Geloofsvrae: God se trou

Geloofsvrae: God se trou – Adrio König

God se trou (geduld, onveranderlikheid, veranderlikheid)

Dat God onveranderlik is, staan vir baie gelowiges sondermeer vas. Elke verandering waarin God volgens die Bybel betrokke is (soos die berou van God of dat Hy van besluit verander), word dan só uitgelê dat dit met sy onveranderlikheid rym. Dat Hy berou het en sy beslissing verander, word dan gesien as ‘n mensvormige manier van praat omdat ons nooit sou kon verstaan as Hy sou sê hoe Hy werklik is nie. Wat egter vreemd aandoen, is dat die teoloë wat hierdie standpunt verdedig, dan presies weet hoe Hy regtig is: onveranderlik.

Waarom hierdie reaksie teen enige moontlike veranderinge in God? Omdat die gode van die volke om Israel wispelturig was, omdat mense nie op hulle kon reken nie. As hulle die oggend `met die verkeerde voet uit die bed uit opstaan’ was enigiets moontlik!

Teen hierdie agtergrond is dit vanselfsprekend dat ons sal vashou aan die onveranderlikheid van God. Ons bedoel dan dat Hy getrou is, dat Hy sy woord hou, dat ons op Hom kan reken. Christus word die “ja” op al die beloftes van God genoem (2Kor 1:20). God se Woord staan vas, en daarom ook sy woorde en beloftes. God is dus onveranderlik in die sin dat Hy getrou is. `As ons ontrou is – Hy bly getrou: Hy kan Homself nie verloën nie’ (2Tim 2:13).

Tog is dit beter om van sy trou te praat as van sy onveranderlikheid omdat daar in die Bybel net so duidelik sprake is van sy veranderlikheid, waarmee dan nie iets negatiefs bedoel word nie.

Die Bybel praat dikwels daarvan dat God berou het (of bedroef is) oor iets wat Hy gedoen het (o.a. Gen 6:6,7; Num 23:19; 1Sam 15:11,35; Jer 4:28) en dan sy plan verander. Die bekendste voorbeeld is die verhaal van Jona. In hierdie verhaal is daar een wat onveranderlik is en een wat verander. Jona is kwaad vir God want, sê hy: `Ek het geweet U is ‘n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het’ (Jona 4:2). Dit is dus nie God wat onveranderlik is nie. Hy sien af van die straf wat Hy aangekondig het. En Jona se grootste probleem is dat God so bekend is daarvoor dat Hy afsien van die straf wat Hy aangekondig het as mense hulle bekeer, dat Jona dit al van die begin af verwag het. God is dus eenvoudig so. Ons het nie hier ‘n uitsondering nie. God verander voortdurend sy besluite sodat Hy aan sy wese getrou kan bly. Wesenlik is Hy die barmhartige God wat berouvolle sondaars vergewe. As die mense hulle bekeer, het Hy dus `berou’ oor sy besluit om hulle te vernietig.

Wie is dan onveranderlik? Jona. Hy wil hê dat God `konsekwent’ moet wees, dat Hy moet voortgaan met die straf waarop Hy besluit het. Hy voel dat hy dan sal weet waar hy aan of af is met God. Dan sou Jona nie in die verleentheid beland het dat die oordeel wat hy (in die Naam van God!) aangekondig het (en heimlik natuurlik geniet het, want die Assiriërs was aartsvyande van Israel), nooit voltrek word nie. Maar nou sal hy beskou word as die profeet wat die vyande van Israel betyds gewaarsku het sodat hulle nie vernietig is nie! Verraaier! Hy moes nooit soveel sukses met sy prediking gehad het nie!

Met sulke skewe waardes sit ‘n mens – en ‘n God – wat onveranderlik is in die sin dat jy nie kan reageer op ‘n nuwe situasie nie.

Daar is min dinge wat duideliker in die Bybel is as dat God verander. Hy leef telkens in nuwe verhoudinge met nuwe verantwoordelikhede. Deur te skep, word Hy Skepper, en ná die skepping is Hy ook Onderhouer. Hy word die God van Abraham, later die God van Israel, die troue verbondsgod wat nooit voor die skepping in ‘n verbond met mense geleef het nie. In Jesus word Hy ‘n mens, en dit ‘n vernederde mens. God kom voortdurend in nuwe situasies en verhoudings te staan. In hierdie sin verander Hy voortdurend.

Maar dit alles net omdat Hy in ‘n ander sin onveranderlik is, of liewer (aan Homself) getrou bly, getrou aan sy wese, getrou aan sy skeppingsdoel as die God wat gemeenskap stig om ander in sy vreugde te laat deel.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König