van die reën. In Esegiël 8:14 sit die vrouens en huil oor Tammus – ‘n rite wat veronderstel was om die god te help om die reën terug te bring.

Baie van die Kanaänitiese gode was, soos reeds gesê, met die vrugbaarheid van die natuur verbind en so het daar om hulle diens ook baie prostitusie in die tempels, veral die Baältempels, plaasgevind. Die pale waarvan hierbo ook reeds melding gemaak is en die klippilare wat vir Baäl opgerig is, het ook gedien as tekens van manlike seksualiteit.

Die Kanaäniete het geglo dat die gode omgepraat kon word deur rituele, selfs so erg as kinderofferandes. Altare en tempels is meestal op hoë plekke gebou – die hoogtes waarop geoffer is (2 Konings 16:4, Hosea 4:13) – omdat dit dan makliker is om die gode te bereik of vir die gode om af te kom.

In die tyd van Elia hoor ons sy klaagtoon in 1 Konings 19:10 as hy sê dat God se volk sy verbond verbreek en sy profete doodgemaak het en dat Elia alleen oorgebly het. Die aantrekkingskrag van die Kanaänitiese gode moet gesien word in die feit dat toe Israel as swerwende nomades in Kanaän aangekom het, die hoër Kanaänitiese kultuur hulle maklik verlei het. Die Israeliete het toe ook met die landbou kennis gemaak en geleer hoe om die grond te bewerk. Die Kanaäniete het “geweet” hoe om die aarde te laat uitspruit en in die leerproses het Israel baie Kanaänitiese praktyke oorgeneem.

Skrywer:  JP Louw

 

image_pdfimage_print

You may also like...