Geloofsvrae: Begrippe vir die heilsweg: Dag en Datum

Geloofsvrae: Begrippe vir die heilsweg: Dag en Datum – Adrio König

‘Dag en datum’ – hoe deel verbondskinders in die heil?

Dit is ‘n vraag waarmee ‘n mens dikwels gekonfronteer word: Wat van kinders wat in die gemeente gebore word in ‘n huis waar die Here gedien word, en wat dus as verbondskinders groot word?

Daar is by sommige die oortuiging dat elke mens `’n dag en datum’ moet hê, ‘n identifiseerbare geleentheid toe hy of sy ‘n kind van die Here geword het.

 

Die posisie van kinders word nie so duidelik behandel in die NT nie. Ons sal weer daarmee te doene kry by die behandeling van die doop. Kinders was eenvoudig nie so belangrik in die samelewing van daardie tyd nie. Boonop is die NT veral ‘n sendingboek wat konsentreer op die vestiging van die eerste gemeentes as vrug op die sending. Kinders kom dus selde ter sprake.

 

In die OT het ons enigsins ‘n duideliker beeld van die posisie van die kind in die genadeverbond. Die gesin was die fokuspunt van die godsdienstige lewe. Die kinders is in die verbond gebore en geleer om in die verbond te lewe en aan die Here getrou te wees. Ons kry nie die gedagte van ‘n bepaalde beslissing wat hulle een of ander tyd moes neem nie. Hulle is deel van die geloofsgemeenskap en staan onder die verpligting om aan die verbondseise getrou te wees.

Wat wel kon gebeur, en inderdaad op ‘n groot skaal gebeur het, is dat individue en die volk as geheel nie aan die Here getrou was nie. Hulle is vroeg en laat deur die profete aangespreek en selfs gewaarsku dat die Here hulle sal verwerp. Die volk het op die lang duur nie positief gereageer nie en is uiteindelik in ballingskap weggevoer.

Maar die eis was nooit om ‘n beslissing te neem om in die verbond in te kom nie. Hulle is in die verbond gebore en het as babas die sakrament van insluiting ontvang – die besnydenis. Die eis was om binne te bly, of uiteindelik verwerp te word.

Ons leef nog altyd in die Abrahamverbond. Daar is nie rede om te aanvaar dat die verbond op hierdie punt verander het nie. Trouens dit is sondermeer duidelik dat kinders van gelowige ouers van die begin af deel van die geloofsgemeenskap is. Ons bid vir hulle selfs nog voor hulle gebore is, van kleins af deel hulle in die warm liefdesgemeenskap van die kinders van God, die Here seën hulle saam met hul ouers en die gemeente, en hulle leer om te bid en op Hom te vertrou soos hulle leer aantrek en loop. Dat Jesus ons Verlosser is, hoor en beleef hulle van kleins af.

Natuurlik kan hulle weerstand bied as hulle groter word. Soos enige mens op enige stadium van jou lewe aan die Here ontrou kan word, so hulle ook. En dan moet hulle vermaan en tereggewys word. En dit kan soms lank duur en erg skeefloop. Maar dit is kinders van die Here wat vermaan word, nie heidene wat opgeroep word om vir die ware God te kies nie.

Dit is die ideaal. Maar die kerk is nie in ons dag in ‘n ideale toestand nie. Daarom moet ons ernstig bly rekening hou met die moontlikheid dat bepaalde kinders se ouers wel in die boeke van die kerk ingeskryf is, maar nie deel van die geloofsgemeenskap is nie sodat – al is die kind ook gedoop – die kind nie in die verbond groot word nie, nie die geloofsgemeenskap beleef nie, nie eens sy of haar ouers sien bid nie, en dus eenvoudig nog die geleentheid moet kry om hom of haar met Jesus te identifiseer. Dit maak bekeringsprediking as ‘n oproep tot ‘n basiese keuse vir Jesus onontbeerlik.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König