Geloofsvrae: Die verhouding gawes-vrug
Geloofsvrae: Die verhouding gawes-vrug – Adrio König
Die verhouding gawes-vrug
Gawes óf vrug?
Daar is in sekere kringe ‘n neiging om die vrug en die gawes van die Gees as alternatiewe te sien en dan een van die twee te kies en die ander te verwaarloos. Dit kom gewoonlik voor in kerklike kringe wat ‘n reaksie het teen die gawes of die gawes wil beperk tot die tyd van die NT.
Daar het ‘n hele teologie ontwikkel om hierdie posisie te probeer regverdig, die sg. streepteologie. Hiervolgens was die gawes net bedoel vir die vroeë Christene toe die kanon nog nie finaal vasgestel was nie. Dit word afgelei uit 1Kor 13:10, waarvolgens die gawes, wat die onvolmaakte dinge genoem word, sal verdwyn `wanneer die volledige kom.’ Normaalweg word aanvaar dat dit wys op die wederkoms van Christus. Die gawes sal dus tot by sy koms aanhou.
Die argument teen die voortgang van die gawes meen egter dat `die volledige’ die volledige Bybel is, die kanon. Dié het teen die middel van die vierde eeu finaal beslag gekry, en die gawes sou dan inderdaad gedurende hierdie vroeë eeue opgehou het.
Dit is ‘n kwalike beskouing met min goeie gronde. Die verband spreek sterk teen dié verklaring van `die volledige.’ Direk daarna (vers 12) werk die apostel met ‘n teenstelling tussen `nou en eendag’ waar `eendag’ duidelik nie na die afsluiting van die kanon kan verwys nie maar na die voleinding van die wêreld. Daar is ook geen goeie teologiese rede waarom die gawes moet ophou voor die voleinding van die ou wêreld nie. Die funksionering van die gemeente word so beslissend aan die gawes verbind dat ‘n gemeente sonder gawes ‘n anomalie is. Verder is dit duidelik dat die gelowiges inderdaad die soort gawes waarna in die NT verwys word, in hierdie bedeling sal nodig hê .
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.
Skrywer: Prof Adrio König