Geloofsvrae: Die Heiliging van Strukture

Geloofsvrae: Die Heiliging van Strukture – Adrio König

Die heiliging van strukture

Strukture is die gebruike, stelsels en sisteme waarvolgens ‘n samelewing werk. Die begrip `strukture’ is ‘n breë begrip wat baie vorme insluit. Daar is fisiese strukture (berge, riviere), biologiese strukture (bome), politieke strukture (die struktuur waarvolgens ‘n land regeer word en funksioneer), sosiale strukture (die vorme waarin mense se lewe georganiseer word soos die skool, die huwelik), ekonomiese stukture (vryemarkstelsel of sosialisme), en baie ander.

Net soos daar verskille is oor die vraag of strukture sondig kan wees, verskil mense oor die vraag of strukture geheilig kan word. Daar is die standpunt dat sonde en heiliging net op persone van toepassing is.

Ons moet egter aanvaar dat God nie net in individue belangstel nie, maar dat sy werk ook die breë samelewing en die wêreld as geheel insluit. Sonde tas nie net die persoon aan nie, dit raak ook in strukture gevestig, heil is nie net individuele heil nie, maar ‘n heel samelewing, God stel nie net in ons siel belang nie, maar in die mens as geheel, regverdiging is nie net persoonlike vryspraak nie, maar ook ‘n regverdige samelewing, en weergeboorte sluit die weergeboorte van die aarde. Daarom moet die heiliging ook in strukture ingedra word.

Daar is veral drie beskouings oor God se betrokkenheid by strukture: die dualisme wat die werklikheid in twee verdeel: die geestelike dinge (ons persoonlike en kerklike lewe wat ons volgens die Woord van die Here moet inrig), en die `wêreld’ (die breë samelewing) wat óf aan die `wêreldse’ mense oorgelaat word (die Piëtisme), óf wat ons volgens ons gesonde verstand moet hanteer (die Lutherse tweerykeleer). Daar is ‘n ander gedagte wat hier tuishoort, en dit dat strukture en selfs net intermenslike verhoudings vanself sal regkom as mense se verhouding met God in orde kom, maar dit hou nie rekening met die talle vermaninge wat die apostels in die briewe aan gelowiges rig oor menseverhoudings nie. Ons kry dit ongelukkig reg om teoreties die regte dinge te glo, maar in onreg te leef. En verder is strukture ongelooflik sterk en kan hulle ons goeie gesindheid baie effektief weerstaan.

Daar is die tweede oortuiging, dié van die skeppingsordeninge. God het by die skepping sekere dinge op ‘n bepaalde manier georden of vasgelê, of aan sekere dinge ‘n vaste struktuur (patroon) gegee, en ons taak is om die ordeninge of strukture in takt te hou en dit net te herstel as die sonde dit aangetas het. Ons het dus ‘n vaste orde op aarde, en ons moet sorg dat dit bly soos dit geskep is. Van tyd tot tyd verander die voorbeelde wat mense noem. In die Middeleeue was dit die monargie en die adelstand teenoor die burgerstand; later was dit slawerny, nog later aparte volke of rasse. Dit is almal kwalike voorbeelde, en waarskynlik is die huwelik die enigste goeie voorbeeld.

Die probleem met die basiese lewenshouding wat uit hierdie beskouing voortvloei, is dat alles moet bly soos dit altyd was, dat daar ‘n goeie ou tyd was waarna ‘n mens altyd terugverlang. Die sterk toekomsgerigtheid van baie tradisies in die Bybel kom glad nie hierin tot sy reg nie. In die Bybel gaan dit eerder om die nuwe as om die oue.

Daarom is dit beter om te kies vir die derde oortuiging, die ou Gereformeerde beginsel dat Christus die Heer oor die totale werklikheid is, en dat ons die totale samelewing volgens sy wil moet inrig. Hy is nie net hoof van sy kerk nie maar ook van die wêreld (Ef 1:22). Ons taak is om die wêreld te oortuig om sy heerskappy te erken en aan Hom gehoorsaam te wees. Omdat alle strukture deur mense gevorm en/of vervorm is, is alle strukture onderhewig aan die werking van die (ons!) sonde, en moet hulle hervorm of totaal verander word in ooreenstemming met die wil van God. Sekere strukture is so deur en deur sondig dat hulle nie hervorm kan word nie, soos slawerny en apartheid. Ander is net deur die sonde verwring en kan hervorm word soos die huwelik wat vervorm is tot poligamie en hervorm moet word na monogamie, en die kerk wat deur ons sonde verskeur is en herenig moet word.

Die invloed van die evangelie op strukture is uiters belangrik. Dit is van die sterkste getuienisse van die krag van die evangelie. Daar is duidelik aanwysbare invloede in sekere kulture en tye. Die ontgoddeliking van die staatsgesag en die sorg vir siekes en gestremdes in die Europese kultuur, is vroeë getuienisse van die invloed van die evangelie op strukture. Latere invloede is die afskaffing van slawerny, die regte van die idividu, die gelyke behandeling van alle mense, die beheersing en kultivering van die natuur, en die algemene vermensliking van die samelewing. Die val van die kommunisme word dikwels ook aan Christelike invloed toegeskryf.

Daar is egter telkens ook skokkende getuienisse van ons vermoë om terug te ploeter in die sonde. Dit is ongelukkig nie net waar van individue nie, maar ook van samelewings wat eeue onder invloed van die evangelie ontwikkel het. Dink maar aan die twee wêreldoorloë tussen `Christelike’ volke, aan die uitwissing van 6 miljoen Jode deur die Duitsers, aan apartheid deur ‘n regering wat hom op sy Christelikheid beroem het, en aan die sedelike verval in die Europese en Amerikaanse samelewings.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König