Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Godsdiens(7) – JP Louw
Naas die verskillende heilige plekke het die tabernakel ontwikkel as die besondere plek van God se openbaring aan die volk. Gedurende die uittog uit Egipte was hierdie tabernakel eintlik ‘n tent-tempel wat saam met die volk getrek het en oral opgeslaan is vir godsdiensverrigtinge. Die Tabernakel word dan ook “die tent van ontmoeting”, of in die Ou Vertaling “die tent van samekoms”, (Eksodus 27:21) genoem, of ook “die tent van getuienis” (Eksodus 38:21, Handelinge 7:44), of ook “verbondstent” (Hebreers 8:5).
Die sentrale heiligdom van die tabernakel was ‘n konstruksie van planke en pale wat met balke verbind was en met swaar silwervoetstukke regop gehou is om sodoende ‘n groot vierkantige konstruksie te vorm wat ongeveer 15 meter lank en 7 meter breed was. Aan die een smal kant, wat oos moet wys, was die ingang wat met gordyne afgesluit was. Die dak is gemaak van gordyne met borduurwerk en oorgetrek met sak en vel. In Eksodus 26:1- 27:21 word ‘n volledige beskrywing met allerhande detail gegee oor die bou en toerus van die tabernakel. Binne in hierdie konstruksie is die langwerpige vorm verdeel deur ‘n vierkant van gelyke lengte af te merk en met ‘n gordyn af te sluit om so die Heilige der Heilige plek, ook genoem die Allerheiligste plek, van die Tabernakel te wees waar die ark van die verbond (Eksodus 25:10-22) gestaan het. Die oorgeblewe gedeelte vorm dan die Heilige plek waar die reukaltaar (Eksodus 30:1-10), die goue lamp of kandelaar (Eksodus 25:31-40) en die tafel met die toonbrode was (Eksodus 25:23-30).
Buite voor die behangde konstruksie was die waskom van brons gemaak waar die hande en voete van die priester gewas is (Eksodus 30:17-21) asook ‘n altaar vir die offerandes (Eksodus 27:1-8). Die hele groep is as’t ware omheim met ‘n muur van gespande doek om so die hele kompleks of to sluit. Hierdie deel was 50 meter lank en 25 meter breed.
Die hele area was as gewyde plek eerbiedig met besondere eer aan die tabernakel self.
Toe die Israeliete hul in Kanaän gevestig het, is die tabernakel in Silo opgeslaan (Josua 18:1). Daar het dit ‘n min of meer permanente staanplek gekry en is dit ook mettertyd die huis van die Here (1 Samuel 1:7) of selfs die tempel (1 Samuel 1:9) genoem. Uit 1 Samuel 3:2-3, 15 blyk dat Samuel en Eli albei hulle slaapplekke in die tabernakel gehad het. Miskien was die hele kompleks teen die tyd al meer uitgebrei.
Toe die Israeliete en die Filistyne op ‘n keer in oorlog was, is die ark van die Here, die verbondsark, uit die tabernakel in Silo na die gevegsterrein geneem. Die Filistyne het die Israeliete verslaan en die ark weggeneem, maar dit later teruggestuur (1 Samuel 4:6). Dit is toe in Kirjat Jearim gehou (1 Samuel 7:2 wat in 2 Samuel 6:2 Baäla genoem word, ‘n ander naam vir Kirjat-Baäl of Kirjat- Jearim) totdat Dawid dit na Jerusalem gebring het en in ‘n tent geplaas het wat by daarvoor opgeslaan het. (2 Samuel 6:17). Toe Salomo die permanente tempel gebou het, is die ark weer in die Allerheiligste deel van die tempel geplaas (1 Konings 8:1-9). Die ark is, nadat dit deur die Filistyne afgeneem is, nie weer in die tabernakel to Silo geplaas nie omdat Silo kort daarna verwoes is. Miskien is die tabernakel ook saam verwoes. Later in Nob (1 Samuel 21:1-9) vind ons weer ‘n tempel of tabernakel. Die tent waarin Dawid die ark in Jerusalem geplaas het, kan ook tot ‘n tabernakel ontwikkel het as ons 1 Konings 8:4 so wil verstaan.
Skrywer: Prof JP Louw