Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Gasvryheid(3) – JP Louw
Verblyf
Behalwe verblyf in ‘n herberg het mense ook op ander maniere as reisiger verblyf gevind. Die normale manier was om eers by die stadspoort te bly en te wag totdat jy genooi word om in te kom -dikwels deur iemand wat aan jou verblyf gee (Genesis 19:1-2, 24:25 en 31, Rigters 19:4 en 15). Wanneer ‘n persoon ingenooi is om by ‘n huis te oornag, moet ons nie bloot dink aan ‘n aparte gastekamer nie. Gewoonlik het ‘n gas saam met ander lede van die familie ‘n slaapplek gedeel. Die huise was immers maar meestal een vertrek groot met soms ‘n dak waarop ook geslaap is (1 Samuel 9:26). In die geval van ‘n tent het die reisiger saam met die mans by die ingang van die tent geslaap. Die vroue het in die agterdeel van die tent geslaap.
In later tye toe sommige huise groter begin word het, was dit wel moontlik dat ‘n kamer vir gaste afgesonder is. Elisa se situasie (2 Konings 4:8-10) was uitsonderlik deurdat die familie vir horn ‘n spesiale vertrek op die dak gebou het as gastekamer.
Etes
Om kos te voorsien was ‘n belangrike deel van gasvryheid. In die eentonige en redelik arm lewe van destyds was saam eet ‘n feesgeleentheid wat bietjie vrolikheid gebring het. Selfs al kom ‘n gas teen middernag aan, moes daar eers kos voorgesit word (Lukas 11:5). ‘n Maaltyd was teken van vriendskap en vrede tussen mense (Genesis 26:26-30, Lukas 24:29). In Genesis 24:33 praat Abraham se slaaf eers die saak uit voordat hulle eet en in Genesis 31:51-54 nooi Jakob die mense om te eet na ‘n ooreenkoms. Na Jesus se opstanding verskyn Hy aan sy dissipels en eet saam met hulle (Johannes 21:10-13).
Godsdienstige feeste was groot sosiale geleenthede. By offerande is dele van die dier, veral die vet en ander dele, verbrand, maar groot dele is daarna deur die feesgangers geëet as teken van hulle deelname aan die feesmaal van die Here (Deuteronomium 12:6-7). Wanneer Israel as volk saamgekom het en groot getalle diere geoffer is, het dit nie beteken dat alles verbrand is nie. Die eet was deel van die offer.
Soos reeds terloops gesê, is gaste by ‘n ete ook met verskeie hoflikheidsgebare vereer. Meer moet hieroor gesê word. Wanneer die gas aankom was daar by die deur ‘n slaaf, of die gasheer self, wat die voete van die gaste gewas het. Die sandale wat algemeen, gedra is en die droë, stowwerige klimaat het die voete, wat soms ver oor grondpaaie geloop redelik vuil gemaak. As die voete gewas is, het die gas ook sommer beter gevoel (Genesis 18:4-5). Soms egter is net die water voorsien, en die gaste het self gewas (Genesis 19:2, 24:32). Die was van voete het ook deelgenootskap gesimboliseer. So het Jesus sy dissipels se voete gewas (Johannes 13:3-4).
By ‘n ete is veral ‘n bietjie reukolie op die gas se hoof gevryf om ‘n aangename reuk te gee, baie soos mense vandag ‘n blom aan iemand sou vassteek as eerbetoon. In die ou Afrikaanse vertaling van Psalm 23:5 lees ons “U maak my hoof vet met olie” wat na hierdie gebruik verwys, en omdat dit nie begryplik is vir mense van ons tyd nie het die nuwe vertaling dit weergegee met “U ontvang my soos ‘n eregas”.
Skrywer: Prof JP Louw