Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Oorlog(1) – JP Louw

Oorlog is altyd ‘n duur onderneming. Wanneer troepe uit hulle eie land gaan om oorlog te maak, word die mannekrag aansienlik verminder. Verder moet wapens, klere, kos, vervoer en alle ander onkostes van ‘n leër betaal word. Geen koning kan oorlog voer as daar nie voldoende ekonomiese hulp voorhande was nie. Eers in die tyd van Salomo kon Israel bekostig om ‘n leër in stand te hou, selfs met strydwaens en perde. Voor die tyd was oorlog­voering maar weinig meer as bendes wat oral opgetree het of ‘n monstering van stamme vir n bepaalde geveg. Dan is die weerbare manne opgeroep om te kom met wat hulle self kon voorsien. Wanneer die Jode aan ander volke onderhorig was, moes hulle belastings betaal vir die uitgawes van daardie regerings en so indirek ook vir hulle veldtogte. In die tye voor die koningskap moes elke man na homself omsien om vaardig en gereed te wees om te veg. Oorlog was dus grootliks selfbesker­ming en plundering. In Genesis 14:14-16 lees ons dat toe Abraham se neef Lot gevange geneem is, Abraham 318 manne bymekaar gemaak het. Hulle was almal slawe uit sy familiegeledere. Met hierdie bende het Abraham vir Lot bevry.

In die tyd van die Rigters was dit al effe beter. n Rigter van Israel kon al die weerbare manne ouer as twintig jaar oproep om te gaan veg. Toe Debora en Barak die Kanaäniete weerstaan het, het hulle manne opgeroep uit die stamme van Efraim, Benjamin, Sebulon, Issaskar, Ruben, Dan, Aser en Naftali (Rigters 5:14-18). Hierdie oproep was ‘n versoek en kon nie afgedwing word nie, want in Rigters 5:23 lees ons dat die manne van Meros nie wou deelneem nie. Dit is opvallend dat die stamme van Simeon en Juda nie toe ook opgeroep was nie.

Toe Saul koning was, het by volgens 1 Samuel 11:7 die stamme opgeroep deur te dreig met vergelding. Saul het twee osse geslag en in stukke gesny wat oral rondgestuur is om aan te toon wat met iemand se vee sou gebeur as by weier om saam op te trek om oorlog te maak. By hierdie geleentheid is Jabes in Gilead deur Nagas die Ammoniet beleer en Saul het opgetrek om Jabes te bevry.

Om saam op to trek was aan die anderkant nie net ‘n versoek met of sonder dreigement nie, want om jou mense te help beskerm, was ‘n godsdienstige plig. Daarom is van Meros in Rigters 5:23 gesê dat hulle vervloek is omdat hulle geweier het om vir die Here te veg. Die Joodse stamme het hulle oorlogvoering gesien as hulle reg deur God aan hulle verleen. In 1 Samuel 15:2 sê Samuel aan Saul dat die Here vir Amalek wil straf en dat dit hulle opdrag is om hom uit te delg. In 1 Samuel 17:26 word die Filistyne beskuldig dat hulle Israel tart en sodoende die lewende God verkleineer. Oorwin­ning in ‘n oorlog was destyds deur alle volke gesien as die bewys van die krag en vermoë van hulle gode.

jerigo

Jerigo-groen teen ‘n bruin woestynland

Die val van Jerigo, soos beskryf in Josua 6:1-5, word op voorskrif van die Here self uitgevoer. Die silwer en goud, asook ander metaal voorwerpe wat gebuit is, het na die huis van die Here gegaan wat in die tyd byna die funksie van ‘n reserwebank vervul het en so staat, godsdiens en oorlog in een pakket beskou het. Ook Ai is ingeneem op die woord van die Here (Josua 8:1). Verder is die banvloek waar­mee hele dorpies uitgewis is-man en muis-in die Ou Testament meestal beskryf as in opdrag van die Here. In Josua 10:9-11 stuur die Here ook hael om die vyand te tref sodat meer deur die hael as deur die manskappe self doodgemaak is.

 

Baie van die aanvalle is in die nag gedoen en gewoonlik by wyse van hinderlae om die vyand te verras. Oorlogvoering was meer ‘n tipe guerrillastryd as ‘n georganiseerde troepe-inval soos in moderne tye. Gedurig is nedersettings oor en weer geplunder. Selfbeskerming was ‘n groot taak en daar moes gedurig op die wag- en uitkykposte goed gelet word of daar gevaar aankom. Daarom was dorpe en stede sterk ommuur en op hoë veilige plekke gebou.

Skrywer:  Prof JP Louw