Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Regering en Samelewing (1) – JP Louw

Regeringsvorme verskil van tyd tot tyd en van land tot land. In dieselfde land is dit ook aan verandering onderhewig. Dit mag n wisseling wees van demo­krasie na ‘n diktatorskap of andersom. Net soos vandag was dit ook die geval in Bybeltye. In Abraham se tyd het die patriargale familie die regering gevorm, in Moses se tyd was dit die groepering van stamme wat later tot ‘n koningskap onder Saul gelei het, met priester-konings in die tyd tussen die Ou en Nuwe Testament. Terselfder­tyd het Israel hom tussen ander groot magsgebiede bevind: ,Egipte, Assirië, Babilonië, Persië, Grieke­land, Rome. Om almal te behandel sal ons ver buite die doel van hierdie boek neem, maar kennis van veral twee wyses van regering is belangrik om die Bybel te verstaan-die tyd van die monargie, d. w. s. van die konings van Israel, en die tyd toe die Jode onder Romeinse heerskappy was.

 

Verdelinge in die maatskappy

In die tyd van die aartsvaders Abraham, Isak en Jakob was daar geen maatskaplike groepe nie. Almal was lid van n familie wat as ‘n nomadiese groep op sy eie gefunksioneer het. As van groepe in hierdie tyd gepraat moet word, sou dit bloot die familiegroepe kon wees, maar dan ook moet ont­hou word dat sodanige groepe nie saam ‘n groter eenheid gevorm het nie. Elk was ‘n groep op sy eie.

In ‘n familie het almal gedeel. Selfs slawe het ook gedeel. In Genesis 15:2-3 se Abraham dat sy slaaf Eliëser sy besittings sal erf as by kinderloos sterf. Selfs toe stamme begin vorm het, was dit moeilik om van politieke groepe te praat, want ‘n stam was maar net, ‘n uitgebreide familie wat in ‘n dorp gevestig het. In so ‘n samelewing het die oudstes regeer en besluite vir die hele groep geneem. Toe die koningskap later ontwikkel het, is die naam oudstes soms behou, maar het dit eerder die leiers aangedui as noodwendig ‘n letterlike groep van ou mense. Dikwels is hulle vorste of net amptenare genoem.

Ander maatskaplike groepe was die rykes en die armes. In die Ou Testament, veral in latere boeke, word dikwels gewaarsku teen verdrukking van die armes (Levitikus 19:13, Spreuke 22:22-23, Amos 2:6-7). Grond en besittings is van ander afgeneem weens skuld, of in oorlog. Mense is gewoonlik as slawe weggevoer as hulle dorpe oorwin is en so het daar mense met regte en ander sonder regte ont­staan (Esegiël 22:29). In Levitikus 4 word selfs verskillende voorskrifte gegee vir oortredings (vers 22) van gesagsdraers-en die gewone volk (vers 27). Hier het ons al die begin van ‘n klassevorming.

Dan was daar ook vreemdelinge-mense sonder grond wat gevlug het en verblyf by ander gekry het in ruil vir arbeid. In Levitikus 19:10 en 23:22 word gesê wat die armes en die vreemdelinge kon neem nadat geoes is. In Eksodus 22:21 word gewaarsku teen verdrukking van vreemdelinge. Levitikus 25:47-55 gee voorskrifte waaruit blyk dat vreem­delinge ook ryk kon word en slawe hulleself kon vrykoop.

Naas die vrye persone was daar verskeie soorte slawe. Persoonlike slawe was deel van ‘n familie. Dikwels is hulle gevange geneem tydens oorloë (Deuteronomium 21:10-11, Rigters 5:30, 2 Ko­nings 5:2, Joel 3:6). Soms is van jou eie mense, waar stamme teen mekaar geveg het, mense gebuit (2 Kronieke 28:8, 10-11). Slawehandel was in die vroegste tye reeds algemeen (Levitikus 25:44-45). Dan was daar ook staatslawe wat deur die vorste na afloop van ‘n oorlog weggevoer is vir werk (2.Samuel 12:31, 1 Konings 9:15-16, Esra 8:20). In Esegiël 44:7-8 word verwys na slawe wat vir tempeldiens gebruik is. Reeds Josua het hiermee begin om die Gibeoniete to red sodat hulle nie doodgemaak sou word nie (Josua 9:23, 26-27).

Skrywer:  Prof JP Louw