Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Reise(3) – JP Louw

Belasting, hitte en formaliteite

Tol het ook in die antieke wêreld bestaan. Vir sommige paaie, brûe of poorte moes tol betaal word-veral as goedere vervoer is. Dit was maar net nog ‘n manier om belasting in te vorder. Gelukkig was daar nie paspoorte en ander dokumente nodig om te reis nie.

In die droë woestynagtige klimaat van die Bybellande was die dae, veral in die somer, ondraaglik warm. Die opdrag aan Filippus in Handelinge 8:26 moes vir hom vreemd geklink het om op die middag na die pad tussen Jerusalem en Gasa te gaan. Op die middag het min mense gereis.

‘n Besondere gebruik in die antieke tyd was om mense op reis te groet as hulle by mekaar verbykom. Jesus sê aan sy dissipels in Lukas 10:4 om nie langs die pad met groetery tyd te verkwis nie. So ook het Elisa vir Gehasi gestuur (2 Konings 4:29) om gou te loop en nie langs die pad te groet nie. Dit was gebruik om mekaar uit te vra oor herkoms, die reis, families ens. Gelukkig was daar nie volop reisigers op ‘n pad nie want so ‘n groetery kon tyd neem.  .

 

Die donkie

Die versorging van die trek- en rydiere op ‘n reis het baie probleme ingehou. Voer was nie oral bekombaar nie en die veld was dikwels skraal sodat weiding tydrowend en skaars was. Reise kon nie maklik onderneem word in uitgestrekte gebiede nie. Die donkie was die mees gebruiklike pakdier en het goedere in sakke weerskante oor die rug gedra. Enigiets wat vervoer moes word, is op donkies gelaai (Genesis 42:25-28; 1 Samuel 16:20, 25:18). Alhoewel beeste die algemene dier was om mee te ploeg, is donkies tog ook gebruik. Deuteronomium 22:10 verbied egter dat donkies saam met beeste ingespan word. Donkies het ook meule en waterwiele getrek. Een tipe Arabiese donkie was ligvaal van kleur en word soms wit of bruin donkies genoem (Rigters 5:10 -sien ou en nuwe vertaling), en was baie kosbaar. As sodanig was hulle die besit van rykes. Die donkie is later deur muile en perde verdring en het ‘n meer nederige vervoermiddel geword. In 1 Samuel 25:23 ry Abigail, vrou van die ryke Nabal, op ‘n donkie wat die mees gebruiklike rydier was, maar later in Sagaria 9:9 word die donkie met nederigheid geassosieer.

 donkie

Die kameel

Kamele as rydier is sedert 3000 v.C. in Egipte bekend. In Genesis 12:16 lees ons reeds van donkies en kamele wat ‘n Egiptenaar aan Abraham gee. Vir die woestynagtige Bybellande was kamele ideale diere-veral vir lang afstande omdat hulle n hele paar dae sonder water kon hou. In Genesis 24:64 ry Rebekka op ‘n kameel, want die reis was lank. So ook in Genesis 31:17 pak Jakob ‘n lang reis met kamele aan. Kamele kan byna 5 km per uur loop en die pas die hele dag volhou. Ook kan kamele meer vrag dra as donkies. Op lang reise is kamele in troppe aangewend. Soms het die mense op die kamele self gery of donkies saamgeneem om op te ry, want ‘n kameel is nie juis gerieflik nie. Dit swaai baie been en weer. Kamele was waardevolle diere en ‘n kosbare besit, dikwels met behangsels versier (Rigters 8:21). Kamele het meestal strooi geëet of van die veld geleef. Hulle vleis is egter, net soos die van die donkie, nie deur Jode geëet nie, want beide was onrein diere. Hulle hare is wel gebruik om growwe klere mee te maak soos Johannes die Doper (Matteus 3:4) gedra het. Ook die vel is gebruik vir houers of vir klere. Die mees algemene kameel was die een met die enkelbog, ook bekend as dromedaris.

Skrywer:  Prof JP Louw