Geloofsvrae: Die Kinderdoop

Geloofsvrae: Die Kinderdoop – Adrio König

Die kinderdoop

Dit is ‘n eeuoue vraag wat die vroeë Christene met hul kinders gedoen het. Daar is geen absolute duidelikheid in die NT nie. Daar is geen direkte verwysing na babas wat gedoop is nie, maar ook nie na kinders van gelowiges wat self eers moes glo voor hulle gedoop is nie. Daar is dus nie ‘n direkte beroep op die NT moontlik deur enige groep nie.

Indirek beroep die kerke wat teen die kinderdoop is, hulle op die sendingdoop: soos heidene wat tot geloof kom en dan gedoop word, moet ook kinders van gelowiges eers self tot geloof kom voor hulle gedoop word. Hierdie kerke doen dit nie regtig soos dit in die NT gedoen is nie. Dáár is heidene dadelik gedoop nadat hulle tot geloof gekom het, terwyl die kerke wat die kinderdoop verwerp, normaalweg lank met die doop wag nadat ‘n jong kindjie tot geloof gekom het.

Allerlei argumente word aangevoer soos dat die kind eers die doop goed moet verstaan, eers goed gevestig moet wees in die geloof, eers self moet vra om gedoop te word, en nog ander, waarvan nie een enige verband het met die wyse waarop daar in die NT gedoop is nie. Die feit dat die hoë betekenis van die doop in die NT verband hou met die feit dat hulle dadelik gedoop het, funksioneer ook nie. Die doop van kinders jare na hulle tot geloof gekom het, is dan nie meer ‘n doop soos ons dit in die NT kry nie (inlywing in die heilsgemeenskap), maar op die meeste ‘n doopviering of ‘n persoonlike getuienis van geloofsoorgawe (wat ongetwyfeld groot waarde het maar nie meer doop genoem kan word nie).

Kerke wat die kinderdoop aanvaar, bied verskillende gronde daarvoor aan waarvan die meeste min verband hou met die NT. Een van die redes waarom die doop so graag ‘n belofte en seël genoem word (al is daar min sprake hiervan in die NT), kan verband hê met die feit dat ‘n baba wel ‘n belofte en ‘n seël kan ontvang, al kan die kind nie self glo nie.

Daar is ‘n paar sake wat uit die betekenisse van die doop na vore gekom het, wat ons aandag vra as ons oor die kinderdoop nadink. Die eerste is dat die doop soos die besnydenis in die Abrahamverbond inlyf (Gal 3:26-29), die verbond wat Christus ook vir heidene oopgestel het deur sy kruisdood (Gal 3:14). Abraham is deur die geloof geregverdig (Gen 15:6; Gal 3:6), en daarom is hy die vader van alle gelowiges (Rom 4:16). God het van die begin af die Abrahamverbond bedoel as die genadeverbond waarin Hy alle nasies wou opneem (Gen 12:2).

Die doop het aanvanklik waarskynlik net die betekenis van vergifnis en reiniging gehad, maar gaandeweg het die ander betekenisse na vore gekom soos die inlywing: in die gemeente, in die dood en opstanding van Jesus, en in die verbond. Die doop as insluiting in die genadeverbond roep as vanself die vraag op na die kinders van die gelowiges omdat hulle altyd deel gehad het in die Abrahamverbond. Hierdie verbond sou van karakter moes verander as gelowiges se kinders nie langer saam met hul ouers daarin opgeneem kon word nie. Daarvan is geen getuienis in die NT nie.

Inteendeel. Daar is aanduidings dat die insluiting van kinders kon voortgegaan het. Daar is ‘n aantal gesinsdope, en alhoewel die nie seker is dat daar babas in hierdie gesinne was nie, is dit opvallend dat die terminologie wat gebruik word (dat iemand en sy/haar gesin gedoop word, Hand 10:47ev saam met 11:14; 16:15, 33; 18:8; 1 Kor 1:16), sterk herinner aan die insluiting van kinders in die OT. Hierdie verbondsterminologie is trouens reg van die begin af in Handelinge gebruik. Petrus verwys in sy Pinksterpreek na drie groepe. Hy sê die belofte van God (wat ‘n term vir die Abrahamverbond is, Hand 7:17; 13:32; 26:6; Rom 4:13-22) is `vir julle en vir julle kinders, en vir almal wat daar ver is’ (Hand 2:39). Hy verwys na drie groepe i.p.v. na die gewone tweedeling van die mensdom in Jode en heidene (Rom 1:16; 3:29; Ef 2:11,17). Dit is die bekende driedeling van die Abrahamverbond waarby die kinders van gelowiges van die begin af ingesluit was (Gen 12:2,3,7; Rom 4:11ev). Verder lê Petrus ook alreeds in hierdie vroeë stadium die verband tussen die Abrahamverbond en die Gees wat later deur Paulus ontwikkel word (Gal 3:14; 4:28-29; indirek ook 3:5-6).

Die bewyslas lê dus by diegene wat ontken dat kinders van gelowiges ook in die NT kragtens hulle ouers se geloof in die Abrahamverbond ingesluit is. Terloops moet ‘n mens net daarop let dat die argument dat daar nie babas in die gesinne wat gedoop is, ingesluit kon gewees het nie omdat daar ook dinge oor dié gesinne gesê word wat nie van babas geld nie, ‘n misverstand is oor hoe taal werk.

As ‘n mens aanvaar dat die kinderdoop van die begin af in die kerk gegeld het, is dit natuurlik ‘n vraag hoe dit moontlik is dat die volle betekenis van die doop vir babas kan geld. Hoe kan babas se sonde vergewe word en hoe kan hulle in die dood en opstanding van Christus ingelyf word? Dit is egter nie ‘n probleem waarvoor die Abrahamverbond eers in die NT te staan kom nie. Dit is ‘n probleem reg van die begin af. Die besnydenis was ‘n seël wat bewys dat God vir Abraham vrygespreek het omdat hy geglo het (Rom 4:11). Hierdie geestelike betekenis is goed aan die profete bekend want volgens hulle eis die besnydenis dat ‘n mens se hart, lippe, ore besny moet wees, dus dat ‘n mens ‘n nuwe lewe moet lei. Hoe kon die babas dan in die OT besny word?

Wat die antwoord ookal is, en al sou ons geen goeie antwoord daarop vind nie, maak dit nog nie kinderdoop ongeldig nie omdat dit ook kinderbesnydenis in dieselfde verbond in die OT ongeldig sou maak.

Die profete het dit skynbaar só verstaan dat hulle agterna die besnedenes kon oproep om die volle betekenis van die besnydenis (‘n nuwe lewe) in hul lewe waar te maak. Presies daartoe roep die apostels ook die gelowiges in die NT op. Hulle word ná hul doop geleer om diens te weier aan die sonde en hul lewe volkome aan God te wy omdat hulle deur hul doop met die dood en die opstanding van Christus verenig is (Rom 6; Kol 2-3). Dit klop ook met die feit dat mense dadelik gedoop is, voordat hulle ook maar enigsins die volle, ryk betekenis van hul doop kon verstaan (Hand 16:29-34!), omdat gedooptes agterna die betekenis aan die doop geleer het in die gewone gang van die gemeentelewe. Babas kan ook eers gedoop word, soos hulle in die OT besny is, en dan agterna die betekenis van die doop leer en in hul lewe waarmaak. Omdat God in die doop handel, en dit nie ons getuienis of belydenis is nie, kan Hy die volle betekenis van die doop in die gedoopte realiseer al verstaan die gedoopte dit nog nie, en ons kan dan agterna leer wat dit beteken en dit toepas.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König