Geloofsvrae: Jesus Christus: Sy goddelikheid

Geloofsvrae: Jesus Christus: Sy goddelikheid – Adrio König

Die goddelikheid van Christus (Christologie van bo)

In die oudste belydenisse van die kerk en in die tradisionele benadering is veral van bo na Christus gekyk: in terme van sy goddelike oorsprong. Die blote feit dat daar altyd van sy menswording gepraat is, beteken die uitgangspunt was sy goddelike oorsprong: die Seun van God het ‘n mens geword, en nie: die mens Jesus van Nasaret het die Seun van God geword nie. Daarom is sy goddelikheid altyd sterker as sy menslikheid beklemtoon. Uitsprake wat op bepaalde beperkinge in Jesus dui, soos dat Hy nie die dag van sy wederkoms ken nie (Mark 13:32), is as uitsonderlik beskou en op spesiale maniere verklaar. Sy goddelikheid moes ook altyd `beskerm’ word as sy dood ter sprake was. Met groot sorg is daarteen gewaak om die indruk te skep dat sy `goddelike natuur’ gesterf het.

Twee van die beroemdste leerstukke van die vroeë kerk wat vandag nog deur omtrent alle Christene aanvaar word, kom voort uit die oortuiging dat Jesus goddelik was: die drie-eenheidsleer en die leer van die twee nature van Christus. Sy opstanding het die Christene van sy goddelikheid oortuig, en daarom het hulle van Hom as `God’ (o.a. Joh 1:1ev; Rom 9:5; 1 Joh 5:20) en veral as `Here’ begin praat (Here is die Septuaginta se vertaling van Jahwe, die Naam van God in die Ou Testament – 9).

Om te probeer verduidelik hoe dit moontlik is dat die Vader én Jesus albei `God’ en `Here’ genoem word terwyl daar net een ware God is, het hulle toe gesê Christus is God net soos die Vader, Hy is van dieselfde wese as die Vader of `eenswesens’ met die Vader, en omdat hulle oortuig was dat die Heilige Gees ook goddelik was, het hulle Hom bygevoeg en gesê: God bestaan uit drie goddelike persone (die Vader, die Seun, en die Gees) wat saam een goddelike wese vorm (10.4).

Dit het egter nog nie verklaar hoe Jesus as een en dieselfde persoon tegelyk God én mens kan wees nie. Dit het hulle met die volgende formule probeer uitdruk: Jesus Christus het ‘n goddelike natuur én ‘n menslike natuur. Maar om te verhoed dat dit die indruk skep dat Hy twee is, het hulle gesê die twee nature word deur ‘n goddelike persoon verenig. Dit het Christene die ruimte gegee om o.a. oor sy dood te verklaar dat net sy menslike natuur gesterf het (omdat God onsterflik is) en dikwels selfs dat net sy menslike natuur gely het (omdat God volgens hulle nie sou kon ly nie).

Baie Christene het op dié manier ook die lewe en optrede van Jesus as ‘t ware in twee dele verdeel: sekere dinge het Hy in sy goddelike hoedanigheid gesê of gedoen, en ander net as mens. Dit is byvoorbeeld in sy goddelike natuur dat Hy die wonderwerke gedoen en veral die duiwels uitgedryf het, terwyl dit as mens is dat Hy in Getsemane `met harde geroep en met trane’ gepleit het dat God Hom van die kruisdood moes red (Heb 5:7), en ook dat Hy nie geweet het wanneer sy wederkoms sou wees nie (Mark 13:32).

Ons besef vandag dat hierdie formuleringe ons in allerlei probleme beland. As net sy menslike natuur gesterf het, dan het nóg sy goddelike natuur, nóg sy goddelike persoon gesterf. Kan ons dan nog regtig sê dat Jesus Christus vir ons gesterf het? Of was dit dalk net een van sy (minder belangrike?) `dele’? En waar kry ons in die Nuwe Testament die indruk dat Hy sekere dinge net na sy goddelikheid en ander net na sy menslikheid gedoen het? Dit is nie moeilik om te besef dat hierdie formuleringe wel bepaalde waarde het, maar nie regtig die gees van die Nuwe Testament adem nie. Hulle is te formeel en onpersoonlik.

Die Christologie van bo het egter ook in baie ander opsigte groot betekenis. Die ewige Seun van God se menswording of inkarnasie het ‘n besondere waarde. In Jesus het God ‘n mens geword. Omdat Jesus God gebly het en tegelyk ‘n mens geword het, het die mens (en dus ook die mensdom) in Jesus ‘n aandeel aan sy goddelike lewe gekry, en volgens sommige is die mensdom alreeds op dié wyse gered, nog voor en afgesien van die kruis. Dit is ‘n siening wat veral in sommige hoogkerklike kringe (Katoliek en Anglikaan) voorkom.

In ander kringe is dit juis die feit dat Hy die Seun van God is wat aan sy kruisdood so ‘n besondere waarde gee: Hy het met sy kosbare bloed ten volle vir al ons sondes betaal. Vir baie Christene is dit sonder meer die hart van die evangelie, maar dit is natuurlik moeilik te rym met die oortuiging dat Hy nie na sy goddelike natuur gesterf het nie. Hoe gee sy goddelikheid dan so ‘n besondere waarde aan sy kruisdood as Hy nie na sy goddelikheid gesterf het nie?

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König