Geloofsvrae: Versoening: Die mens moet verander
Geloofsvrae: Versoening: Die mens moet verander – Adrio König
Versoening: Die mens moet verander
Die persoon wat op Anselmus gereageer het en die rigting van die versoening omgedraai het, is Abelardus. Hy kon taamlike sterk kritiek op Anselmus uitspreek, o.a. dit wat ons reeds genoem het. Volgens hom is God vry om te vergewe. Hy het nie ‘n offer nodig nie. Hy was oortuig dat dit ondenkbaar is om te aanvaar dat God sal vereis dat sy Seun doodgemaak moet word voordat Hy ons kan vergewe. Dit sou beteken dat God ‘n veel groter sonde vereis as wat Adam gedoen het, voordat Hy kan vergewe.
Volgens Abelardus het Christus God se liefde kom openbaar. Deur sy lewe en sy sterwe, deur sy ongelooflike liefde teenoor soveel mense wat dit nie werd was nie, deur sy genesings en voedingswonders, deur sy gelykenisse waaruit die goedheid van God straal, het Hy ons kom leer hoe lief God ons het en hoe ons op hierdie liefde moet antwoord. Wat Christus kom doen het, is bedoel om ons te beweeg om ons vyandskap teen God te laat vaar en Hom lief te hê. Só word ons deur sy offer met God versoen. Hierdie liefde van ons word dan die grond waarop God ons vergewe. Omdat ons liefde vir God egter nooit volmaak word nie, tree Christus nog voortdurend vir ons by die Vader in. Sy verdienste vul dan ons gebrekkige liefde aan.
Net soos in die geval van Anselmus, is dit ook nie moeilik om Abelardus te kritiseer nie, trouens waarskynlik selfs makliker. Hy is selfs eensydiger as Anselmus, seker omdat hy teen hom reageer. Hy onderbeklemtoon die toorn en die oordeel van God heeltemal. Hy verwaarloos die plaasbekledende betekenis van die dood van Christus. Al verstaan ons nie presies wat en presies waarom nie, is die NT duidelik daaroor dat Christus iets in ons plek gedoen het, iets vir ons wat ons nie self kon doen nie en waarsonder ons nie gered kan word nie (Gal 1:2-4; Ef 5:2). Daarmee saam verwaarloos hy, en trouens Anselmus self ook, die mag van die sonde. Versoening as verlossing, as vrymaking van die mag van die sonde waaronder ons gebuk gaan, kom nie by een van hulle na vore nie.
En tog kan ons nie hier ophou nie. Daar is in byna elke teorie oor die evangelie ‘n bepaalde waarde. As ‘n mens net altyd wil `bewys’ hoe reg jy en jou groep is, en hoe verkeerd al die ander is, mis jy die waarde van die werk van die Gees in ander Christelike tradisies.
Abelardus se besondere nadruk op die lewe en liefdesbewyse van Jesus is onontbeerlik. Jesus se lewe word juis so dikwels in die versoeningsleer verwaarloos asof Hy net gekom het om te ly en te sterwe (vgl selfs die Apostoliese Geloofsbelydenis). ‘n Mens sou byna kon sê dat Anselmus net die briewe van Paulus gelees het en Abelardus net die Evangelies. Hoeveel ongelooflike verhale van opofferende liefde is daar nie! En Jesus sê en doen dit alles om ons te verseker hoe lief God ons het. Abelardus sou seker nie kon hoop dat die Bybel duideliker moes gewees het oor hierdie sake wat hom so na aan die hart gelê het nie (1 Joh 3:16; 4:9,10).
En dit sluit in dat nie net God nie, maar ook ons deur die werk van Christus moet verander. Daar is inderdaad die gevaar dat Anselmus se siening eensydig geïnterpreteer kan word as ‘n mededeling van ‘n feit: deur Christus se offer is God se toorn gestil, het Hy ons sondes vergewe en ons as sy kinders aangeneem. Trouens Anselmus se teorie word juis die objektiewe versoeningsleer genoem: daar ver, lank voor ons, het iets gebeur waardeur God verander is.
So waar as wat dit is, so seker is dit dat dit onvolledig en eensydig is. Daarteenoor het Abelardus beklemtoon dat Jesus se openbaring van God se liefde iets in ons moet verander – en daarom word sy leer die subjektiewe versoeningsleer genoem. Ná 2Kor 5:18-19 se objektiewe versoening staan ook vers 20: `Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het.’ Ons moet ons vyandskap laat vaar en God se vriende word. Ons moet volgens ‘n ander waardestelsel begin leef. God neem ons aan netsoos ons is, maar Hy laat ons nie só bly nie.
As ‘n mens ‘n bietjie ekumenies begin werk, kan dit jou siening van die evangelie heerlik verryk. Hier het ons ‘n besondere voorbeeld. Waarom moet Anselmus en Abelardus teenoor mekaar gestel word: óf die een, óf die ander? Kan ons hulle nie interpreteer as kruis en munt van dieselfde muntstuk nie? Beskryf Anselmus nie die eerste beweging (deel) van die versoening, dit wat God deur Christus vir ons gedoen het, en Abelardus die tweede beweging (deel): dit wat Hy deur die Gees in ons doen nie? En om God se doel ten volle in ons te bereik, kort dan nog net wat Hy met ons sal doen by Chrsitus se wederkoms (61).
Natuurlik is Abelardus op hierdie wyse geïnterpreteer, en nie maar net presies weergegee nie. Maar dit mag seker ook? Deur hom só te interpreteer, probeer ons wal gooi teen ‘n gevaarlike misverstand wat juis uit die formulering kan vloei van die basiese verhouding tussen God en mens: God neem die inisiatief en ons moet daarop reageer. Soos dit bedoel is, is dit nie net goed nie, maar onontbeerlik.
Maar dit kan misverstaan word as ons daarmee ‘n al te netjiese verdeling maak: God doen die een ding, en dan moet ons die ander een doen; die regverdiging is God se werk, en die heiligmaking ons reaksie daarop; of Christus het deur sy offer God se toorn stilgemaak, en nou moet ons ons lewe verander en God se vriende word. Die waarheid is – genadiglik! – dat God ons regverdig én heilig, dat Hy sy toorn prysgee én ons deur sy Gees verander. Dit beteken natuurlik nie dat ons niks doen nie, dat ons net passief alles ondergaan nie. Inteendeel, ons is as sy bondgenote ten volle betrokke en ten volle verantwoordelik. Dit is ‘n verhouding tussen twee subjekte, nie tussen ‘n subjek en ‘n objek nie.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.
Skrywer: Prof Adrio König