Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Vakmanne en Bedrywe(9)- Hennie Stander
Klipmesselaars
Klipkappers en klipmesselaars het nou saam met skrynwerkers gewerk in die boubedryf. Hierdie was egter nog ‘n vaardigheid wat deur die Jode aangeleer moes word. Die Jode het die groot en goed versterkte stede van die Kanaäniete (Numeri 13:28) vernietig, en hulle het nie geleer hoe om dit weer te herbou nie, totdat hulle op ‘n later stadium deur die Fenisiërs gehelp is. Die Israeliete het dikwels van buitelanders gebruik gemaak om hierdie taak te vervul. In die Ou Testament word daar ook gepraat van parskuipe wat uit klip gekap is (Jesaja 5:2), grafte wat in soliede rots uitgekap is (Jesaja 22:16) en verder is klippe ook vir verskeie ander konstruksies gebruik (vgl Eksodus 20:25). Wat die boubedryf betref, het die klipmesselaars se taak reeds met die lê van die fondasies begin. ‘n Voor is gemaak en met klip en kalksteen gevul (1 Konings 5:17; vgl Lukas 6:48) waarna dit toegelaat is om vas te sak.
Klipmesselaars besig om te werk in Jerusalem
‘n Baie groot klip is gebruik om die hoeksteen van die gebou te vorm. Dit het vastigheid en stabiliteit aan die hele gebou gegee. Daar is al in die Tempelarea in Jerusalem so ‘n massiewe klip ontdek wat byna twaalf meter lank was. Dit het daartoe aanleiding gegee dat die woord vir “hoeksteen” dikwels metafories gebruik is vir “hoofde” of “leiers” (Rigters 20:2; 1 Samuel 14:38; vgl Psalm 118:22).
Vervolgens is die mure op die fondasies gebou. Opgrawings toon egter dat die meeste van hierdie mure met ru ongekapte klippe gebou is. Die openinge by die laste is met kleiner klippies gevul. Slegs in die era van Salomo en Agab is die klippe gekap en later is daar weer teruggekeer na ruklip. Na die terugkeer uit die ballingskap het huise van gekapte klip weer begin verskyn. In gevalle van huise wat met gekapte klip gebou is, is die klippe in die steengroef gekap. Die kalksteen was altyd sagter as dit ondergronds, soos byvoorbeeld in ‘n tonnel, gekap is omdat dit hard geword het sodra dit met lug in aanraking gekom het. Die algemene praktyk was dus om reeds in die steengroef die klippe min of meer volgens hul regte grootte to kap. Op die bouperseel is die laaste klein veranderinkies aan die klippe aangebring. Toe Salomo se tempel gebou is, is die klipblokke heeltemal afgewerk in die steengroef omdat ‘n fyner afwerking daar aan hulle gegee kon word aangesien die klip toe nog sag was (1 Konings 6:7). Die mure is haaks gebou met behulp van ‘n meetstok en ‘n skietlood. (Esegiël 40:30). Die meetstok het bestaan uit ‘n reguit riet wat omtrent sewe meter lank was. Die skietlood weer het bestaan uit ‘n omgekeerde kegel waaraan ‘n linnetou vasgemaak was. Aan die ander punt van die linnetou was ‘n stok met omtrent dieselfde deursnee as die deursnee van die kegel se basis. Wanneer die stok bo teen die kant van die muur gehou word, moes die kant van die kegel se basis die muur net-net raak indien die muur haaks was (vgl Amos 7:8). ‘n Lyn is gespan van die een hoek tot die ander hoek en ‘n laag klippe is gebou tot teen die lyn alvorens daar met die volgende laag begin is (vgl 2 Konings 21:13).
‘n Deel van die massiewe klipwerk rondom die Koepel van die Rots. Die groot klippe wat die onderste deel van die muur vorm kom uit Herodes se tyd.
Natuurlik is ook nie alle huise met klip gebou nie. Amos het kliphuise as ‘n luukse beskou wat slegs moontlik gemaak is omdat die armes uitgebuit is (Amos 5:11). Dit was veral openbare plekke soos die Tempel, die stadsmure en die voorraadstede soos Megiddo wat gewoonlik van klip gebou is. Fenisiese bouers het waarskynlik met al hierdie projekte gehelp. ‘n Mens kan dit duidelik sien in, die kwaliteit van die geboue.
Daar is selfs van stryklae en koplae gebruik gemaak om die mure te versterk (d.w.s. sommige stene is in die lengte in die muur ingemessel terwyl ander stene weer in die dwarste in die muur ingemessel is). Die klipkappers het die klippe dikwels so akkuraat gekap dat daar feitlik geen opening tussen die klippe was nie en dit het baie keer nie eens pleister benodig nie. Die klipmesselaars het selfs daarin geslaag om vensters in hierdie klipmure in te bou (Jeremia 22:14).
Die meeste huise is egter van modderstene gebou. Hierdie modderstene is gemaak deur modder en strooi in houtgietvorms te gooi, en dit is dan gelos om in die son hard te word. Modder is dus as messelklei en pleister gebruik vir sowel die buitekant as die binnekant van die mure. Ander huise wat meer “rof” was, is gebou van ‘n mengsel van klippe en modder. Maar die klipmesselaars was ook betrokke in die bou van silo’s, putte, klipbakke, openbare geboue, gewelwe, paaie en akwadukte (die laaste drie eers in die Romeinse tye). Met die ontwikkeling van die gewelf of boog, was daar ‘n sleutelsteen met ‘n eienaardige vorm wat die boog of gewelf bymekaar gehou het. Dit is die dekklip genoem en dit was ‘n baie belangrike klip in die konstruksie van die gebou. Die Griekse woord wat in Efesiërs 2:20 gebruik word as ‘n verwysing na Christus, kan met “hoeksteen” of “dekklip” vertaal word. Sommige geleerdes meen dat laasgenoemde vertaling hier verkies moet word. Ander geleerdes wys weer daarop dat daar in dieselfde vers van bouwerk op die fondament gepraat word en dus sou “hoeksteen” die meer waarskynlike interpretasie wees. Dit lyk verder meer waarskynlik dat Paulus sou verwys na ‘n klip wat in die Tempel gevind kon word (d.w.s. ‘n “hoeksteen”) as na die dekklip wat op ‘n gewelf of op ‘n spits dak voorkom. In ieder geval, die algemene betekenis is duidelik: Christus is die heel belangrikste klip in die struktuur!
Skrywer: Prof Hennie Stander