Geluk teenoor vreugde
Nobody can hurt me without my permission. – Mahatma Gandhi
Geluk teenoor vreugde
Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees (Romeine 15:13)
Ten midde van al die swaarkry vergeet Paulus van al die negatiewe dinge en praat van vreugde en hoop. In ons huidige samelewing praat ons eerder van gelukkig wees. Maar vreugde en geluk is nie dieselfde ding nie.
As ek goed voel, is ek gelukkig. Om goed te voel, hou verband met goeie dinge in die lewe – inkomste, huis, motorkar, mooi vrou, slim kinders, ens. Tog is daar iets wat pla: die Weste groei ekonomies; mense se inkomste neem toe. Tog wys navorsing dat mense nie gelukkiger is as in die verlede nie. Hoekom nie? Geluk berus op ‘n vergelyking met ander mense. Solank as wat ek meer as my buurman het, is ek gelukkig. As ek van armoede na ‘n gemaklike lewe skuif, is ek gelukkig, maar my geluk vermeerder nie as ek eers die basiese besittings het nie. Hoekom nie? Hoe meer ek het, hoe meer wil ek hê; hoe meer ek wil hê, hoe minder kan ek kry; hoe minder ek kan kry, hoe minder gelukkig is ek.
Wat sou die kundiges vandag van Paulus se gelukkigheid sê? Heel onder. Maar dit is nie belangrik nie, want Paulus fokus op vreugde en nie geluk nie – en die verskil is dramaties. Daar is ‘n paar belangrike punte oor vreugde in Paulus se lewe:
- Vreugde kan net deur die gelowige wat deel van die geloofsgemeenskap is, ondervind.
- Vreugde is nie afhanklik van omstandighede nie.
Die betekenis van vreugde, volgens Paulus, vloei direk voort uit die evangelie – die storie van Jesus wat aan die kruis gesterf het, begrawe is en uit die dood opgestaan het. Vreugde en lyding is dus nie onverenigbaar nie. Studies oor geluk beklemtoon dat jy van swaarkry ontslae moet raak. Maar vir die Christen is dit nie so nie. Diegene wat ly, is diegene wat die betekenis van vreugde ken. Paulus het vreugde geken, al sou hy nie aan die wêreld se definisie van gelukkig voldoen het nie.
In Filippi word Paulus en Silas voor die owerhede gebring. Hulle word gevonnis, hulle klere word afgeskeur en hulle word geslaan. Toe word hulle in die tronk gegooi met hulle voete in die houtblok vasgeklem. En nou die deel oor vreugde: Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister (Handelinge 16:25). Paulus en Silas doen dit nie as ‘n vorm van protes nie. Nee, hulle is gevul met vreugde, want hulle weet hulle lyding was deelname aan die evangelie.
Paulus se teorie oor vreugde is om die gawe wat God aan jou gegee het, te beoefen – al beteken dit swaarkry, want jy weet dat God steeds aan die werk is. Jy moet hierdie vreugde deel met ander lede van die geloofsgemeenskap.
Wat is vreugde? Die innerlike bevrediging wat die gevolg is van ons verstaan van ons plek in die lewe in die lig van wie God is en waarheen God met ons op pad is – sy koninkryk. Vreugde se oorsprong is mense, nie dinge nie; vreugde se oorsprong is verhoudings, nie omstandighede nie. Net gelowiges kan ondervind wat Paulus ondervind het.