Geestelik
by Mitch Kalp ·
Christianity is a faith that is based upon and rooted in miracles. Take away miracles, and you take away Christianity. —R.C. Sproul
|
Geestelik
So verklaar ons geestelike dinge aan mense wat die Gees het (1 Korintiërs 2:13). Geestelik is vandag ‘n baie gewilde woord – ook in Paulus se dae was dit so. Hulle het ook geestelikheid begeer. Maar nie alles geestelik is waarlik geestelik nie.
As ons die woord geestelik hoor, kom sekere beelde in ons gedagtes op. Jy dink aan iemand wat stil en nadenkend is; jy dink aan iemand met sy hande omhoog tydens aanbidding. In ons dae beteken geestelik om vaagweg belang te stel in die bonatuurlike. Jy beoefen ook die praktyke soos gebed en meditasie. John Edwards noem hierdie dinge “nie-tekens.” Hulle bewys niks na enige kant toe nie. Dit is nie sleg om na te dink of jou hande op te steek in aanbidding nie; daar is niks mee verkeerd om belang te stel in gebed, wondertekens of ‘n hoër mag nie. Volgens Paulus is hierdie dinge nie geestelik nie.
Die geestelike persoon verstaan geestelike waarhede – hy ontvang wat die Gees oordra. Andersom: Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word (2:14). Paulus onderskei hier tussen twee kategorieë mense: geestelike mense wat geestelike dinge aanvaar en “ongeestelike” mense wat nie geestelike dinge aanvaar nie. Wat ‘n mens geestelik maak, is die aanvaarding van geestelike dinge.
Wat is hierdie geestelike dinge waaraan Paulus dink? Kom ons kyk na die konteks. Paulus het pas verduidelik dat die boodskap van die kruis onsin is vir diegene wat verlore gaan (1:18). Sy prediking lyk ook nie soos wysheid vir die slim mense nie. Maar: Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde (2:2). Baie mense sien hierdie boodskap as dwaas, maar Paulus sê dit is wysheid, maar net vir dié wat daarvoor ryp is (2:6). Die heersers van die wêreld verstaan dit nie, maar in werklikheid is die boodskap van die kruis die wysheid van God, die verborge waarheid wat bedek was en wat God van ewigheid af vir ons voorbestem het tot ons ewige heerlikheid (2:7). Die geestelike dinge verwys na die verkondiging van die evangelie soos deur die Gees geopenbaar en aan Paulus en sy mense toevertrou is.
Die geestelike persoon is dus die persoon wat die boodskap van die kruis aanvaar. Ons is net geestelik as die Gees aan ons die vermoë gegee het om die goeie nuus aangaande Jesus Christus se dood en opstanding te aanvaar. Maak nie saak of jy van engele hou of hoe baie jy bid nie of hoe dikwels jy nadink nie of hoeveel jy in wonderwerke glo nie, as jy nie die kruis aanvaar nie, is jy nie ‘n geestelike persoon nie. Die geestelike persoon onderskei geestelike dinge beginnende by die offer van Christus aan die kruis vir mense soos ons. As ek die boodskap van die kruis verwerp, verwerp ek ook die Gees se werk om dinge vir ons te openbaar. Dan is ons nie geestelik nie.