Geloofsvrae: God se Vryheid

image_pdfimage_print

Geloofsvrae: God se Vryheid – Adrio König

God se vryheid

God se vryheid lê nie op dieselfde vlak as sy liefde nie. God se liefde is sy wese. Sy vryheid is sy vermoë om sy wese uit te leef. God se liefde is die doel van sy bestaan. Sy vryheid is die `infrastruktuur’ of die manier om hierdie doel te bereik. Dit gaan dus nie om sy vryheid nie, maar om sy liefde.

Hy gebruik net sy vryheid in diens van sy liefde. En omdat ons as sy beeld geskape is, sal ons dit alles natuurlik weer teenkom onder die mens se vryheid. Ook ons bereik net ons doel as ons liefhet, en ons vryheid het net een doel: om ons in staat te stel om lief te hê.

 

Oor God se vryheid kan ons ses dinge sê. Dit sal in drie pare van twee elk wees, elke keer eers ‘n positiewe betekenis van sy vryheid gevolg deur ‘n negatiewe een.

Eerstens beteken God se vryheid positief dat Hy onafhanklik is. Hy word deur niks buite Homself gebind of beperk nie. Hy is nie op enigiets aangewese of van iets afhanklik nie. Hy bestaan deur Homself, Hy motiveer Homself, Hy besluit en doen wat Hy wil sonder dat iemand aan Hom kan voorskryf. Dit beteken dat Hy nie van buite af beperk word in wat Hy wil doen nie. As Hy skep, kan Hy uit niks skep. Hy is dus vry om te skep presies soos Hy wil. Daar is nie ‘n oerstof wat die moontlikhede beperk van dit wat Hy wil skep nie. Net Hy bepaal die aard en struktuur van sy skepping. En juis omdat Hy liefde is, kan ‘n mens verwag dat sy skepping juis op liefde ingestel sal wees en dat liefde dié wyse sal wees waarop sy skepsels goed sal funksioneer.

Maar sy vryheid beteken ook dat Hy vry is om te verlos. As Hy uit niks kan skep, kan Hy ook `uit niks’ verlos, dan is Hy nie beperk deur die gebrek aan die goedheid of geregtigheid van die sondaars voordat Hy hulle as sy kinders kan aannneem nie. Hy regverdig die goddelose, nie die goeies nie. Om uit niks te verlos beteken om aan die een wat geen geregtigheid het nie, geregtigheid te skenk, soos Hy in die skepping aan iets wat nie bestaan nie, bestaan skenk. Ons hoef geen bydrae tot ons verlossing te lewer nie.

Net so is Hy ook vry om uit die dood op te wek. Daar hoef nie in die dooie nog moontlikhede aanwesig te wees nie. Hy is nie deur die dood beperk nie want Hy skenk lewe. Hy wek ook uit niks op.

Tweedens vloei hieruit ‘n negatiewe betekenis van God se vryheid: God is nie ‘n slaaf van sy vryheid nie. Hy is nie verplig om los van alles en almal te bly nie. Hy is ook vry om Homself te bind, om in verbondenheid te leef. Hy staan nie los van sy skepping nie. Hy onderhou en versorg sy skepping, en uiteindelik sal Hy dit nuutmaak. In sy vryheid het Hy Homself gebind om nooit weer op ‘n ander manier God te wees nie as Abraham se God, Israel se God, ons God, ons troue Bondgenoot. En in dieselfde vryheid het Hy ons aan Hom verbind om sy troue bondgenote te wees. Hy het Hom ook verbind om juis die Bondgenoot te wees van die wat minder het en in nood is. In Jesus sien ons op merkwaardige wyse hoe sy vryheid die infrastruktuur van sy liefde is: Jesus is vry om teen al die geykte voorskrifte en godsdienstige reëls in, die uitgestotenes lief te hê: die tollenaars en straatvroue.

Die derde betekenis van God se vryheid is dat Hy Heer is, dat Hy regeer, dat Hy die inisiatief neem, dat Hy bepaal wat sy én ons verpligtinge in die verbond is, dat Hy besluit om die verbond te handhaaf nadat ons dit verbreek het. Hy word dus nie gebind deur ons ontrou nie. Hy is meer as ons, hoër as ons, die Vader wat in die hemel is, die Een wat gedien en geëer moet word.

Maar vierdens beperk sy vryheid Hom nie om nét Heer te wees, nét bo in die hemel te wees, nét geëer en geprys te word nie. Hy hoef nie nét God te wees nie. Hy is ook vry van sy hoogheid en heerlikheid en majesteit, vry om nie net hoog en heerlik te wees nie, nie net Skepper te wees nie, maar vry om óók ‘n skepsel te word, ‘n dienskneg, verstote, verag, verwerp, van God en mens verlate, vry om te ly en te sterf, en op dié wyse vry om sy vryheid prys te gee. Hy kan dit alles kies juis omdat Hy vry is, omdat sy vryheid nie sy wese is nie (Hy sou byvoorbeeld nie kon kies om van sy liefde af te sien nie), maar die infrastruktuur van sy liefde.

