Geloofsvrae: Die mens as bondgenoot van God

image_pdfimage_print

Geloofsvrae: Die mens as bondgenoot van God – Adrio König

Die mens as bondgenoot van God 

Daar word herhaaldelik na die verbond gekyk omdat dit so ‘n sentrale saak in die Bybel is. Trouens die verbond kan gesien word as die doel van God se skeppingswerk. God het die aarde geskep om ‘n plek te hê waar Hy in gemeenskap met die mense kan leef. Ons bestemming is om in die verbond met God te leef.

Dit alles maak dit onmoontlik om sinvol oor die mens te dink sonder om God en die verhouding met Hom daarby te betrek. God neem immers die inisiatief in die verbond wat beteken dat Hy bepaal wat die inhoud van die verhouding is, en wat sy insette is en wat ons reaksie behoort te wees. Dit alles is trouens kort saamgevat in die verbondsformule: `Ek sal vir julle ‘n God wees, en julle sal vir My ‘n volk wees.’

Dit beteken ‘n paar dinge vir ons menswees. Allereers beteken dit dat ons aan God gebonde is en verbonde behoort te wees. ‘n Verbond bind aan mekaar. Maar hier is meer op die spel. Omdat die doel van ons lewe is om in hierdie verbond te lewe, is ons gebondenheid aan God wesenlik vir ons lewe. Dit is nie iets wat agterna kan bykom nie. Omdat God die inisiatief geneem het, en omdat Hy vooraf oor Homself besluit het dat Hy nooit op ‘n ander wyse God wil wees as die mense se God nie, is daar ook vooraf oor ons besluit: ons is bondgenote van God. Dít is ons bestemming: gebonde aan God. Ongelukkig kan ons dit probeer ontken. Dan word dit onwillige, gedwonge gebondenheid, terwyl Hy bedoel het dat dit verbondenheid moet wees.

As ons reg aan die God van liefde gebonde is, d.w.s.as ons aan Hom verbonde is, is ons ook geborge en veilig in Hom. Dat Hy ons God is – en daarvan is ons seker want Hy het dit besluit – beteken dat Hy vir ons verantwoordelikheid aanvaar. Hy kán vir ons sorg omdat Hy magtig is, en Hy wil omdat Hy liefde is. Hierdie geborgenheid gee aan ons waagmoed. Mense wat veilig voel, kan dit uit hul skuilplek waag en iets aan die wêreld doen.

Om sy bondgenote te wees, beteken ook dat ons by Hom moet pas. ‘n Bondgenoot moet sinvol inpas by die ander bondgenoot anders kan die saamwees nie egte verbondenheid wees nie, maar net slegte gebondenheid. En as die ander bondgenoot die inisiatiefnemer is wat die struktuur van die verbond bepaal, hang dit van Hom af hoe ons moet lyk om in te pas by Hom. Uit wie en hoe God is, kan ons dus aflei hoe ons behoort te wees. Ons Godsleer behoort dus ons mensbeskouing te bepaal.

Omdat God die inisiatief neem, omdat Hy die eerste woord spreek, moet ons ant-woord. Ons is dus ver-antwoord-elik. Ons sou kon sê dat ons eienskappe syne moet komplementeer of aanvul, d.w.s. sinvol by syne moet inpas, soos ‘n hollens by ‘n bollens pas. Omdat Hy gesag oor ons het. moet ons Hom gehoorsaam. Omdat Hy genadig is, moet ons dankbaar wees. En omdat Hy die God van die beloftes is, kan en moet ons met hoop op die toekoms gerig wees.

Mense is dus wesens wat verantwoordelik is voor God om Hom te gehoorsaam, te dank en met hoop die toekoms in te volg.

Dit gee sin en betekenis aan ons lewe. Sonder sin en betekenis is dit onmoontlik om met vreugde te lewe. ‘n Mens heg betekenis aan die lewe as jy iets het om na uit te sien. Ons het God se beloftes dat Hy ons saam met Hom op die nuwe aarde in heerlikheid sal laat leef. Dit gee selfs sin te midde van lyding en onreg.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...