Geloofsvrae: Menseregte: Geskiedenis

Geloofsvrae: Menseregte: Geskiedenis – Adrio König

Menseregte: Geskiedenis

Die begrip menseregte is maar net ‘n paar eeue oud. Die eerste verklaring van menseregte het in 1776 in die staat Virginia in die latere VSA verskyn. Die volgende jaar is die begrip menseregte opgeneem in die Amerikaanse Onafhanklikheidsverklaring, en dertien jaar later in die Franse Deklarasie van Menseregte. Basies in hierdie eerste verklarings van menseregte was die vryheid en gelykheid van alle mense.

In die 20e eeu het daar ‘n groot ontwikkeling in menseregte gekom. Ons het vandag eintlik vier verskillende soorte menseregte wat in verskillende historiese omstandighede ontwikkel het: die negatiewe individuele regte van die liberalisme, die positiewe kollektiewe of sosiale regte van die Marxisme, die regte van die mensdom in terme van die natuur, en die menseregte wat ná dekolonisasie in die Derde Wêreld ontwikkel het.

Die individuele regte van die liberalisme is die oudste. Dit gaan om basiese regte vir individue om hulle teen die staatsgesag te beskerm, en sluit regte in soos die reg op lewe, op vryheid van beweging en van spraak, op privaatheid, op die besit van eiendom. Dit het veral in Engeland ontstaan in die stryd van die burgers teen die mag van die staat wat oor hul lewe wou beskik. Deel van hierdie hele sisteem is ‘n handves van menseregte wat afdwingbaar is en die staat se gesag kontroleer.

Die tweede groep menseregte, die kollektiewe of sosiale regte, is veral gedurende die eerste helfte van die 20e eeu deur die Kommunisme ontwikkel. Volgens hulle het die individuele menseregte tot ongebreidelde selfsug aanleiding gegee. Mense is aangemoedig om net vir hulleself te leef, soveel mag as moontlik in die hande te kry, en hulleself ten koste van ander te verryk. Die sosiale regte gaan dus van die groep en die groepsbelange uit. Die gemeenskap moet as geheel ontwikkel, en die individu moet sinvol by die gemeenskap inskakel en aan die totale ontwikkeling meewerk. In ruil daarvoor kry die individu dan aanspraak op sekere regte soos gesondheidsdienste, opvoeding, werkgeleentheid, ‘n behoorlike loon.

Natuurlik kon die liberaliste op hul beurt weer kritiek op die sosiale regte uitspreek en wel dat dit private inisiatief demp terwyl geen gemeenskap sonder private inisiatief kan ontwikkel nie.

Die derde groep menseregte, die regte van die mensdom in verhouding tot die natuur, het gedurende die laaste helfte van die 20e eeu ontwikkel. Dit het veral na vore gekom in die situasie van omgewingsbesoedeling en die uitputting van ons hulpbronne. Basiese regte soos die reg op skoon water en lug is nie tot ‘n bepaalde gebied beperk nie, maar raak die hele mensdom en die hele natuur. Dus is internasionale samewerking onontbeerlik.

Die vierde groep regte het in die Derde Wêreld ontwikkel toe die meeste kolonies vroeg in die tweede helfte van die 20e eeu onafhanklik geword het. Dit het gou geblyk dat die meeste kolonies net polities onafhanklik geword het, maar ekonomies en sosiaal volkome op die koloniale moondhede aangewese gebly het. Daarom het die begrip bevryding ‘n sentrale rol bly speel, en bly dit tot vandag ‘n brandende vraag hoe hierdie lande regtig die omvattende koloniale juk gaan afwerp en hulle reg op selfbeskikking gaan terugkry.

Hierdie groepe menseregte staan natuurlik nie noodwendig teenoor mekaar nie, en die situasie bepaal dikwels watter regte besondere beskerming moet geniet. Immers regte word natuurlik nie vanselfsprekend beskerm nie, en dikwels is baie openbare druk nodig om regerings en ander belanghebbende instansies te beweeg om aandag daaraan te gee.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König