Geloofsvrae: Sabbat en Sondag
Geloofsvrae: Sabbat en Sondag – Adrio König
Sabbat en Sondag
Die viering van Sondag is vir eeue lank al ‘n saak waaroor groepe Christene sterk verskil. Daar is die een uiterste van Christene wat op Sondag sal kerk toe gaan maar verder sal doen wat hulle wil, en dan die ander uiterste van Christene wat dink Sondag is ‘n Sabbat, en dan soveel as moontlik van die OT se Sabbatswette op die Sondag wil toepas.
Daar is by baie Christene die misverstand dat die Sabbat net in die NT van Saterdag na Sondag verskuif het. Die Sabbat en die Sondag is twee dae met heeltemal verskillende karakter. Die Sabbat is ‘n rusdag, ‘n dag van niks doen nie; die Sondag is ‘n feesdag, ‘n dag van aktiewe toewyding.
Ons het nie in die NT enige spesifieke aanduidelings van hoe die Sondag gevier moet word nie. Ons het die voorbeeld van sekere gemeentes wat gereelde byeenkomste gehad het, en ook bepaalde dinge gedoen het (Hand 20:7ev; 1Kor 16:1ev; Open 1:10). Wat ons van hulle Sondagviering weet, het direk in verband gestaan met die opstanding van die Here Jesus (Joh 20:1ev, 19ev, 26ev) en die feit dat hulle die opstanding verstaan het as beslissend vir hulle verlossing (1Kor 15). Hulle het egter sover ons weet, geen van die wette of gebruike van die Sabbat op die Sondag toegepas nie. Trouens ons weet dat sekere Joodse Christene tot in die derde eeu nog sowel die Sabbat as die Sondag gehou het, die een as ‘n rusdag, en die ander as ‘n feesdag. Daar is nooit in die NT sprake van rus op die Sondag nie. Trouens die base van slawe sou hulle ook nie toegelaat het om nie te werk nie, en ons weet uit ander bronne dat Christene Sondae voor sonop bymekaar gekom het, waarskynlik om dan die res van die dag met hul gewone (slawe-)werk te kan aangaan.
As ons vra na die betekenis van die vierde gebod vir Christene, moet ons dus nie aan die Sondag dink nie, maar eerder aan die hele week. Die rus van die Sabbat word in die NT die rus van ons sonde, en daarvoor is Sondae te min! (Heb 4:9ev) Die vraag of ons die vierde gebod hou, word dus Maandag en Dinsdag beantwoord.
Dit het besondere voordele om ‘n spesiale dag te hê waarop ons kan feesvier. Maar dit moet nie beteken dat ons ons godsdiensbeoefening en -uitlewing tot dié dag beperk nie, net dat ons op dié dag besondere voorbereiding en inspirasie kry om die hele week die evangelie te leef en met ander te deel. Dan hou ons die vierde gebod.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.
Skrywer: Prof Adrio König