Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Sosiale en Politieke Groepe(3) – JP Louw
Die Sadduseërs
Die Sadduseërs was opvolgers van die Helleniste. Die oorsprong van hulle naam is nie bekend nie. Dit is soms met Zadok, ‘n hoëpriester uit Dawid se tyd, verbind. Maar hierdie verklaring was moontlik ‘n poging om hulle afstamming as elite te bevestig eerder as om histories juis te wees. Hoewel hulle streng navolgers van die Wet van Moses was en net soos die Samaritane slegs die eerste vyf boeke van die Ou Testament as gesagvol beskou het, was hulle as merendeels die ryker Jode eintlik meer bekommerd oor politieke en finansiële gewin as oor godsdienstige sake. Vir die Sadduseërs was die huidige lewe alles en daarom het hulle ook nie aan die opstanding, laaste oordeel, of ‘n ewige lewe geglo nie. Hulle het eerder Griekse idees gehuldig dat die mens êrens binne in horn ‘n siel het wat onsterflik is en in sy liggaam vasgehou word om by die dood vrygelaat te word. ‘n Persoonlike opstanding het hulle dus ontken. In Jesus se argument met die Sadduseërs oor die opstanding (Matteus 22:23-32) hou Jesus sy bewyse beperk tot die eerste vyf boeke van die Ou Testament, maar wys daarop dat Sadduseërs se opvatting behels dat die God wat hulle dien die God van dooies moet wees (vers 32). Verder het die Sadduseërs nie in engele of geeste geglo nie. Hulle vervulling van die wet .was gerig op persoonlike moraliteit. Hulle godsdiens kon dus heel goed by Griekse opvattings oor deug aansluit.
In die tyd van die Nuwe Testament was die Sadduseërs die meerderheid in die Joodse Raad, die Sanhedrin. Paulus het die stryd oor die opstanding tussen Sadduseërs en Fariseërs (wat die opstanding sterk aanvaar het) uitgebuit toe by in Handelinge 23:6-10 voor die Sanhedrin verskyn het. Nadat Jesus vir Lasarus uit die dood opgewek het (Johannes 11:17-44), lees ons dat die priesterhoofde (waarvan die meeste Sadduseërs was) by name van Kajafas die hoëpriester, besluit het dat Jesus. moes sterf. Johannes 11:53 se uitdruklik dat hulle van toe of vasbeslote was om Jesus dood te maak. Vir die Sadduseërs se sosiale posisie onder die Romeine kon Jesus se magsdade geen voordeel inhou nie, en Lasarus se opwekking het hulle teologie skade gedoen. As meerderheid, in die Sanhedrin het hulle die Fariseërs meegesleep in hulle besluit, want die Fariseërs is so baie deur Jesus berispe dat hulle nie, soos in die .geval van Paulus wat self ‘n Fariseër was, teen die Sadduseërs kant gekies het nie.
Ander Joodse-groepe het hulle lede hoofsaaklik uit die Chassidim getrek. Van hierdie groepe was die Fariseërs, Esseners en Selote egte Chassidim, terwyl die Herodiane in sekere praktyke by sowel die Helleniste as die Chassidim gehoort het al was hulle met die mond eerder Chassidim-gesind.
Die Herodiane
Die Herodiane het die familie van Herodes gesteun as regeerders. Hulle was oorspronklik Edomiete en het namens die Romeine regeer en was daarom nie by alle Jode geliefd nie. As afstammelinge van Esau het die Jode tog eerder die Edomiete verdra as die Romeine. Die Herodiane was bly oor die Tempel wat Herodes herbou het, maar was nie ten gunste van belastings aan Rome nie. Hierin was hulle een met die Fariseërs (Matteus 22:15-17, Markus 12:13-14). So ook toe Jesus ‘n man se hand op die Sabbat genees het (Markus 3:5). Die Herodiane was, soos die Sadduseërs, bekommerd oor Jesus se populariteit by die volk, want dit kon hulle voorregte onder die Romeine skade doen. Verder was hulle bekend vir hulle morele slapheid (veral die familie van Herodes) en Jesus se leer het hulle dus nie aangestaan nie, net soos hulle ook nie van Johannes die Doper gehou het nie. Die Herodiane het saam met die Fariseërs, net soos die Fariseërs saam met die Sadduseërs, teen Jesus opgetree, want al het hulle onderling baie verskil was Jesus vir hulle ‘n gemeenskaplike vyand.
Skrywer: Prof JP Louw