Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Oorlog(3) – JP Louw

Die voetsoldaat

Gedurende die tye toe Israel ‘n leër gehad het, was die voetsoldaat die kern. Die wapens van hierdie soldate het dan ook die belangrikste geword. Al is dit soms moeilik om die wapens uit hulle Hebreeuse name te identifiseer, kan ons tog in die breë iets daaroor sê. Soldate het beskermende klere gedra-dikwels van leer gemaak wat om die bene en arms asook om die lyf gedra is. Soms is ook ‘n helm gedra wat selfs die ore kon beskerm. Hierdie toerusting was meestal deur elke soldaat self voorsien en daar moet nie gedink word aan ‘n leërmagasyn waar alles gestoor was nie, hoewel skilde en spiese tog ook deur werkers gemaak was vir soldate se gebruik. Die slingervel en die pyl en boog was naas spiese en swaarde die vernaamste wapens. In 1 Samuel 17:38-40 lees ons dat Saul vir Dawid sy eie oorlogsklere aangetrek het: ‘n harnas, ‘n helm en swaard vasgegord. Maar dit was vir Dawid te swaar om mee te loop. Skilde het deur die eeue heen baie dieselfde gelyk. Meestal was hulle rond met vel oorgetrek en ‘n handvatsel aan die binnekant. ‘n Skild is gereeld met olie gesmeer sodat die leer nie kraak nie (2 Samuel 1:21).

‘n Kort swaard, wat eerder iets soos ‘n langerige mes of dolk was, was gewoonlik die basiese wapen van die voetsoldaat. Spiese is egter ook gebruik. Saul het na Dawid met sy spies gegooi (1 Samuel 18:11). Rehabeam het volgens 2 Kronieke 11:12 in die vestingstede wat by as militêre basisse ingerig het, skilde en spiese gestoor naas voorrade, kos, olie en wyn. Tog was die kort swaard of dolk meer algemeen en veral gebruik vir man tot man gevegte.

‘n Ander belangrike wapen van die voetsoldaat was die slingervel waarmee klippe met groot akkuraatheid gegooi is. In Rigters 20:16 word vertel van sewehonderd knap soldate, almal links, wat keer op keer ‘n haar met ‘n klip uit ‘n slingervel kon raakgooi. En in 2 Konings 3:25 lees ons dat Kir-Geres, ‘n Moabitiese stad, deur die Israeliete ingeneem is toe soldate met slingervelle die stad omsingel het.

Dan was daar ook boogskutters. Die pyle het soms metaalpunte gehad met vinne aan die kante sodat hulle nie maklik uit ‘n wond getrek kon word nie. Die boog was aanvanklik net ‘n geboë stok wat deur ‘n lyn so gespan is, maar in die tyd toe die Assiriërs ‘n mag was het hulle boë gemaak met gelamineerde hout en horings wat baie sterker span­krag gehad het en natuurlik so n pyl verder kon laat trek en dieper kon laat indring. Die pyl en boog het mettertyd die belangrikste wapen vir afstandgevegte geword. In 2 Samuel 11:20 verneem ons dat boogskut­ters van die stadsmure af die aanvallers wat te naby die muur kom, afgemaai het. Die Assiriërs het, om hierdie probleem te omseil, reuse skilde gemaak om hulle soldate te beskerm. Pyle, asook groot klippe, is soms met toestelle, wat dieselfde effek as ‘n boog gehad het, van stadsmure geskiet. In 2 Kronieke 26:15 lees ons dat “slim mense” vir koning Ussia toestelle ontwerp het om van die hoeke van sy forte pyle en klippe, te kon skiet.

Hoewel verskeie bylpunte opgegrawe is, het soldate byle eerder gebruik om hout te kap as om daarmee te veg. In die talle friese en muurskilderye van oorlogstonele kom byle nie as wapens voor nie-miskien omdat die kort swaard vir man tot man gevegte ‘n handiger wapen was.

Wapens

Verskeie metaalwapens uit die Bronstydperk-‘n kort swaard, spies- en bylpunte.

 

Strydwaens

Strydwaens het aanvanklik ontwikkel uit die behoefte om soldate, veral boogskutters, vinnig te laat beweeg met meer vryheid om te skiet as vanaf die rug van ‘n perd. n . Strydwa het ook meer beskerming gebied. Strydwaens was ‘n platvorm op ‘n as met wiele wat meestal aan die voorkant, waar een of twee perde getrek het, ‘n afskorting gehad het om die bene te beskerm. Meestal het twee soldate saam gery-een het die perd(e) beheer en die ander kon die boog vryelik hanteer.

Skrywer:  Prof JP Louw