Ons sien hierdie vryheid-in-diens-van-die-liefde nêrens duideliker as in Jesus Christus nie, maar Hy is nie die enigste openbaring daarvan nie. Die profete en psalmdigters het al daarvan geweet en God laat sê: `Ek woon in ‘n hoë en heilige plek, en Ek is by hom wat verdruk en nederig is. Ek gee nuwe krag aan die nederiges, Ek gee nuwe krag aan die verdruktes‘ en: `Wie … is soos die Here ons God, wat hoog woon en hier onder alles sien? Die geringe help Hy op uit die stof, die arme laat Hy van die ashoop af opstaan …’ (Jes 57:15; Ps 113: 5ev).

Vyfdens maak God se vryheid Hom oop vir die toekoms. God is nie beperk deur die geskiedenis wat Hy gemaak het nie. Hy kan hierdie geskiedenis telkens oortref. Hy gee beloftes wat nooit ten volle vervul (uitvervul) kan word in hierdie ou wêreld nie maar eers in God se nuwe wêreld `tot rus’ sal kom. Hy vervul sy beloftes telkens ryker as wat ‘n mens uit die belofte kan aflei. Joël se profesie van oorlogsgedruis (2:29-32) word vervul deur die Gees wat inderdaad die wêreld vir Jesus kom `verower,’ maar nie met oorlogsgeweld kom vernietig nie. En die profesie dat Israel in die toekoms oor die Edomiete sal seëvier (Amos 9:11-12), word vervul in die heidensending! (Hand 15:15-17) Wat ‘n vryheid in die vervulling van sy beloftes!

Die toekoms wat God vir ons berei, is so onvoorstelbaar dat die Jode nà die ballingskap ‘n nuwe literatuurtipe (die apokaliptiek) moes ontwikkel om in vreemde en onwerklike beelde iets sinvols daaroor te probeer sê (veral in Daniël). Trouens God is so vry van ons mislukte geskiedenis dat Hy dit selfs kanselleer en ons ‘n aandeel gee aan ‘n nuwe geskiedenis wat Hy in Jesus maak, ‘n geskiedenis van volkome oorgawe aan Hom en volmaakte liefde vir Hom en ons naaste. Natuurlik het ons nooit hierdie geskiedenis gemaak nie, maar deur die doop en die geloof lyf Hy ons in hierdie geskiedenis in wat Jesus namens ons gemaak het, en kyk Hy na ons asof ons dit alles self gedoen het.

Hierdie toekomsgerigtheid van God is wesenlik om Hom te verstaan. Israel het Hom van die begin af leer ken as die God wat met hulle op pad is. Hy laat Abraham trek, Hy lei Israel na die beloofde land, sy beloftes open telkens nuwe horisonne: ‘n nuwe koning, ‘n nuwe uittog, ‘n nuwe Jerusalem en tempel, ‘n nuwe aarde.

Hierdie toekomsgerigtheid van God vloei voort uit sy skeppingsdoel: om in ‘n verhouding van troue liefde met mense op aarde te leef. Omdat trou net oor ‘n tydperk bewys kan word, en omdat liefde tyd vra om tot volle wasdom te kom, het God nie dadelik sy skeppingsdoel bereik nie maar is Hy voortdurend op die toekoms gerig om sy skeppingsdoel te verwesenlik. Die feit dat ons telkens ontrou is aan Hom, maak die toekoms nog belangriker omdat Hy tyd nodig het om ons vertroue te wen en ons in sy wil te laat ingroei. Wanneer ons kyk na die hoop as eienskap van die mens, sal ons op God se toekomsgerigtheid terugkom.

Laastens beteken God se vryheid en sy toekomsgerigtheid dat Hy nie uitgelewer is aan die verlede en op ‘n meganiese wyse onveranderlik is nie. As die Een wat getrou is, ook aan Homself, wat nooit in sy wese en in sy skeppingsdoel kan verander nie, verander Hy juis telkens in sy optrede sodat Hy sy doel kan bereik en aan sy wese getrou kan bly. As mense hulle bekeer, verander Hy altyd sy besluit en delg hulle nie uit nie, juis om aan sy wese getrou (onveranderlik) te bly as die Een wat altyd berouvolle sondaars vergewe. (Kyk later vir die onveranderlikheid en die trou van God)

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König

 

image_pdfimage_print

You may also like...