Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Vakmanne en Bedrywe(3)- Hennie Stander
Die versiering van potte
Nadat die bakke en kruike op die wiel gemaak is, is dit eenkant gesit om te verhard. Wanneer dit droog geword het, kon enige verlangde versiering daarop aangebring word. Daar was verskillende metodes waarvolgens dit versier kon word. Sommige potte is versier deur die oppervlakte daarvan met ‘n harde voorwerp te krap. Soms is dit ook gedoen deur voorwerpe soos gevlegte tou in die klei van die artikel te druk voordat dit nog die werkbank van die pottebakker verlaat het. Ander potte is weer versier deur gekleurde klei aan die buitekant van die pot aan te sit, hetsy in stroke of volgens een of ander patroon. Gewoonlik is swart of rooi klei hiervoor gebruik. Nog ‘n metode was om die potte te poleer. Die pot is bloot op die werktafel teruggeplaas en terwyl dit in die rondte gedraai is, is ‘n stukkie been, metaal of erdewerk teen die oppervlakte daarvan gehou om dit blink te maak. Dit het baie meer prominent vertoon nadat die pot gebak is. (In ander lande is glasure ontwikkel wat van vloeibare glas gemaak is. Hiervoor is soda, lood, tin, koper en silwer benodig, maar dit is nie deur die Jode ontwikkel nie.)
Enige van bogenoemde metodes van versiering kon ook gekombineer word. Wat die vorm en die versiering van die potte betref, was daar baie variasies moontlik. Om die waarheid te sê, dit is onder andere juis die vorm en die versiering van potte wat ons vandag in staat stel om te kan bepaal wanneer dit gemaak is. Hierdie metode word ook deur argeoloë gebruik om te bepaal wanneer ‘n sekere gebou vernietig is, deur byvoorbeeld te kyk watter soort styl van pottebakkery wel in die ruïnes gevind kan word en watter nie.
Versierde Potte uit Hasor
Die Kanaänitiese pottebakkerswerk wat die Joodse besetting voorafgegaan het, was meer gerond en het geverfde dekorasies op gehad. Na die vestiging van die Israeliete was die vorme egter baie meer hoekig en polering het gekom in die plek van die geverfde ontwerpe. Na die vernietiging van die tempel in Jerusalem deur Nebukadnesar, het die pottebakkerswerk baie swak geword, met weinig afwisseling van vorm en geen versiering nie. Moontlik kan die verklaring hiervoor in Jeremia 52:15-16 gevind word: “Party van die armste mense, en verder die mense wat in die stad oor was, … en die ambagsmanne wat oor was, is gevange
weggevoer deur Nebusaradan, die hoof van die lyfwag. Party van die armste mense van die land het by laat agterbly om die wingerde en die lande te bewerk”. Sedert Aleksander die Grote hierdie gebied verower het, het die erdewerk meer die Griekse patroon nagevolg: kruike het lang nekke gehad en houers is omrand sodat deksels en proppe daarop kon-pas.
Olielampie uit Judea
Benewens die wiel of skyf, het die pottebakkers ook van hout persvorms gebruik gemaak waarin hulle die klei vasgedruk het (vg1 Job 38:14). Die twee helftes van olielampe is in sulke vorms gemaak voordat hulle aan mekaar vasgeheg is. Verder was dit ook moontlik om die klei met jou kaal hande te vorm. Speelgoed, beeldjies en versiersels is op hierdie wyse gemaak, soos ook die groot klei-oonde wat vir huishoudelike gebruik gemaak is. Pottebakkers het ook stukkende erdewerk heel gemaak. Hulle het draad en klinknaels gebruik om die twee dele bymekaar te hou en die las is dan met nat klei geseël.