Geloofsvrae: Die Kerk as gewone menslike organisasie

Geloofsvrae: Die Kerk as gewone menslike organisasie – Adrio König

Die kerk as ‘n gewone menslike organisasie (ekklesiologie van onder)

`Die kerk.’ Watter kerk? Ons praat meestal baie veralgemenend oor die kerk, en as ‘n mens om jou begin rondkyk, dan weet jy soms nie waar jy dié besondere organisasie sal kry waarvan al dié wonderlike dinge gesê word nie (liggaam van Christus, voorlopige gestalte van God se einddoel met die wêreld, ens). Wat sal ‘n Marsmannetjie rapporteer as hy ‘n taamlike vinnige ondersoek hier gedoen het en terugkom op Mars? Moontlik iets soos die volgende.

Daar is ‘n klomp godsdienstige organisasies wat besondere oortuigings het oor ‘n sekere Jood wat hulle Jesus noem, wat baie lank gelede geleef het. Hulle glo allerlei vreemde dinge oor Hom, o.a. dat Hy na sy dood weer gesien is. Hulle vier ook gereeld feeste wat verband hou met dinge wat in sy lewe gebeur het. Elkeen van dié organisasies het ‘n bepaalde naam. Party se naam sluit die woord `kerk’ in, ander nie. Die meeste organisasies hou gereelde byeenkomste waar hulle sing, bid, uit ‘n boek lees, praat, geld gee (selde vreeslik baie).

So ‘n organisasie het gewoonlik ‘n taamlik duidelike bestuurstelsel. In die meeste gevalle is daar een of ‘n paar persone wat leiding neem. Hulle is gewoonlik mans, betaalde amptenare wat voltyds in diens van die organisasie is. In die meeste gevalle het hulle spesiale opleiding gehad, maar daar is ook uitsonderings.

Baie van die organisasies probeer ander mense oortuig om ook in die Jesus te glo. Sommige maak heelwat moeite daarmee en gaan selfs taamlike groot kostes daarvoor aan. Hierdie organisasies doen ook gewoonlik heelwat moeite met mense wat in verskillende vorme van nood is. Soms is daar erge verskille en selfs openlike vyandigheid binne so ‘n organisasie of ook tussen verskillende organisasies. Sommige groepe se lewenswyse verskil nogal van die mense wat nie lede is nie, maar die meeste se lewenswyse val nie eintlik op nie.

Tot sover die Marsmannetjie se rapport. En al die verhewe dinge wat ons in die vorige bladsye oor `die kerk’ geskryf het? Die liefdesgemeenskap wat soos God en soos Christus moet leef? Die tempel van die Gees waarin die (Heilige!) Gees moet tuisvoel?

Ons kan twee dinge hieroor sê. Die eerste is dat dit wat ons na aanleiding van die Bybel oor die kerk skryf, altyd die implikasie het van: só behoort die kerk te wees. Die Bybel, en in besonder die NT, sal altyd krities teenoor die konkrete vorme van die kerk staan, sal altyd ‘n appél aan die kerk wees. Ons is nie wat ons veronderstel is om te wees nie. Of liewer: ons leef ‘n leuen. Die evangelie lui: ons is vrygemaak, ons ou lewe is beëindig, ons het deel aan Jesus se opstandingslewe, maar intussen ploeter ons in ons ou lewe voort. In hierdie sin is dit ‘n ontsettende klag teen ons dat ons ‘n boek met so ‘n inhoud as gesaghebbend kan aanvaar, maar so min reageer op sy duidelike etiese opdragte. Ons kry dit reg om uit te hou onder die felste kritiek skynbaar deur eenvoudig af te skakel as ons dit hoor, of dit te verburgerlik tot ‘n aanvaarbare vlak vir ons `vlees.’

Miskien is die grootste taak wat die verskillende kerke het net eenvoudig om kerk te word soos dit duidelik in die evangelie uitgespel word.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König