Geloofsvrae: Jesus se opstanding as ’n keerpunt

Geloofsvrae: Jesus se opstanding as ’n keerpunt – Adrio König

Jesus se opstanding as ‘n keerpunt

Van die kruis van Christus kon ons sonder teëspraak sê dat dit die hart van die belewing van die evangelie in die Westerse Christendom is. Dit kan ons nie van die opstanding van Christus herhaal nie. In werklikheid is sy opstanding redelik op die rand van ons geloof geskuif. Ons sal sewe weke lydenspreke hê op pad na Goeie Vrydag, maar net een opstandingsondag, en dan nog oor ‘n langnaweek ook!

Dit is nie waar van die Ortodokse of Oosterse Christene nie (in Griekeland, Rusland ens.), en ook nie van die Onafhanklike Kerke in Afrika nie. Duisende busse ry elke Paasnaweek Pietersburg toe om meer as ‘n miljoen swart Christene na hul grootste jaarlikse fees te neem: Paasfees.

Hierdie Christene kan ‘n sterk beroep doen op die NT. Dáár het ons ‘n besondere nadruk op die betekenis van Christus se opstanding en die waarde daarvan vir die res van die evangelie.

Jesus se dissipels het nie dagboeke aangehou waarin hulle elke aand die ervaringe van die dag opgeskryf het, en toe net ná Jesus se hemelvaart die dagboeke afgesluit en as die Evangelies beskikbaar gestel nie. Hulle het in die begin vir ‘n geruime tyd nie presies geweet wat hulle aan Jesus het nie, en het ook heelwat van sy leringe nie goed begryp nie. Maar deur sy opstanding het alles in ‘n nuwe lig te staan gekom, soveelso dat ‘n mens sou kon beweer dat die verhaal van Jesus net na sy kruisiging sou doodgeloop het as Hy nie opgestaan het nie.

Trouens dit geld selfs van `God se kant.’ Dit is duidelik dat Jesus se opstanding ‘n radikale betekenis vir sy persoon en sy werk gehad het. Volgens Petrus het God (deur die opstanding) die gekruisigde Jesus `Here en Christus gemaak’ (Hand 2:26), en volgens Paulus is Hy `op grond van sy opstanding uit die dood … deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met krag beklee is’ (Rom 1:4). Presies wat dit ookal beteken, ly dit min twyfel dat Jesus se opstanding ‘n radikale keerpunt in sy geskiedenis was. ‘n Mens sou kon sê dat God Hom uit die dood opgewek het as teken dat Hy nie net sy kruisoffer aanvaar het nie, maar ook as bevestiging van sy opspraakwekkende aansprake oor sy unieke verhouding met God wat Hy sy `Vader’ genoem het.

Ook van ‘n ander kant af kom ‘n mens onder die indruk van die besondere betekenis van Jesus se opstanding. Alle tradisies in die NT verwag die wederkoms van Christus baie gou. Daar is min dinge wat so sterk en so algemeen onder die vroeë Christene voorkom (Mat 24:33; Mark 13:29; Luk 21:28,30; Rom 13:12; 16:20; 1Kor 7:29; Fil 4:5; 1Tes 4:17; 5:10; Heb 10:37; Jak 5:8-9; 1Pet 4:7; Open 1:1,3; 3:11; 22:7,12,20). Vandag verstaan baie Christene hierdie verwysings na ‘n spoedige wederkoms asof dit eintlik vir ons tyd geskryf is. Natuurlik het dit óók op ons tyd betrekking, maar dit ly geen twyfel dat die skrywers bedoel het dat Christus se wederkoms alreeds in hulle tyd naby was nie.

Waarom het hulle die einde so spoedig verwag? Omdat Jesus self die laaste en die einde is, omdat Hy in die laaste dae gebore is en die Gees in die laaste dae uitgestort is. Maar hoe het hulle tot hierdie oortuiging gekom? Omdat Jesus opgestaan het.

Dit bring ons terug by ons vraag: Wat is die betekenis van Jesus se opstanding?

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König