Geloofsvrae: Die posisie van die vrou in die Bybel

Geloofsvrae: Die posisie van die vrou in die Bybel – Adrio König

Die posisie van die vrou in die Bybel 

Die Bybel is ‘n manlike boek – patriargaal en androsentries (gesentreer op die man). Die vrou beklee ‘n onderhorige plek. Sy is huisvrou en moeder. Sy het nie veel van ‘n eie regsposisie nie, en is volkome op haar man aangewese. Sy staan eintlik in diens van haar man en sy familie om kinders (veral seuns) vir hulle voort te bring want dit is hoe die man se familie uitgebou word. Vroue is nie noodwendig sleg behandel nie (en tog: Gen 19:6-8!!), veral nie moeders nie, maar hulle het ‘n onderhorige sosiale en regsposisie beklee, in Israel selfs swakker as onder sekere groot kultuurvolke soos die Egiptenare en Babiloniërs.

Die vraag vir ons is wat die status en waarde van hierdie duidelike tendens in die Bybel is. Is dit deel van die evangelie, of is dit, soos die manlikheid van God, deel van die kulturele pakket waarin die evangelie na ons toe kom?

Dit is dikwels moeilik om ‘n antwoord op so ‘n vraag te kry. Ons gaan egter weer doen wat ons in verband met die manlikheid van God gedoen het. Ons gaan kyk of hierdie duidelike tendens van vroue-onderhorigheid betekenisvol deurbreek word in die Bybel. As dit die geval is, kan ons met ‘n redelike mate van reg aanvaar dat dit deel van die kultuur van daardie tyd was, en nie vir ons gesaghebbend is nie.

Ongelukkig kan ons ons nie so maklik op Jesus beroep as Iemand wat ‘n besondere plek aan vroue gegee het nie. Daar is sommige wat oortuig is dat Hy by uitstek as die eerste vrouebevryder beskou kan word, en dat veral Lukas Hom teken as die een wat aan die vrou ‘n nuwe plek in sy dissipelkring, in die geloofsgemeenskap en in die samelewing gee. Maar daar is ander wat dit ten sterkste ontken, en ongelukkig met sterk argumente.

Daar is egter ‘n aantal plekke in die Bybel waar daar merkwaardige deurbrekings van die onderhorige posisie van die vrou voorkom (Gen 1, Gen 2-3, Hooglied, Gal 3:28, 1 Kor 7:3-5).

  1. Genesis 1 en Genesis 2-4 

Tradisioneel is daar aanvaar dat die onderhorigheid van die vrou ‘n `skeppingsordening’ is, dit wil sê ‘n permanente reëling van God by die skepping van man en vrou. Dit is egter moeilik om dit te handhaaf in die lig van wat werklik in die eerste twee skeppingsverhale staan.

Gen 1:26-28 beklemtoon sonder meer die gelykheid van man en vrou. Sonder onderskeid word dieselfde dinge van hulle gesê: Hulle is geskape as die beeld van God, om te vermeerder en te heers, om die aarde te bewoon en te bewerk, en hulle vorm saam `die mens.’ Ons is nie regtig verbaas genoeg oor hierdie opvallende gelykheid tussen man en vrou in Gen 1 nie omdat ons die kulturele agtergrond vergeet. Onthou volgens die oorwegende tendens in die Ou Testament was die vrou onderdanig aan die man, in werklikheid een van sy besittings. Gen 1 deurbreek hierdie patroon radikaal.

En netso Gen 2-4. Die gelykheid van man en vrou is hier nog te meer opvallend as ‘n mens onthou dat die patriargale kultuur nog sterk deurkom in ‘n paar trekke in die Gen 2. Eerstens is daar die ontmoeting. Dis nie man en vrou wat mekaar ontmoet nie, dis die man wat die vrou ontmoet, oor haar juig, en haar vat as sy vrou. Verder is dit hy wat haar ‘n naam gee, wat tradisioneel sy gesag oor haar aandui. Sy neem op geen manier in hierdie ontmoeting inisiatief nie. Dit is die bekende kulturele patroon van vroue onderdanigheid.

