Geloofsvrae: Godsdiensgelykheid

Geloofsvrae: Godsdiensgelykheid – Adrio König

Godsdiensgelykheid

Godsdiensgelykheid is ‘n baie moeiliker saak as godsdiensvryheid. Die vraag is wat ons daarmee bedoel. Miskien is dit weer die beste om te onderskei tussen die staat en die godsdienstige perspektief.

‘n Mens kan beswaarlik van die staat verwag om tussen godsdienste te onderskei. Die staat werk met belastinggeld en nie met geld van een bepaalde groep nie. Daarom moet dit vir die staat om die algemene belang gaan. Maar ook van die godsdienste se kant gesien kan die staat nie kant kies nie. Dit is onwaardig vir die Christelike godsdiens, en waarskynlik behoort alle godsdienste so te voel, om op die staat te steun. Staatsondersteuning het die Christelike godsdiens duur gekos, insluitende baie geloofwaardigheid. Dit is verlammend om op staatshulp te reken in die vorm van allerlei wette om Christelike gebruike te beskerm (soos `Sabbatswette’). Christene vertrou op die krag van die Heilige Gees om mense te oortuig van die evangelie, en nie op staatsgesag om mense te dwing nie. Om op staatsgesag te steun, is om as die witbroodjie van die regering gebrandmerk te word en jou geloofwaardigheid onder ander godsdienste te verloor. Vir evangelisasie-uitreik is dit verlammend.

Die staat behoort alle godsdienste gelyk te behandel en dit aan die godsdienste oor te laat om mense te probeer beïnvloed. Dit is deel van die reg van vryheid van spraak.

Dit is egter ‘n ander saak wanneer die een godsdiens ‘n evaluering van die ander moet gee. Die Christene beskou tradisioneel nie alle godsdienste gelyk in die sin dat almal dieselfde waarde het nie. Die Christelike geloof heg ‘n unieke betekenis aan Jesus Christus, sy Vader en sy Gees. Natuurlik is daar waarheidselemente in ander godsdienste, en natuurlik is sekere vorme van samewerking tussen verskillende godsdienste volkome sinvol. Maar dit beteken nie dat, solank ‘n mens maar net eerlik en opreg is, dit nie saak maak watter godsdiens jy beoefen nie. Dit is ‘n standpunt wat die wese van die Christelike godsdiens misken, en waarskynlik ook van sekere ander soos die Judaïsme en die Islam. Hierdie godsdienste het ‘n wesenlike eksklusiwiteit wat nie onderhandelbaar is nie. En verder lei ‘n samevoeging of vermenging van godsdienste skynbaar onontwykbaar tot ‘n verlies van entoesiasme en toewyding.

Dat godsdiensondersteuners onderling respek vir mekaar as mense moet hê, is vanselfsprekend. Maar iets soos gesamentlike gebed is heeltemal ‘n ander saak. Daarom is dit beter dat daar liewer nie by openbare geleenthede gebid word nie as dat verskillende godsdienste saam aan gebede deelneem. Die krag van die Christelike gebed lê dan ook nie allereers in die simboliese waarde van openbare gebede nie maar eerder in die ernstige en volhardende voorbidding vir openbare instansies en aangeleenthede. Dit is beter om nie regeringsvergaderings en ander openbare geleenthede met gebed te open nie, omdat dit nie as ‘n godsdienstige aangeleentheid aangekondig is nie en daarom onnodig mense met ander oortuigings in die verleentheid kan stel.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König