Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Landbou(3) – Hennie Stander
Graangewasse
Die twee belangrikste graansoorte was koring en gars, maar sorghum en spelt is ook verbou (Eksodus 9:32; Esegiël 4:9). Koring het in die Filistynse kusvlaktes, naamlik die Jordaanvallei en die Jisreëlvallei, gegroei. Gars kon in armer grond verbou word en dit het ook ‘n korter groeiseisoen nodig gehad, maar ‘n oes daarvan was nie soveel werd as ‘n koringoes nie.
Die siklus van graanproduksie het begin wanneer die vroeë reëns in Oktober/November gekom het en dit die grond genoegsaam sag gemaak het sodat dit bewerk kon word. Die reën het daarna met tussenposes geval en dit was veral swaar in die winter. Joël praat van die “vroeë reën” en die “laat reën” (Joel 2:23). As dit nie reën nie, bak die son die grond hard en dan kon boere nie die ploeg gebruik nie (Jeremia 14:4). Dit was harde werk om te ploeg veral omrede die winterreëns swaar en koud was, en hulle wat van die ploeëry weggeskram het, moes derhalwe geen oes verwag het nie (Spreuke 20:4).
Ploeëry
Daar is dikwels gelyktydig gesaai en geploeg. Die graan is uit ‘n oop mandjie geneem en dan rondgestrooi. Die saad in die mandjie is dan weer aangevul uit ‘n sak wat op die rug van ‘n donkie vasgemaak was. Die saad het nie altyd eweredig verspreid geval nie en baie saad het ook verlore gegaan omdat dit op verkeerde plekke geval het. Jesus se verhaal oor die saaier is juis rondom hierdie feite gebou (Matteus 13:3-23). Vervolgens is die saad in die grond ingeploeg sodat die voels dit nie kon oppik nie (vgl Matteus 13:4). Die Babiloniërs en die Assiriërs het egter ‘n soort saaimasjien ontwerp wat baie meer spaarsamig met saad gewerk het. Dit het bestaan uit ‘n saadtregter wat aan ‘n ploeg vasgemaak is.
‘n Ander metode van ploeg en saai was om eers die grond te ploeg en daarna die saad te saai. Dit het dan meegebring dat daar vir ‘n tweede keer geploeg moes word reghoekig met die eerste vore, ten einde die saad te bedek. ‘n Alternatiewe metode om die saad te bedek (en die grond te “eg”), was om ‘n groot bos agter ‘n span osse aan to sleep.
Gewoonlik is beeste vir die ploegwerk gebruik en wanneer ‘n bul gebruik is, is dit gekastreer. Die Wet het egter verbied dat ‘n mens ‘n bees en ‘n donkie saam voor ‘n ploeg inspan (Deuteronomium 22:10), waarskynlik omdat daar dan oneweredig getrek sou word en dit sou die swakker dier laat swaarkry. Die voorskrif in 2 Korintiërs 6:14 wat enige vennootskap tussen gelowiges en ongelowiges verbied het (“Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie”) was nie bloot ter wille van eksklusiwiteit nie. Die eintlike rede was omdat God geweet het watter swaarkry dit vir die gelowige kan veroorsaak.
Die ploeë kon egter nooit diep ploeg nie en dit het bloot die oppervlakte van die grond gekrap tot nie dieper as 7-10 cm nie. Die rede waarom die man wat ploeg nie agtertoe moes kyk nie (Lukas 9:62), was nie omdat by dan nie reguit kon ploeg nie. Die rede was bloot dat hy al sy aandag aan sy werk moes gee deur die ploeg deurentyd hard of te druk om sodoende diep te kon ploeg. Voorts moes by ook baie oplettend wees en moes by voortdurend op die uitkyk vir klippe en rotse wees, aangesien dit sy ligte werktuig kon beskadig. Omdat sy ploeg so lig was, kon hy dit egter maklik oor ‘n hindernis lig.
Die grootte land wat ‘n span beeste op een dag kon ploeg het later ‘n standaard meeteenheid geword (1 Samuel 14:14). Daar is egter dikwels in groepsverband geploeg. So lees ons onder andere dat Elisa saam met elf ander mense besig was om te ploeg met 12 paar osse toe Elia horn vir die profetiese bediening geroep het (1 Konings 19:19).
‘n Bedoeienboer gebruik ‘n donkie om sy ploeg te trek
Skrywer: Prof Hennie Stander