Teen hierdie agtergrond is daar opvallende trekke in die verhaal. Die man kom glad nie na vore in die skepping van die vrou nie. Hy ontvang haar net. Verder word beklemtoon dat sy sy gelyke is. Voordat ons verder hierop ingaan, moet ons net onthou dat `gelyke’ hier basies beteken `van dieselfde soort,’ wat beteken sy is nie ‘n dier nie. Die man se uitroep (2:23) beteken iets soos: Uiteindelik is hierdie een nie soos een van die diere nie, maar van dieselfde soort as ek (vergelyk 2:18-20).

Maar die gelykheid van man en vrou word sterker as dit beklemtoon. Allereers kan die man nie alleen regkom nie. Terwyl daar ‘n deurlopende tema in Genesis 1 is: `En God het gesien dit is goed,’ lees ons hier van iets wat God gemaak het wat nie goed is nie: die man wat alleen is (2:18). God besluit dus om iemand te skep wat hom kan help, sy gelyke.

Die gedagte dat ons hier ‘n skeppingsordening van ongelykheid en vroue-onderdanigheid het, word sterk gebou op die oortuiging dat die vrou as `helper’ onder die man staan omdat ‘n `helper’ noodwendig die mindere is. Dit het egter geen grond nie. Daar is geen rede om te dink dat helper hier onderhorige beteken nie. God word self herhaaldelik Israel se helper genoem (Eks 18:4; Deut 33:7; Ps 20:3). Verder is daar ‘n aantal voorbeelde waar gelykes helpers genoem word, maar daar is geen voorbeeld in die Bybel waar ‘n mindere ‘n helper genoem word nie. Net een van twee afleidings is moontlik: óf die vrou is die man se meerdere (soos God Israel s’n is), óf sy is sy gelyke waarsonder hy nie kan regkom nie.

Die laaste moontlikheid word ondersteun deur die naam wat hy haar gee. In die Hebreeus sit hy net ‘n vroulike uitgang agter die woord vir man. Die OAV het hierdie opvallende woordspeling nog probeer weergee met man-mannin. Die Hebreeus dui aan dat daar net een verskil is tussen man en vrou: die een is van ‘n ander geslag as die ander een. Die vrou is ‘n vroulike mens, die man is ‘n manlike mens.

Teen die patriargale agtergrond van hierdie verhaal is hierdie beklemtoning van gelykheid merkwaardig, en ‘n mens kan aanvaar dat die OT se patriargale kultuur van vroue-onderdanigheid hier deurbreek word.

Wat die sonde van Adam en Eva betref, is dit opvallend dat Adam glad nie na vore kom nie. Die vrou neem al die inisiatief. Sommige is oortuig dat dit juis deel van haar sonde is: nie net dat sy ongehoorsaam aan God was nie, maar dat sy die skeppingsordening deurbreek het waarvolgens sy onderdanig aan haar man moet wees. Sy het al die inisiatief geneem – en kyk waarop het dit uitgeloop. Dus vroue moet onderdanig bly!

In die verhaal is egter geen grond vir hierdie siening nie. Die skepping van die vrou het juis hul gelykheid beklemtoon, en daar is geen aanduiding in die verhaal dat deel van haar sonde die feit is dat sy inisiatief neem in plaas van om dit aan haar man oor te laat nie.

Die straf van die vrou is interessant (3:16). Hier is vir die eerste keer sprake dat die man oor die vrou sal heers. Dit is egter nie meer deel van die skeppingsverhaal nie, maar van haar straf. En juis daarom kan dit nie as ‘n vasstaande skeppingsordening beskou word nie – net so min as die straf wat die man gekry het (3:17ev). Ons probeer sover moontlik `die `dorings en dissels’ uitroei om die man se straf teen te werk, en ook om die straf van die vrou te beperk dat sy sal swaarkry as sy geboorte gee. Daar is dus nie rede waarom ons nie haar straf dat haar man oor haar sal heers, ook sal teëwerk nie.

  1. Hooglied 

Wat ‘n merkwaardige lied! Die heerlike liefdesverlange en -vervulling van ‘n jong man en ‘n jong vrou.

