Geloof moet gelewe word (58:1-7) – Francois Malan
Die gedig is ‘n lang en ernstige opdrag van die Here dat sy diep verdeelde volk aangespreek moet word oor hulle skynheiligheid. Die Here verwag dat sy volk se lewe hulle belydenis sal weerspieël, oor wie en hoe hulle Here is, dat hulle nie met hulle lewe ‘n boodskap verkondig wat strydig is met hulle vertroue op die Here en sy woord nie.
58:1 ‘Roep met ‘n keel (sit ‘n keel op, roep hardop), moenie terughou nie (moeie bang wees om dit luid en duidelik uit te roep nie), soos ‘n sjofar (ramshoring wat vir die stryd oproep), verhef jou stem (roep met ‘n luide stem). Die verkondiger van die Here se woord word in geen onduidelike taal nie vier maal die opdrag gegee om die Here se woord te verkondig, hard en duidelik, sonder om doekies om te draai, want dit is ‘n saak van lewe en dood vir mense en gemeenskappe. Die volk van die Here moet op hulle oortredings van die Here se opdragte gewys word.
Maak aan my volk hulle opstand/rebellie bekend (stel die saak hoog, duidelik sigbaar voor) en aan die huis van Jakob hulle oortredings – dit is ‘n lewe wat ingerig word uit teenstand teen die woord en wil van die Here. Later word dit uitgespel dat hulle optrede teenoor mekaar, teenoor hulle arbeiders en arm medemense, ‘n optrede is wat indruis teen die Here se opdragte daaroor.
58:2 En dit gebeur terwyl hulle die indruk wil skep dat hulle baie godsdienstig is. Hulle begeer met vreugde; vreugde word twee maal in dié teks gebruik (1983 vertaal: graag, daarvan hou) – hulle verheug hulle daarin om dag vir dag die Here te soek en na sy wil te vra, so asof hulle ‘n volk is wat in geregtigheid lewe en nie die voorskrifte van die Here verlaat het nie; hulle vra by die Here sy voorskrifte vir geregtigheid en geniet dit om na die Here te kom met lofprysing en gebed. Die digter berispe sy tydgenote wat die diens van God verander het in ’n daad van selfbevrediging sonder etiese inhoud. Hulle geniet hulle aanbidding. Maar ware aanbidding fokus op die Here se wil en wense soos deur sy woord verduidelik word. Hulle voel goed oor hulle eredienste en in hulle eredienste, maar dit is teen die ware bedoeling van die Here.
58:3 Getrou vas hulle en verneder hulleself voor die Here (moontlik in sak en as), maar die Here neem nie daarvan kennis nie! Want hulle doen dit vir hulle eie begeertes en plesier; om deur die Here raakgesien te word, om die Here se aandag op hulle te laat vestig – eintlik ‘n erkenning dat hulle godsdiens op hulleself gevestig is, dat die doel van hulle godsdiens is om daardeur iets te verkry. Daarom het hulle godsdiens ‘n middel tot ‘n doel geword en nie ‘n doel opsigself nie. Die Here is dus bruikbaar om voordeel te behaal, soos die Satan vir die Here gevra het: Is dit verniet dat Job U vrees? (Job 1:9) – bedoelende sonder hoop op wins. Godsdiens wat bereken wat ek daaruit sal kry, werk nie by God nie! Daarby verdruk hulle al hulle slawewerkers (Septuaginta: die mense onder julle hand – onder julle beheer; die Hebreeuse woord verwys na ‘seermaak, gepynig word). Hulle godsdiens is ‘n opstand teen die Here se eis van liefde tot God met jou hele hart, en jou naaste soos jouself. (Deutr. 6:5; Lev 19:18). Dit bely hulle dag vir dag en gee voor dat hulle God en hulle naaste so liefhet, maar juis nie toepas nie, nie in die erediens en kerk nie en nie by die huis of in die samelewing nie.
58:4 ‘Kyk! Julle vas net tot twis/onenigheid (wat op ‘n regstryd/hofsake met mekaar uitloop) en twis (met standpunte teen mekaar); julle vas om met die vuis van boosheid te slaan; julle vas nie op die dag (vandag soos ons nou praat) om julle stemme in die hoogte (by God) te laat hoor nie.’ Die mens wat vas, baklei omdat hy net op homself gerig is, sodat daar geen grootmoedigheid of vrygewigheid kan wees van mense wat groter as hulleself is nie. Sulke soort aanbidding gee geen toegang tot God nie want die God van Israel is nie beskikbaar om ‘n instrument te word van die mens se berekende manipulasie nie. Dié soort aanbidding is ‘n totale verdraaiing van die beeld van God en ‘n totale verwringing van sosiale verhoudings.
58:5 Die Here soek nie uiterlike tekens van verootmoediging by ‘n mens (adam enige mens) nie, met geboë hoofde (soos ‘n biesie in die stroom of soos verlepte plante) in sak geklee en as op die kop nie.Vir die Here is die uiterlike tekens nie van belang nie, want dit dien slegs om deur mense gesien te word (vgl. Mat 6:16-18).
58:6 Ware vas, wat die Here wil hê, behels nie ‘n soort gedissiplineerde vroomheid nie, maar ‘n lewe met dade wat jou medemens help en opbou, nie afbreek of verkleineer nie. Dit gaan nie vir God om ‘n passiewe roetine lofprysing van Hom nie. God werk in die gemeenskap en wil hê al sy volgelinge moet saam in die gemeenskap werk om Hom daarmee te prys. Egte vas gaan oor die regstel van onreg teenoor mense in die gemeenskap. Dit eis van jou om af te sien van jou voorregte en van die misbruik van jou mag:
Bevryding van mense wat onregverdig gevange sit – moontlik as slawe (Neh 5:5; vgl Jer 34:16) Letterlik: maak los die onregverdige/bose bande/kettings (gevangenskap)
Bevryding van onderdruktes – verwys na die skuldbande van mense in die mag van die ryk uitbuiters (Neh 5:3-7). Letterlik: maak los die stroppe van die juk
Laat die onderdruktes vry – dit bevestig die voorafgaande opdrag
Breek elke juk stukkend – dit brei uit op die voorafgaande twee opdragte.
58:7 Die vas wat die Here van ons verwag is om soos Hy te wees, genadig, barmhartig en vrygewig teenoor ander wat minderbevoorreg is, om jou brood te deel met ander, ook jou huis, jou klere, die basiese lewensbehoeftes (opgenoem in Mat 6:25). Dit vra iets van jou, wat jou iets kos. Dit is egte vas wat die Here behaag, nie slegs ophou eet nie.
Om jou brood te breek (uit te deel) vir die wat honger is (vgl Neh 5:17)
En die armes, rondswerwers (dakloses) in te bring in die huis (Septuaginta ‘in jou huis’)
Wanneer jy iemand sien wat naak is (letterlik: wat homself verberg) jy hom klee – van jou klere gee as ware vas
En dat jy nie sal wegkruip vir jou familie/medemens nie (letterlik: jou eie vlees nie) – van die armes in jou familie nie – egte vas is om hulle raak te sien en te help.
Skrywer: Prof Francois Malan