Geloofsvrae: God se heiligheid en toorn

Geloofsvrae: God se heiligheid en toorn – Adrio König

God se heiligheid en toorn

Net soos God se geregtigheid nie teenoor sy liefde staan nie maar eerder ‘n vorm van sy liefde is, so staan sy heiligheid ook nie teenoor sy liefde nie. Dit sê eerder iets oor die aard of die grens van sy liefde.

 

In die ou Bybelvertalings het ons nog gelees dat God jaloers is (Eks 20:5). Dit kon natuurlik misverstaan word, want jaloesie tussen mense is lelik. Daarom vertaal nuwer vertalings dit met iets soos: die God wat onverdeelde trou eis, of die God wat omgee vir ons liefde, die God wat nie mededingers duld nie. God se liefde is so eg en ernstig dat Hy kan seerkry. As ons sy liefde nie met wederliefde beantwoord nie, krenk dit Hom. Enigiets van ons kant is nie maar goed genoeg nie. Hy het ons met onverdeelde liefde lief, en Hy eis onverdeelde liefde van ons.

Dit is vir Hom so ‘n ernstige saak dat ons selfs van sy toorn lees. As ons deur ons ontrou sy liefde misken, wek ons sy toorn op sodat ons onder sy oordeel kom. Ons moet nie sy toorn verwar met woede of haat as onbeteuelde emosionele reaksies waarin Hy buite Homself is en dinge doen waaroor Hy later spyt kry nie. Sy toorn en straf is berekende reaksies van die God wat liefde is, sodat die miskenning van sy liefde Hom wesenlik raak. Sy toorn pas by sy liefde, dit sê hoe eg en diep sy liefde is.

Dit is ook nie waar dat sy toorn tot die OT beperk is en eintlik maar ‘n vroeë vorm van Israel se geloof reflekteer wat later tot ‘n hoër trap sou ontwikkel het sodat sy liefde sy toorn heeltemal vervang het nie. Net soseer as wat ons alreeds in die OT van sy liefde lees (o.a Hos 11!), lees ons in die NT nog steeds van sy toorn oor dié wat sy liefde verwerp. Net in die Romeinebrief alleen kry ons dit minstens ses keer (soms met `straf’ vertaal: 1:18; 2:5; 4:15; 5:9; 9:22; 12:19).

‘n Deel van God se heiligheid is sy afkeer van die sonde. `U is nie ‘n God wat onreg verdra nie, die kwaad het by U geen plek nie’ (Ps 5:5). Hy haat selfs almal wat onreg doen en verafsku moordenaars en bedrieërs (vers 6-7). Dit beteken nie dat daar nie vergifnis by God is nie, trouens dit beteken juis dat mense opgeroep word om hulle te bekeer sodat die Here hulle kan vergewe en hulle die toorn van God kan ontvlug.

Daar is ‘n sin waarin hierdie heiligheid en toorn van God tot die wese van die evangelie behoort. As God nie omgegee het vir ons liefde nie, sou ons sy liefde ook nie kon ernstig neem nie, dit sou goedkoop, vryblywende liefde gewees het waarop ‘n mens nie kon reken nie. Dat sy liefde heilige liefde is, liefde wat beantwoord moet word, maak dit duur liefde waarop ons kan reken. En ons kan Hom dank vir sy eis dat ons Hom met wederliefde moet antwoord en net aan Hom getrou moet bly, want wat sou van ons geword het as ons maar tussen verskillende gode kon rondskarrel?

Was Augustinus nie reg toe hy gesê het dat ons vir God gemaak is en dat ons harte onrustig sal bly tot dit rus vind in Hom nie? Is ons verhouding tot God nie deel van ons menswees nie?

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König