Geloofsvrae: Die vervulling van profesieë (beloftes)

Geloofsvrae: Die vervulling van profesieë (beloftes) – Adrio König

Die vervulling van profesieë (beloftes)

Om iets te verstaan van dit wat gewoonlik `die tekens van die tye’ genoem word (soos die Antichris, die groot verdrukking, die terugkeer van Israel na Palestina), en ook hoe ons moet dink oor die groot gebeurtenisse wat ons verwag, moet ons vra wat beloftes (profesieë) is en hoe dit vervul word.

Profesieë is meer as voorspellings

Die blote feit dat ons kies om van beloftes (of profesieë) te praat, en nie van voorspellings nie, is betekenisvol. Daar is belangrike verskille tussen profesieë en voorspellings. ‘n Voorspelling kom eenmaal uit en daarna verloor dit sy betekenis, maar ‘n profesie of ‘n belofte word herhaaldelik vervul.

Die weervoorspelling vir môre is óf reg óf verkeerd, maar vir oormôre het ons ‘n nuwe voorspelling nodig. Daar is sulke voorspellings in die Bybel, veral in Konings (vgl 1Kon 11:29-39 met 12:15-20; 1Kon 13:1-2 met 2Kon 23:15-20; 1Kon 14:1-16 met 14:18 en 15:19), maar hulle speel nie ‘n rol in die heilsgeskiedenis nie.

Hierteenoor word profesieë of beloftes herhaaldelik vervul. ‘n Goeie voorbeeld is die profesie oor die dag van die Here (Amos 5:18-20). Dit word vervul in die volgende gebeurtenisse:

  • in die val van Jerusalem (Eseg 13:5; Klaagl 1:12; 2:1,22),
  • in die aardse  optrede van Jesus (wat volgens Lk 4:16-21 ‘n vervulling is van die profesie oor die dag van die Here in Jes 61:2),
  • die koms van die Heilige Gees (wat volgens Hand 2:16ev ‘n vervulling is van die profesie oor die dag van die Here in Joël 2:31), en
  • Jesus se wederkoms (2Pet 3:12; Open 16:14).

Ander profesieë herhaaldelik vervul

  • Daar is die profesie van Mal 3:1-2 wat vervul word in Johannes die doper (Mark 1:2) en weer in die oordeelsdag (Open 6:17).
  • Jesaja 49:8 is vervul in die terugkeer uit die ballingskap en weer deur die verkondiging van die evangelie in die NT (2Kor 6:2).
  • Die belofte van die land Kanaan (Gen 17:8) is vervul met die uittog uit Egipte, maar word later uitgebrei na die sagmoediges wat die nuwe aarde sal beërf (Mat 5:5).

Trouens dit is opvallend dat ons telkens van `die nuwe’ lees: ná die uittog uit Egipte, kom die nuwe uittog, die terugkeer uit die ballingskap, en later het Jesus self ‘n uittog uit Egipte (Mat 2:14-15) omdat Hy die rol van die ontroue volk oorneem. Nadat die belofte van ‘n koning in Dawid vervul is, word dit weer in die Seun van Dawid vervul. En so kry ons ‘n nuwe verbond, ‘n nuwe Jerusalem, en ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde.

Stippellyne van God se pad

Hieruit is alreeds ‘n tweede verskil tussen voorspellings en profesieë duidelik. Terwyl voorspellings letterlik moet uitkom, word profesieë op ‘n vryer wyse vervul, en gewoonlik ook ryker as wat ‘n mens uit ‘n letterlike interpretasie van die profesie kan aflei. Dit maak profesieë eerder stippellyne wat aandui in watter rigting God met die wêreld op pad is, en nie voorspellings van presies wat sal gebeur nie.

Die vervulling van Joël 2:28-32 in die uitstorting van die Heilige Gees (Hand 2:16ev) is ‘n klassieke voorbeeld. Uit ‘n letterlike interpretasie van Joël 2 sou ‘n mens nooit kon aflei wat regtig in Hand 2 gebeur het nie. Die element van oorlogsrumoer (bloed, vuur, rookwolke) kom glad nie in die vervulling in Hand 2 na vore nie, en ‘n aantal kleiner besonderhede oor die Gees speel ook nie ‘n rol in die vervulling nie. In ‘n voorspelling sou elke detail presies moes uitkom, maar hier is dit nie die geval nie. In die kerk van die NT is daar byvoorbeeld nooit besondere sprake van oumense se drome en jongmense se gesigte nie. Wat wel in Hand 2 gebeur, is dat die Gees in sy volheid kom om meer te doen as om nog ‘n oorlog vir Israel te wen!

Ook die profesie van Amos 9:11-12 word nie eens naastenby letterlik vervul nie (Hand 15:13-19). Israel se fisiese oorwinning oor Edom en ander nasies word geprofeteer, maar Jakobus sê die profesie word vervul in die bekering van die heidene.

Wat dadelik opval, is dat die vervulling nie net anders verloop as wat die letterlike interpretasie ‘n mens sou laat verwag nie, maar dat die vervulling elke keer baie heerliker is en baie nader aan die hart van die evangelie lê as die letterlike interpretasie.

Dit beteken egter dat ons baie versigtig moet wees hoe ons profesieë interpreteer wat nog nie vervul is nie. Daar is ‘n soepelheid in die vervulling wat ‘n mens telkens verras. Juis daarom kan profesieë in meer as een gebeurtenis vervul word soos vroeër aangedui, en het ons nie ‘n helder beeld oor presies hoe die dinge gaan gebeur wat nog in die toekoms lê nie.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König