Geloofsvrae: Menseregte: die fundering van menseregte

Geloofsvrae: Menseregte: die fundering van menseregte – Adrio König

Menseregte: Die fundering van menseregte

Daar is een groot aanleidende oorsaak waarom menseregte beskerm moet word: ons sonde. As daar nie sonde was nie, sou ons inderdaad alle basiese menseregte geniet het, en dit sou nie nodig gewees het om dit te beskerm nie. Hierop gaan ons nie nou verder in nie.

Ons gee nou aandag aan die fundering van menseregte. Op watter gronde kan ons sê dat mense sekere basiese regte het wat beskerm behoort te word?

Die een groot Joods-Christelike argument is die feit dat ons as die beeld van God geskape is. Dit gee aan mense ‘n uitsonderlike plek op aarde. God het ons gemaak om in ‘n besondere verhouding met Hom te leef: as sy bondgenote wat onder sy sorg en gesag staan, en Hom daarom moet gehoorsaam en liefhê, maar ook as sy beeld wat Hom op aarde moet verteenwoordig en iets van sy manier van lewe moet reflekteer.

Op grond van hierdie besondere verhouding met God, is die mens die kroon van die skepping en geniet ‘n bepaalde onaantasbaarheid. Mense mag nie oor ander mense se lewens, eiendom en privaatheid beskik soos oor ‘n dier s’n nie.

Dit beteken dat Jode en Christene neig tot ‘n hoë mensbeskouing. Die mens, en dit geld van alle mense, het ‘n besondere waarde én waardigheid. Ps 8 sê selfs die mens is net ‘n bietjie minder as ‘n goddelike wese, en is met eer en aansien gekroon en oor God se handewerk aangestel. ‘n Mens kan verwag dat die Bybel so hoog oor die mens sal dink. Immers die God wat ons moet verteenwoordig, is onvergelyklik groot en heerlik en genadig en getrou. As Hy ‘n wese maak wat iets van Hom moet reflekteer, sal Hy wonderlike moontlikhede in dié wese inbou. En die blote feit dat God Hom volledig in ‘n Mens kon openbaar, bevestig hierdie vermoede.

Die mens het dus ‘n merkwaardige potensiaal en het die reg om dit te kan ontwikkel. En dit is die sin agter menseregte: dat mense so ver moontlik hul volle potensiaal moet kan ontwikkel.

Natuurlik beteken dit alles juis dat die mens baie diep kan val en daarom uiters listig en wreed kan word. ‘n Dier kan nie sondig nie. Hy is nie hoog genoeg geskep nie. Maar ‘n mens kan, en hoe!

En juis dit is die tweede basiese rede waarom menseregte so belangrik is: om ons teen mekaar en teen onsself te beskerm. Ons kan mekaar baie seer maak. Hoe groter die individu of die groep se mag, hoe gevaarliker as dit misbruik word. Dit is waarom menseregte allereers die burgers teen die regering moet beskerm. `Power corrupts; absolute power corrupts absolutely.’

Dit alles moet nie misverstaan word nie. Ons het menseregte as mense teenoor mekaar. Ons het geen regte voor God nie, altans nie van nature, of regte wat ons verdien het nie. God gee ons wel regte, o.a. die reg om sy kinders te wees as ons op sy Seun vertrou. Maar ons het van nature regte teenoor ons medemens, sodat ons op beskerming aanspraak behoort te kan maak as ons lewe of ons potensiaal aangetas word deur ander mense.

Uit die feit dat mense in hierdie besondere verhouding tot God staan en daarom besondere wesens is wat spesiaal deur God beskerm word en op sekere basiese regte aanspraak kan maak, vloei ook ander gesigspunte in die Bybel voort: o.a die wet, die behandeling van slawe en armes, en die koning van Israel.