Wat die lied egter so belangrik maak vir ons ondersoek, is die feit dat dit totaal uit die heersende patriargale en androsentriese kultuur uitbreek en ‘n vars, verkwikkende verhouding van wederkerigheid tussen twee verliefdes skep. Vir die oomblik gaan ons die tradisionele uitleg aanvaar dat die koning in werklikheid koning Salomo is. Dit beteken dat die twee rolspelers die magtige koning is en ‘n plaasmeisie wat in die wingerde werk.

Daar is geen sprake van manlike oorheersing of selfs net eensydige manlike inisiatief in die lied nie. As iets waar is, is dit eerder dat die meisie se aandeel dié van die man oortref. Dit blyk selfs uit die noukeurig saamgestelde struktuur van die boek. Dit bestaan hoofsaaklik uit ‘n aantal liedere wat die man en die meisie oor mekaar maak. Haar liedere is egter byna twee keer so lank soos syne, en die hoogtepunt van elk van die drie hoofdele van die boek is ‘n lied van haar ekstase oor hom.

Die inisiatief in hul verhouding word vrylik afgewissel tussen man en meisie sodat ons ‘n verhouding van wederkerigheid kry. Eers hy (2:8-10) en dan sy (3:1-4) laat geen steen onaangeroerd om die ander te kry nie – in so ‘n mate dat selfs ons vandag vir haar sou sê: `Stadig, moenie dat hy die indruk kry jy is verleë oor hom nie. Laat hy die inisiatief neem.’ En dan geld dit honderd maal meer dat dit ‘n totale deurbreking is van die kultuur waarin hierdie lied ontstaan het.

Dit beklemtoon nogeens dat die patriargale struktuur van die verhouding man-vrou in die Bybel deurbreek word.

  1. Galasiërs 3:28 

`Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.’

Is hier net sprake van ‘n `geestelike’ eenheid – almal word op dieselfde manier salig – of het dit sosiale implikasies? Die punt wat Paulus in die brief maak, is dat die gelowiges uit die heidene niks méér hoef te doen as om in Jesus te glo nie. Hulle hoef nie ook nog besny te word en die wet te hou soos die Judaïste dit wou hê nie. Tot sovêr sal ongeveer alle partye saamstem. Maar is dit al?

Dat hierdie `geestelike’ eenheid konkrete implikasies het, is duidelik. Petrus het aanvanklik nie kans gesien daarvoor nie (2:11-14). Dit beklemtoon dat ons hier ‘n radikale verandering in menseverhoudings kry wat beswaarlik beperk kan wees tot gelyke geestelike toegang tot die heil. Dit moes uitloop op gelyke behandeling in die openbaar. Saameet in die openbaar was ‘n baie sensitiewe saak vir Jode.

Wat hierdie konkreetheid egter nog verder beklemtoon, is die `onnodige’ byvoegings wat Paulus in die teks maak. Om sy punt te maak, was die voorbeeld `Jood of Griek’ heeltemal voldoende. Hy wou net aantoon dat die Grieke deur die geloof in Christus volle lidmate van die kerk word en gelyk behandel moet word.

Waarom voeg hy by: `slaaf of vry, man of vrou’? Natuurlik om sy punt sterker te probeer maak. Maar wat beteken dit dan? Dat álle diskriminasie verbode is, nie net tussen Jode en heidene (dus op godsdienstige vlak) nie, maar ook tussen sosiale groepe en tussen mans en vroue. En juis die laaste is vir ons probleem so belangrik: `man en vrou.’

Die NAV se vertaling (`man of vrou’) is verkeerd. Daar staan eintlik: `manlik en vroulik’ en dit is ‘n aanhaling uit Gen 1:27. Dáár is dit ‘n skeppingsuitspraak wat die gelykheid van man en vrou impliseer, sodat die gelykheid van Gal 3:28 uit die skeppingsverhale gefundeer word. Paulus wil sê: onthou tog dat God hulle as gelyke bondgenote geskape het, daarom kan julle nie teen die vrou diskrimineer nie. Dit gaan dus hier om meer as die feit dat verskillende groepe op dieselfde manier salig word. Dit gaan om hul skeppingsverhouding en daarom sluit dit alle vorme van diskriminasie uit.

