Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Familie(7)

image_pdfimage_print

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Familie(7) – Hennie Stander

Begrafnis

Die begrafnis moes gou na die sterfte plaasvind, moontlik nog dieselfde dag, aangesien die warm klimaat veroorsaak het dat die lyke vinnig ontbind het. Nogtans het so ‘n begrafnis nooit op ‘n Sabbatdag of ‘n ander heilige dag plaasgevind nie. Soms het die naasbestaandes die liggaam omhels en gesoen (Genesis 50:1). Die liggaam is gewoonlik gewas, en daarna in ‘n linnekleed toegedraai.

Die oë van die gestorwene is toegedruk sodat dit gelyk het of hy geslaap het (Genesis 46:4). In Israel is die lyke nooit gebalsem nie. Ons lees wel dat Jakob en Josef se lyke gebalsem is, maar dit moet toegeskryf word aan die gebruike wat in Egipte aan die orde van die dag was (Genesis 50:2-3,26). Dit was ook net in Egipte dat lyke in ‘n kis geplaas is (Genesis 50:26). Lyke is gewoonlik op ‘n lykbaar na die graf gedra (2 Samuel 3:31; Lukas 7:14).

Dit is as ‘n skande en ‘n straf beskou indien die lyke onbegrawe gelaat is (sien 1 Konings 21:23-24; Jeremia 22:19). Verdere is verassing of die verbranding van die liggaam by Israelslegs vir misdadigers gereserveer en vir diegene wat afskuwelike sonde gedoen het (Genesis 38:24; Levitikus 20:14; 21:9). Verbranding was egter algemeen by baie ander volke van destyds. Maar dieselfde kan ook van begrafnisse gesê word. Die gestorwene is in ‘n natuurlike grot begraaf (Genesis 49:29-32) of in ‘n grafkamer wat in die kalksteenheuwels van Palestina uitgegraaf is. Josef van Arimatea het so ‘n graf in sy tuin uitgegraaf en Jesus is later daarin begraaf (Matteus 27:60). Die liggaam van die gestorwene is dan op ‘n lys, rak of nis in die rotswand neergelê. Soms het die grafte uit meer as een vertrek bestaan. Omdat daar nogtans net ‘n beperkte aantal grafte beskikbaar was, is die beendere van reeds ontbinde lyke verwyder en in ‘n kleipot of in ‘n klipkissie (ook ‘n ossuarium of knekelkis genoem) gegooi. Hierdie potte is in die hoek van die graf gebêre en die nis kon weer vir ander liggame gebruik word. Die bek van die graf is met ‘n ronde, plat klip verseël. Hierdie klip het soos ‘n wiel in ‘n groef gerol en dit was baie moeilik om so ‘n klip weer weg te rol as dit eers in sy posisie gelê het (Markus 16:3).

Die armes kon egter nie altyd sulke grafte bekostig nie. Hulle liggame is bloot in vlak grafte geplaas en is dan met klein klippies en grond bedek. Bo-op die graf is ‘n klip of gedenksteen geplaas om dit te merk (Genesis 35:20). Die grafte was gewoonlik buite die dorp of stad (Lukas 7:12). Slegs koninklikes is binne die stad se grense begraaf (1 Konings 2:10).

Maar met elke sterfte is daar ook agtergeblewenes. ‘n Vrou wat haar man aan die dood moes afstaan, was in ‘n baie moeilike posisie omdat sy dan daarmee haar finansiële ondersteuning verloor het. Sy het nie geërf nie, en as iemand nie vir haar gesorg het nie, sou sy haar tot bedelary moes wend. Jesus het die Fariseërs berispe omdat hulle selfs die huise van die weduwees ingepalm het (Markus 12:40). God het egter reg laat geskied aan die weduwee en die wees (Deuteronomium 10:18) en die Wet het ook vereis dat daar na hulle omgesien moes word (Deuteronomium 24:17-21). Die vroeë Christene het die weduwees se lot op hul hart gedra (Hand 6:1 ev) en Paulus het vereis dat weduwees deur hulle families onderhou moes word (1 Timoteus 5:3 ev). Jonger weduwees kon weer trou. Tamar het egter intussen na haar man se dood by haar vader gaan woon, maar Rut by haar skoonmoeder (Rut 1).

kis
Hierdie ossuarium, of knekelkis, is in Jerusalem gevind. Dit bevat die inskripsie: “Bene van die familie van Nikanor die Aleksandryn wat hekke gemaak het.

Skrywer: Prof Hennie Stander

image_pdfimage_print

You may also like...