Die tien gebooie is ‘n aantal wette wat God aan sy volk voorgeskryf het om hul lewe in sy verbond te reel. Die meeste van dié wette het ten doel om ons teen mekaar en teen onsself te beskerm. Die `voorkant’ van elke wet is eintlik ons plig teenoor ander, en die `agterkant’ is ons reg. As my plig is om nie ander mense se goed mag steel nie, het hulle reg daarop.

Die wette in verband met slawe in die Ou Testament is besonder interessant. Slawe is in Israel baie beter beskerm as onder die ander volke. Daar is oor die algemeen ‘n bepaalde menslikheid in die wette ingebou. Slawe het selfs sekere regte gehad, en is uitdruklik beskerm teen wreedhede van hul eienaars. Joodse slawe moes na ses jaar vrygelaat word.

Dieselfde geld van die armes. Veral Deut 12-26 vertoon ‘n tendens wat aan menseregte herinner en veral die reg op lewensbeskerming en -onderhoud veronderstel. Trouens alle sosiale wette in Deuteronomium beskerm die armes, swakkes, onderdruktes en minderbevoorregtes teen die sterkes en rykes.

En so ook sommige profete en Psalms. God kies kant vir die wat Hom die nodigste het. God is by uitnemendheid die Een wat vir die saak van die noodlydende en veronregte intree.

Hierdie voorkeur van God kom sterk na vore in die verantwoordelikheid van die koning. Hy is geroepe om namens God oor die volk te regeer, en dus te doen wat Hy graag gedoen sou wou hê. Daarom is hy die wagter en waarborg van reg en geregtigheid vir die verontregtes en onderdruktes. Juis daarom spreek veral sommige profete die koning so skerp aan as hy nie na die minderbevoorregtes omsien nie (Ps 72).

Alhoewel menseregte as sodanig nie direk in die Bybel ter sprake kom nie, eenvoudig omdat daar nog nie in daardie tyd in sulke terme gedink is nie, lewer die paar sake wat nou na vore gebring is, sterk getuienis daarvoor dat mense basiese regte het wat beskerm behoort te word.

Die optrede van Jesus word soms gebruik as ‘n argument teen menseregte. Immers Hy het Hom nooit op enige regte beroep nie alhoewel Hy met die grootste onreg behandel is.

Twee sake is in hierdie verband belangrik. Allereers het Jesus sterk opgekom vir die armes en onderdruktes, presies in die tradisie van sommige profete. Ook die bergrede toon sy betrokkenheid by lydendes en mense in nood. Hy staan dus voluit in die tradisie van die OT waarop ons so pas gewys het.

Tweedens, wat sy eie persoon betref, is dit natuurlik duidelik dat Hy nie gekom het om Hom op sy eie regte te beroep nie maar om te lewe en te sterwe vir die wêreld in nood. Dit is dus misplaas om te verwag dat Hy vir sy eie regte sou veg. Trouens ‘n mens sou ‘n saak daarvoor kon uitmaak dat ons eerste plig as navolgers van Jesus ook nie is om vir ons eie regte te veg nie, maar eerder om op te kom vir die regte van ander wie se menswaardigheid geskend word.

En tog kon Paulus self by geleentheid op sy eie regte staan, skynbaar nie wanneer Hy vir Christus ly nie, maar juis wanneer dit sinlose lyding is wat nie kan uitloop op ‘n getuienis vir die evangelie nie (Hand 16:37; 21:39; 22:25ev; 23:27).

Die geweldige belang van ons pligte (verantwoordelikhede) het telkens om die hoek geloer. As die agterkant van die wet mense se regte is, is die voorkant mense se pligte. Hoe belangrik menseregte ook al is, is pligte belangriker omdat dit inhoud gee aan dit wat uiteindelik beskerm moet word. As ek nie my plig nakom om hard te werk nie, sal ek nie ‘n huis hê wat beskerm moet word nie. Trouens Christene het veel meer as net pligte teenoor hulself. Ons grootste plig is teenoor mense in nood – in navolging van ons Heer. Christene se eerste plig is ook nie om vir hul regte op te kom nie, maar eerder vir ander s’n.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König