Geloofsvrae: Goeie werke
Geloofsvrae: Goeie werke – Adrio König
Goeie werke
Goeie werke is een van die gestaltes wat die evangelie in die wêreld aanneem. (‘n Ander gestalte sal ons in die heiliging van strukture bespreek. ‘n Mens sou ook kon sê dit is deel van die doel van God met ons. Ons lees selfs dat God ons bestem het om goeie werke te doen (Ef 2:10). Hy gee sy wet aan sy volk sodat hulle kan weet hoe Hy wil hê dat hulle in die verbond moet lewe. Die wet, die tien gebooie, speel dan ook hoe langer hoe meer ‘n belangrike rol in die Bybel, eers by die profete en later in die NT.
Dit is ‘n eeueoue vraag wat die verhouding tussen geloof en goeie werke is. Enersyds word werke so hoog aangeprys dat ‘n mens kan dink ons word salig deur ons werke. In die eindoordeel word mense vrygespreek omdat hulle goeie werke gedoen het (Mat 25:31-46). Jakobus skryf `dat ‘n mens regverdig verklaar word op grond van sy dade, en nie net op grond van sy geloof nie’ (Jak 2:24). Goeie werke word in die NT baie hoog aangeslaan (Mat 16:27; Rom 2:6; 2Kor 5:10; Gal 6:7-9; Open 20:13).
Daarteenoor staan ewe sterk uitsprake dat ons nie deur ons werke nie, maar net deur die geloof en uit genade gered word (Rom 3:24, 28 OAV, Gal 2:16; 5:4! Fil 3:9).
Die saak word duideliker as ons onderskei tussen twee soorte werke: wetswerke en geloofswerke. Elke keer wanneer Paulus werke teenoor geloof stel, bedoel hy wetswerke, werke wat iemand doen om die guns van God te verdien (Rom 3:28; Gal 2:16; Fil 3:9). Die probleem met wetswerke is dat iemand nie op Christus wil vertrou nie maar self wil regkom (Rom 2:21).
Maar geloofswerke of goeie werke is iets anders. Hierdie werke word nooit teenoor geloof gestel nie. Dit vloei juis uit die geloof voort. Paulus praat van die geloof wat in dade oorgaan (Gal 5:6) Dit is die werke waarvan Jakobus praat en wat in die oordeel beloon word. Dit is die vervulling van die wet wat die Here van die begin af bedoel het as die gestalte wat die geloof van die volk moet aannneem. Die vervulling van die wet wat dan ook niks anders is as om soos God en soos Christus te leef nie, is die doel van God wat Christus deur die Gees in ons bereik (61). Dit is dan ook net ‘n ander naam vir die vrug van die Gees.
Dieselfde Calvyn wat gesê het dat ons nie deur goeie werke gered word nie, het ook gesê dat ons nie sonder goeie werke gered word nie. Die geloof wat nie vrugte dra nie, is dood (Jak 2:17). Maar dit moet geloofswerke bly, anders word dit moralisme en wettisisme wat dodelik is.
Moralisme se probleem is nie dat die standaard van heiligmaking te hoog gestel word nie. Die NT het baie volmaaktheidsuitsprake wat ons lewe direk met dié van God en Christus in verband bring. Hoër kan dit nie.
Die probleem met moralisme is dat die goeie werke as eise gestel word sonder dat dit ingebed bly in ons geloofsverbondenheid met God in Christus. Die eise word sonder die beloftes gepreek, die wet sonder die evangelie, die moete en moenies sonder die gawe van die nuwe lewe, sonder die vereniging met Christus se opstandingslewe, sonder die vrug van die Gees. In so ‘n situasie moet ‘n mens eers weer die goeie nuus hoor dat ons goeie werke in werklikheid God se goeie werke is wat Hy deur ons doen. God het ons in Christus nuutgemaak om die goeie werke te doen wat Hy vir ons voorberei het (Ef 2:10 OAV).
Het jy vanoggend jou pakkie goeie werke by Hom gaan haal voor jy uit is? Ons kan, want dit is sy gawe. Deur die doop en die geloof is ons verenig met die opgestane Christus wat ‘n oorwinningslewe ly. Leef die nuwe lewe wat jy ontvang het. Leef die goeie werke wat Hy vir jou voorberei het.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.
Skrywer: Prof Adrio König