Geloofsvrae: God se almag
Geloofsvrae: God se almag – Adrio König
God se almag
By die bespreking van die wese van God is doelbewus oor sy `mag’ gepraat. In die geskiedenis van die kerk is voorkeur gegee aan die begrip `almag.’ Dit is een van ‘n aantal begrippe wat mense vir God gebruik, maar wat nie so direk uit die Bybel afkomstig is nie maar eerder uit sekere strominge in die Griekse filosofie, begrippe soos alomteenwoordigheid, alwetendheid, onkenbaarheid. Daarom is die bespreking van hierdie begrippe tot nou toe uitgestel. Kom ons kyk eers na die begrip almag.
In die Apostoliese Geloofsbelydenis word eksplisiet net een eienskap van God genoem: `die Almagtige.’ Mense wat graag balans in die belydenis wil sien, wys tereg daarop dat, voordat ons sy almag bely, ons bely dat God `die Vader‘ is, wat beteken dat God omgee. Die probleem is natuurlik dat dit slegs ‘n indirekte belydenis is waaruit ons wel die liefde van God kan aflei, sonder om dit in soveel woorde te bely. In die teologiegeskiedenis is God dan ook veel eerder met almag as met liefde beskryf, en het sy liefde selde of ooit ‘n plek gekry in die `definisies’ wat teoloë van God gegee het, al was dit (gelukkig!) nie altyd waar van die prediking en die persoonlike vroomheid nie.
In die Bybel is alles nie so duidellik nie. In die OAV het die woord `almag’ selde voorgekom. In die NAV kom dit veral in die OT dikwels voor omdat die vertalers besluit het om twee benaminge van God (El Shaddai en Jahwe Zebaot), waarvan die betekenis nie regtig vasstaan nie, te vertaal met `die almagtige God’ en `die Here die Almagtige.’ Bybellesers kry nou die indruk dat dit omtrent op elke bladsy van die Bybel staan dat God almagtig is, terwyl die Bybel in werklikheid opvallend selde dié gedagte uitspreek.
Die tweede probleem is dat die begrip `almag’ eerder in terme van sekere strominge in die Griekse filosofie verstaan word as in terme van die Bybel. Baie Christene verstaan onder almag die letterlike betekenis dat God enige tyd enigiets kan doen. Hierdie almagsbegrip het sy eie probleme, want ‘n mens kan God se almag beswaarlik letterlik verstaan as sy vermoë om enigiets te doen. God kan byvoorbeeld nie ‘n klip maak wat so swaar is dat Hy dit nie kan optel nie.
Maar ‘n mens besef natuurlik dadelik dat dít ook nie regtig die soort mag is wat in die Bybel aan God toegeskryf word nie.
In die bespreking van die wese van God het ons die onderskeid gemaak tussen sy oorredende mag en sy oorweldigende mag. Daar is duidelike voorbeelde van oorweldigende mag, van God wat eenvoudig oor sy vyande loop. Veral die apokaliptiese boeke het voorbeelde hiervan. Dit is egter iets wat by geleentheid gebeur en nie op staande voet nie. Dit is eerder die uitsondering as die reël. Dit getuig daarvan dat God soms op ‘n vreemde manier optree en sy vyande oorweldig. Ons kom ook sterk onder die indruk hiervan in die stryd van Jesus teen die bose magte. Hy vernietig hulle eenvoudig.
Die oorweldigende indruk wat ‘n mens egter uit die Bybel kry, is nie dat God te enige tyd enige iets kan doen nie, selfs nie as Hy dit graag wil hê nie. Inteendeel, God word dikwels gefrustreer in sy planne met Israel, Hy moet vir lang tye by hulle pleit om na Hom te luister, daar is dikwels baie min reaksie op sy dreigemente by monde van die profete, sodat Hy dikwels nuwe inisiatiewe moet neem as mense enduit onwillig bly om positief te reageer.
Natuurlik is daar ‘n manier om hierdie gegewens te probeer interpreteer sodat ‘n mens nog altyd kan vashou aan die gedagte dat alles wat gebeur, die direkte beskikking van God is omdat Hy almagtig is en dus enige oomblik alles kan laat gebeur wat Hy wil. Later sal dit egter blyk dat dít ‘n pad is wat ‘n mens beswaarlik kan loop. Dit verwring eenvoudig die duidelike patroon wat ons uit sy eeuelange omgang met Israel aflees.
Daarom is dit miskien die beste om te aanvaar dat God met sy oorweldigende mag mense kan vernietig, maar dat God nie mense kan dwing om iets te doen nie, soos om hulle te bekeer en Hom lief te hê nie. Daarvoor kan Hy net sy oorredende mag gebruik, en mense (die volk Israel!) kan weier om daarop te reageer. In die volgende paragraag word verder hierop ingegaan.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.
Skrywer: Prof Adrio König