Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Voedselsoorte en Etes(1)
Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Voedselsoorte en Etes(1) – Hennie Stander
Ons het reeds in die vorige hoofstuk, wat oor huishoudelike aktiwiteite gehandel het, aandag gegee aan die twee hoofmaaltye van elke dag. In hierdie afdeling gaan ons van nader kyk na die spesifieke kossoorte wat in die Bybelse tye genuttig is, asook gebruike wat daarmee in verband gestaan het.
Brood
Die meeste mense se dieet was baie eenvoudig en brood was die belangrikste element daarvan. Brood was so ‘n essensiële deel van voedsel dat dit later sinoniem geword het met “voedsel” en met die leweself. Die bede “Gee ons elke dag ons daaglikse brood” (Lukas 11:3) was dus by implikasie ‘n gebed vir die daaglikse voorsiening van die hele lewensonderhoud. Brood. was so ‘n belangrike lewensmiddel dat Jesus ook na Homself verwys het as “die brood van die lewe” (Johannes 6:35). Met hierdie figuurlike aanwending van die term “brood” bedoel Jesus dat Hy die Persoon is wat lewe gee (net soos wat brood lewe gee).
Die brood is altyd gebreek en nooit met ‘n mes gesny nie. Dit het aanleiding gegee tot die ontstaan van die uitdrukking “om brood te breek” in die betekenis van “‘n maaltyd te nuttig’. Ons lees byvoorbeeld in Handelinge 20:7 dat “hulle op die eerste dag van die week bymekaargekom het om brood te breek” (d. w. s. om ‘n maaltyd te nuttig). Die etewaarna hier verwys word, was ‘n gemeenskaplike maaltyd wat van groot betekenis was vir die eerste Christene aangesien hulle daarmee uitdrukking gegee het aan hulle liefde en besorgdheid vir mekaar. Dit is daarom ook ‘n liefdesmaalgenoem. Tydens hierdie maaltyd het die Christene hulle brood (en ander kosse) met minder bevoorregtes gedeel.
Benewens die feit dat koring gebruik is vir die maak van brood, is koring ook net so op ‘n metaalplaat oor die vuur gebraai (vgl 1 Samuel 17:17; 25:18). Verder is dit ook rou geëet (vgl Levitikus 23:14). ‘n Bekende voorbeeld hiervan was toe die dissipels van die Here deur die gesaaides geloop het en van die are begin pluk het om to eet. Die Fariseërs het egter geglo dat ‘n mens dit nie op ‘n Sabbatdag mag doen nie.
Skrywer: Prof Hennie Stander