Geloofsvrae: Die Nagmaal

Geloofsvrae: Die Nagmaal – Adrio König

Die nagmaal

Ons het die doop behandel onder die eerste fase van die heilsweg: die inlywing in die heil. Die nagmaal hoort tuis onder die tweede fase: die voortgang op die heilsweg, die lewe in die heil. Daarom word ons ook net een keer gedoop, maar ons gebruik gereeld nagmaal. Die nagmaal is deel van die kos wat ons op die pad nodig het. Daarom eet en drink ons tydens die nagmaal.

Dit word nog verder beklemtoon deur die feit dat ons brood en wyn gebruik. Dit was die gewone kos van elke dag. Daar is mense wat ‘n besondere waarde daaraan heg dat dit juis brood en wyn moet wees waarmee ons die nagmaal vier. Hulle sien dan in die brood ‘n beeld van die gebroke liggaam van Christus (koring wat fyn gemaal is) en in die wyn druiwekorrels wat stukkend gedruk is, wat die lyding van Christus simboliseer. Dit is inderdaad mooi simboliek waarmee niks verkeerd kan wees nie, al kry ons dit nie só in die Bybel nie.

Daarom moet ons nie die simboliek dwingend maak in die sin dat ons net brood en wyn mag gebruik, en brood en wyn op dié wyse weer iets buitengewoons word en nie meer ‘n doodgewone maaltyd is nie. Trouens vir die meeste van ons is brood en wyn nie ‘n gewone maaltyd nie, en daarom sal daar niks mee verkeerd wees om dit wat ons gewoonlik eet te gebruik as ons nagmaal vier nie. Die nagmaal is ‘n versterking op die pad wat ons elke dag saam met die Here loop. Om dit te beklemtoon, moet die elemente deel van ons gewone daaglikse kos wees.

Wat die nagmaal wel ‘n buitengewone ervaring in ons gewone lewe maak, is die feit dat dit ‘n fees is. Ons vier nagmaal. By ‘n fees pas vreugde en opwinding. Maar dis ‘n fees met gewone kos! Dit beteken dat ons gewone lewe ‘n fees kan, mag, moet wees! Daarvoor het ons genoeg rede: Jesus se offer in ons plek, vir al ons sonde!  Sy opstandingslewe waaraan ons mag deelneem! Ons is versoen, vergewe, verlos, vry.

Terloops, die nagmaal kom nie tot sy reg in ‘n gemeente van honderde lidmate nie. Sowel die feeskarakter as die noue onderlinge gemeenskap van die gesamentlike maaltyd gaan grootliks verlore. Eintlik sal nagmaal én doop beter in kleiner groepe binne die groot gemeente tot hul reg kom. Dit sal dit ook veel meer deel van ons gewone lewe maak.

Wat ons tydens die nagmaal met ons mond eet, is nie so belangrik nie, solank dit gewone kos is. Wat ons met ons geloof eet, is wat tel. Ons eet die liggaam en bloed van Jesus. Hy beklemtoon dit self ook dikwels:  `Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe’ (Joh 6:54). Die vroeë Christene was selfs beskuldig dat hulle mensvreters is omdat hulle iemand eet. ‘n Mens hoef dit nie net af te maak as ‘n belaglike misvatting nie. ‘n Mens kan dit ook interpreteer as ‘n merkwaardige insig in die evangelie! Wat sê Jesus anders? Al verskil tussen Christene en kannibale, is dat kannibale ‘n mens met hul gewone mond eet, terwyl Christene vir Christus met die mond van hulle siel, die geloof eet (Nederlandse Geloofsbelydenis 35).

Dit beteken dat, net soos by die doop, (die sewende punt onder die samevattende betekenis) dit heeltemal te min is om van die nagmaal net as ‘n teken of simbool of belofte te praat. Daar gebeur iets in die nagmaal, dit verwys nie net na iets wat elders en op ‘n ander tyd gebeur het nie. Natuurlik verwys dit na die dood van Jesus. Trouens ons verkondig sy dood as ons nagmaal vier (1Kor 11:26). Die nagmaal verwys dus inderdaad na sy kruisdood. Sonder sy kruis sou daar geen nagmaal gewees het nie. Maar in die nagmaal vier ons nie net sy dood van eeue gelede nie, maar ons het met Hom gemeenskap.  Sy liggaam en bloed wat ons deur die geloof eet, is nie iets los van Hom nie, dit is ‘n Joodse manier om na Homself te verwys. Ons eet Hom in die nagmaal, net soos ons in die doop verenig word met sy kruis en opstanding sodat ons self vir die sonde gekruisig is en aan sy opstandingslewe deel het. In die nagmaal leef ons nou sy lewe saam met Hom.

Die kruis is die eerste en enigste voorbeeld in die Bybel waar die priester nie net ‘n offer bring nie, maar self die offer is. En die nagmaal is die enigste ete in die Bybel waar die gasheer nie net ‘n maaltyd aan die gaste voorsit nie, maar self die maaltyd is. Dit is wat tel. Ons eet Hom, dit beteken ons vereenselwig ons volkome met Hom in die nagmaal. Soos kos in ‘n mens ingaan, deur jou liggaam opgeneem en deel van jou word, so kom Christus in die nagmaal in ons in, word deel van ons, en bly in ons. `Wie in My bly, en Ek in hom …’ (Joh 15:5).

Kindermagmaal volg vanself uit kinderdoop. As ons glo dat ons kinders van gelowige ouers deur die doop amptelik in die verbond moet opneem, moet ons hulle ook tot die verbondsmaaltyd toegang gee. As ons glo dat die nagmaal gegee is om ons swak geloof te versterk (Heidelbergse Kategismus Sondag 25), dan tog seker ook kinders se geloof wat waarskynlik nog swakker is as volwasse Christene s’n. Enige ekstra voorwaardes wat nie ook aan ander lidmate gestel word nie verloën ons belydenis dat die kinderdoop ‘n wettige vorm van doop is. Die doop gee toegang tot die nagmaal of dit is nie die doop van die NT nie. Die kind behoort vandat hy of sy gedoop is, volle toegang tot die nagmaal te hê presies soos die lidmate wat reeds belydenis van geloof afgelê het. Natuurlik moet hulle ook net soos al die ander lidmate aan die tug onderworpe wees.

Om 1Kor 11:27ev op klein kindertjies van toepassing te maak, is nie verantwoord nie, net so min as 2Tes 3:10.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König