Geloofsvrae: Die mensvormigheid van God
Geloofsvrae: Die mensvormigheid van God – Adrio König
Die mensvormigheid van God
Daar is alreeds iets gesê oor die mensvormige manier waarop daar in die Bybel oor God gepraat word (onder die onsienlikheid en onkenbaarheid van God).
In die Bybel is dit algemeen om in menslike terme oor God te praat. Daar word mensvormige terme gebruik om na sy gestalte te verwys (sy gesig, oë, neus, mond, hande, voete, ens), na sy gevoelens (Hy het lief, Hy haat, Hy het berou, Hy hou van iets, Hy is bly en lag, ens), en na sy dade (Hy sien, hoor, praat, fluit, rus, daal neer, ruik, loop, ens).
Hoe is dit dan moontlik dat daar in die geskiedenis van die kerk vir eeue lank baie negatief geoordeel is oor hierdie kenmerkende Bybelse spreekwyse oor God? Die antwoord lê hoofsaaklik daarin dat mensvormige voorstellings van die gode in die Griekse mitologie onwaardig was. Die gode het al die sondes van die mense gedoen: hulle het baklei, mekaar doodgemaak, owerspel gepleeg, die mense bedrieg, en nog baie ander sondes. Natuurlik moes die vroeë Christene negatief hierop reageer. Maar ongelukkig het hulle toe die baba saam met die badwater uitgegooi, en sommer alle mensvormige spreekwyse oor God verwerp.
Hulle het toe gesê dat die Bybel maar net op dié mensvormige manier oor God praat omdat ons nie sou kon verstaan as die Bybel gesê het hoe God regtig is nie. Maar intussen was hulle oortuig dat hulle wel presies kon sê hoe God is deur abstrakte filosofiese begrippe te gebruik! God sou dan eerder die ewige syn (bestaan), selfgenoegsaam, onbeweeglik wees as dat Hy die Een is wat omgee, wat liefde is, wat sy besluit om ons te oordeel verander as ons ons bekeer.
Moet ons nie eenvoudig aanvaar dat daar goeie redes is waarom die Bybelskrywers juis so mensvormig, lewendig en beweeglik oor God skryf nie?
Daar is minstens twee redes. Eerstens is ons na sy beeld geskep wat beteken dat ons Hom op aarde moet verteenwoordig sodat iets van Hom in ons lewenswyse sigbaar moet word. En tweedens is Hy juis in ‘n mens (Jesus) ten volle geopenbaar. Ons kan die Bybelskrywers dus voluit ernstig neem as hulle by voorkeur in terme van mense en menseverhoudings oor God praat. Hy is so want Hy is in Jesus so geopenbaar.
Wat ons egter moet onthou, is dat nie alle mensvormige dinge ook van God geld nie. Sekere dinge wat oor en oor in die Bybel van mense gesê word, word juis nie van God gesê word nie. En dit is juis die fout in die Grieke se mites oor hul gode. Terwyl hulle oortuig was dat hulle gode ook in alle vorme van menslike sonde betrokke is, word geen van ons sondes ooit in die Bybel aan Hom toegeskryf nie. En daar word ook nie na enige seksuele betrokkenheid van God verwys nie. Die Bybel praat dus op ‘n heel besondere wyse mensvormig oor God – juis anders as die Griekse mitologie.
‘n Mens sou kon vra waar die Bybel dié voorstelling van ‘n mens vandaan kry in terme waarvan daar oor God gepraat word: ‘n mens sonder enige sonde? En die antwoord is seker dat dit is hoe God bedoel het dat ons moet wees. Die Bybel se mensvormige spreekwyse oor God is dus nie in terme van hoe ons nou in ons sonde is nie, maar hoe ons behoort te wees – en hoe Jeus inderdaad was!. Dit is eintlik ‘n kritiek op hoe ons is, en ‘n aanmoediging om te word wat God ons bedoel het om te wees.
Soms word die saak omgekeer en word gepraat van die Godvormigheid van die mens. En alhoewel dit vreemd mag klink, is daar goeie gronde om dit te doen. As ons na sy beeld geskep is, sal iets van Hom tog in ons sigbaar moet word. Ons sal dus in Hom kan sien hoe ons behoort te lyk. Dit is presies wat ons in die mensbeskouing gaan doen, om uit die Godsleer af te lei wat en hoe die mens behoort te wees.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.
Skrywer: Prof Adrio König