Geloofsvrae: Jesus se hemelvaart
Geloofsvrae: Jesus se hemelvaart – Adrio König
Sy hemelvaart
Christus se hemelvaart is nie een van die maklike sake in die NT nie. Die verhaal self word net deur Lukas vertel (24:50ev; Hand 1:9ev), maar daar is tog heelwat verwysings en terloopse opmerkings soos dat Jesus weggaan of na die Vader gaan, wat die hemelvaart bevestig of veronderstel. Die werklike probleme is dat die ander evangelies dit nie direk vermeld of veronderstel nie en dat ons vandag moeite het om ons dit voor te stel.
Matteus eindig sy verhaal met die bekende sendingopdrag ingebed tussen die aanspraak van Jesus dat alle mag aan Hom gegee is, en die versekering dat Hy altyd by die dissipels sal bly (28:18ev). Daar is geen verwysing na die hemelvaart nie. Johannes eindig met Jesus in gesprek met Petrus sonder enige aanduiding dat daar ‘n skeiding op hande is. En die verwysing in Markus 16:9ev is onseker omdat dit skynbaar nie oorspronklik deel van Markus was nie, maar ‘n opsomming is van die belangrikste sake in die ander Evangelies wat later by Markus gevoeg is.
Wat ons moderne situasie betref, is dit in terme van ons huidige kennis van die heelal moeilik om jou in te dink dat Jesus opstyg om hemel toe te gaan. Daar is nie ‘n bo en ‘n onder in die heelal nie, sodat die hemel nie eintlik ‘n plek iewers `daarbo’ kan wees nie.
Dit beteken dat ‘n mens eerder moet kyk na die betekenis van die hemelvaart as na die voorstelling wat Lukas daarvan gee. En dan moet ons sê dat die hemelvaart nie beteken dat Jesus weg is nie. Daarvan getuig selfs Lukas self as hy sê dat die Here (Jesus) elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg het (Hand 2:47). Jesus se hemelvaart moet dus eerder te doen hê met die manier waarop Hy nou by die gemeente teenwoordig is en werk, as met die feit van sy afwesigheid. Sy hemelvaart beteken dat Hy in ‘n verheerlikte vorm, of deur die Gees, by die gemeente is. Ons het dus nie in die Gees Iemand wat in die plek van Jesus by ons is of wat Jesus by ons verteenwoordig nie, maar Jesus self wat op ‘n nuwe manier by ons is.
Daarvan getuig ook die feit dat die kerk Christus se liggaam genoem word. As ons sy liggaam is, beteken dit dat Hy – as die Hoof, d.i. die kop – by sy liggaam teenwoordig moet wees. Dieselfde insig vloei voort uit die feit dat ons in die nagmaal meer as net tekens of simbole van Hom het, maar soos ons belydenis sê, dat ons deur die geloof sy liggaam eet en sy bloed drink, terwyl Hyself die gasheer is wat ons aan die tafel voed en laaf.
Maar dan kan Jesus se wederkoms ook nie ‘n terugkoms na ‘n (lang) afwesigheid wees nie, maar eerder nog ‘n keer ‘n ander manier waarop Hy teenwoordig is.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.
Skrywer: Prof Adrio König