  1. 1 Korintiërs 7:1-16 

Ons het hier ‘n uitspraak oor die huwelik wat die beginsel van wederkerigheid, wat so sterk in Hooglied deur die kulturele grens gebreek het, op ‘n merkwaardige wyse konkretiseer, sowel in die struktuur as in die inhoud van die perikoop.

Die struktuur is net so versigtig en planmatig saamgestel soos dié van Hooglied. Daar is sewe pare stellings wat op verskillende plekke in hierdie perikoop voorkom. Elke paar bestaan uit twee dele wat presies dieselfde sê oor die rol van die man en die vrou in die huwelik. Paulus begin elkeen van die eerste twee pare met die man as onderwerp gevolg deur die identiese stelling met die vrou as onderwerp (verse 2,3). Dan volg twee wat presies omgekeerd is (die vrou as onderwerp gevolg deur die man as onderwerp – 4,10-11), dan weer twee wat met die man begin (12-14), en uiteindelik die laaste een wat weer met die vrou begin (16). Dit vorm ‘n merkwaardige simmetrie wat baie fyn beplan is en op die volkome wederkerigheid van die man en die vrou in die huwelik dui.

Die inhoud onderstreep hierdie wederkerigheid. Die eerste stelling (2) poneer die beginsel van wederkerigheid. Die tweede (3) pas dit op die seksuele lewe toe. Dit begin met die man wat sy (seksuele) plig teenoor sy moet vrou nakom. As ‘n mens onthou dat die kulturele agtergrond was dat die vrou ‘n besitting van die man is wat sy geslag moet voortsit, is dit merkwaardig dat die vrou skielik haar eie waardigheid kry en dat die man ‘n plig het om haar behoeftes te bevredig. Eintlik was sy in die tradisionele kultuur net daar tot sy beskikking.

Die volgende twee stellings begin by die vrou en draai dit dan om na die man (vers 4 en vers 10-11). Die eerste stelling pas presies in by die kulturele patroon: `Die vrou beskik nie oor haar eie liggaam nie, maar die man.’ Dit beteken die vrou is die besitting van die man om sy behoeftes te bevredig. Hy beskik oor haar liggaam. Maar dan waag Paulus om dit om te keer – en dit is revolusionêr: `Net so beskik die man ook nie oor sy eie liggaam nie, maar die vrou.’ Dit deurbreek die androsentriese huweliksmodel radikaal. Watter beskikking die man ook al tradisioneel oor die vrou het, het die vrou ook oor die man!

Voordat Paulus die volgende stelling formuleer (10-11), bring hy ‘n nuwe woord by wat die nuwe huweliksmodel bevestig: mekaar. Sy uitspraak klink ewe revolusionêr as die vorige: `Moenie vir mekaar (seksuele) omgang weier nie’ (5). Selfs hieroor kan die man nie meer eensydig besluit nie. Hulle gaan dit saam doen. En dit word die nuwe model vir die huwelik: nie die man wat die laaste woord het en die vrou wat onderdanig is nie, maar twee mense wat hul besluite saam neem, selfs hierdie allerintiemste besluite wat tot dusver vanselfsprekend die man se prerogatief was.

Hierdie perspektief deurbreek nogeens die patriargale huweliksmodel wat nog in die grootste deel van die Bybel veronderstel word, en selfs ook die moderne `verligte’ patriargale model waarvolgens die vrou natuurlik saam met die man kan besluit, maar sodra hulle verskil, moet die man die besluit neem `omdat daar net een besturende direkteur in ‘n besigheid kan wees.’ Asof die huwelik ‘n besigheid is en nie die allerintiemste saamleef van twee mense wat albei veilig moet voel in ‘n verhouding van geborgenheid nie.

Die res van die parallelle stellings bevestig net verder die wedersydse struktuur van die Christelike huwelik. Dit beteken dat ons nie langer onseker hoef te wees oor die rykwydte van Gal 3:28 nie. Dit geld minstens ook die huwelik.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König