Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Vakmanne en Bedrywe(8)- Hennie Stander
Wewery
Die weefkuns het regdeur die Ou Testament ontwikkeling ondergaan. Aanvanklik is ‘n horisontale weeftoestel gebruik wat op die grond vasgemaak is. Later is ‘n vertikale weeftoestel ontwikkel, alhoewel daar tye en plekke was waar beide soorte tegelykertyd gebruik is. Die horisontale weefraam is met penne op die grond vasgeslaan. Die lang skeringdrade, wat oor die lengte van die weefraam geloop het, was net so lank as wat die verlangde stuk materiaal moes wees. Die (spin)drade, wat om die spinsel gedraai was, is onder deur al om die ander skeringdraad gesteek. Om hierdie proses to vergemaklik, is ‘n plat stukkie hout gebruik wat reeds onder deur al om die ander skeringdrade gesteek was. Wanneer hierdie plat stukkie hout op sy kant gedraai is, het dit die skeringdrade van mekaar geskei en genoeg plek gemaak vir die inslagdraad om met ‘n stokkie na die ander kant toe deurgesteek te word. Wanneer die inslagdraad weer teruggetrek word, moes dit bo-oor en onderdeur die opeenvolgende skeringdrade getrek word.
‘n Bedoeienvrou spin wol wat later geweef moet word.
Later is dit besef dat indien dieselfde skeringdrade wat deur die plat stukkie hout afgedruk is, weer opgetrek kon word deur dit met lussies aan ‘n tweede plankie vas te maak, dit daartoe sou bydra dat die “terugreis” van die stokkie met die inslagdraad baie vinniger sou kon geskied. So is die stokkie met die wewerspoel vervang. Hierdie wewerspoel was reeds in gebruik in die tyd van Job (Job 7:6). Delila het Simson se sewe haarlokke in haar materiaal op die weefstoel vasgeweef (Rigters 16:13). Die “pen“ waarvan in hierdie vers gepraat word, is gebruik om die inslagdrade na die kant van die raam toe te slaan sodat die drade dig en kompak kon word.
Die probleem met die horisontale weefstoel was dat die wydte van die materiaal beperk was tot die armlengte van die wewer omdat die wewer by die weefstoel gehurk of gesit het. Die uitvinding van die regop weeftoestel het dit vir ‘n wewer moontlik gemaak om veel wyer materiaal te maak omdat die wewer heen en weer aan die voorkant van die materiaal kon verbyloop. In sulke gevalle is ‘n baie groot en swaar houtraamwerk gebou (vgl 1 Samuel 17:7) byna soos ‘n vierkantige ingang. Die skeringdrade het aan die dwarsbalk gehang en ‘n hele klomp klippe of kleiballe met gaatjies deur (d. w. s. weefgewigte) is aan die vertikale skeringdrade gehang (sien die foto). Die materiaal is dan van bo na onder gemaak, en die pen is gebruik om al die inslagdrade teen die bokant van die wewersraam vas te stamp.
‘n Vrou is besig om op ‘n regop weeftoestel te weef. Kyk hoe hang die weefgewiggies aan die skering
In ‘n latere ontwikkeling van die weefstoel is die gewiggies onderaan die skeringdrade met ‘n rolstok vervang waarop die reeds voltooide materiaal kon oprol. Die wewery is toe van onder na bo gedoen. Hierdie weefstoele kon egter nie gebruik word om stowwe met ingewikkelde gekleurde patrone te maak nie. Moontlik is die “bont” en “veelkleurige” stowwe waarvan die Bybel praat (vgl Rigters 5:30; Esegiel 26:16) gemaak deur stukke materiaal van verskillende kleure aanmekaar vas te werk. Die materiaal se grootte kon egter op die weefstoel verander word deur bloot die aantal skeringdrade te verminder of te vermeerder.
Skrywer: Prof Hennie Stander