Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Reise(4) – JP Louw
Die muil
Muile is nie juis gebruik voor die tyd van Dawid nie. Levitikus 19:19 het kruisings tussen diere verbied. Tog is muile wel aangewend (2 Konings 5:17, 1 Kronieke 12:40, Jesaja 66:20)-miskien geteel deur nie Jode en aangekoop deur Jode. In Dawid se tyd was hulle moontlik nog skaars en dus besonders. 2 Samuel 13:29 meld muile as rydiere van die koningseuns. In 1 Konings 1:33, 44 ry Salomo op die koning se muil. In 2 Kronieke 9:24 word muile saam met perde as geskenke vir die koning gebring.
Die perd
Die perde in die Bybel was van die Arabiese tipe. Hulle is veral in oorlog gebruik, nie soseer as rydier self nie, maar meer dikwels om strydwaens te trek. In Deuteronomium 17:15-17 word die volk beveel om die koning nie toe te laat om baie perde aan te hou nie. Hulle moes nie op eie krag begin vertrou het nie. Die ander volke het strydwaens gehad (Josua 11:6, 9, Rigters 4:3). Dawid het egter ‘n klompie perde behou (2 Samuel 8:4). Salomo het die perd op groter skaal ingebring as trekdier. In 2 Kronieke 1:14 en 9:25 word vermeld dat Salomo ‘n mag van perde en strydwaens opgebou het. Teen die vertroue op perde en strydwaens word gewaarsku in Jesaja 31:1 en in Psalm 33:17-18.
‘n Strydwa was ‘n platvorm met twee wiele waarop twee persone kon staan, en van voor beskerm is met ‘n halfsirkelvormige wand, hoog genoeg om die onderhelfte van die lyf toe te maak. Die een persoon het die perde gedryf en die ander het die wapens hanteer. In later tye is byna soortgelyke rytuie vir blote vervoer gebruik met meer gerieflike sitplekke-en selfs groter eenhede as voorloper van die uiteindelike koets. In die Romeinse tyd was wedrenne met perdewaens baie gewild.
Die perd was in Bybelse tye simbool van krag. In Psalm 33:17 lees ons “Dit is nie waar dat die perd die oorwinning gee en dat sy groot krag redding bring nie:” Dan -gaan die digter voort en sê dat dit die Here is wat sorg vir die wat op Hom vertrou. Dieselfde gedagte vind ons ook in Psalm 147:10 waarin ons lees “die Here het niks aan die krag van die perd nie”-‘n uitdrukking wat –beteken dat vir die Here die krag van die perd, so hoog geroem deur die mens, nie ‘n faktor is nie.
‘n Hedendaagse Arabier ploeg met ‘n perd.
Ondanks die besondere waarde wat die perd in die antieke wêreld gehad het, moes veral die wadrywer nie te seker van sy saak gewees het nie, want waar die paaie nie baie goed was nie, kon die wa maklik vasval – veral as dit reën, en dan is selfs die perd se groot krag aan bande geld. Moontlik was dit een van die redes waarom Agab volgens 1 Konings 18:44 so angstig was om gou in te span en na Jisreël terug te keer voor dit begin reën het.
Skrywer: Prof JP Louw