Geneeskunde in die Bybel (3)
Geneeskunde in die Bybel (3) – Coen Slabber
Nuwe Testamentiese tyd
In die tyd van die NT was die Griekse geneeskunde die dominante invloed in die gebied om die Middellandse See. Geneeskunde was nog in sy primitiewe stadium, maar Hippocrates en ander Griekse geneeshere het die fondament vir die moderne geneeskunde gelê.
Hulle het deur noukeurige observasie probeer om ʼn rasionele basis vir die behandeling van siektes neer te lê. Uit Markus 5:26 weet ons daar was dokters – die vrou met bloedvloeiing het onder hulle gely! Die rabbi’s het bepaal dat daar ten miste een dokter in elke dorp moet wees. Sommige rabbi’s het self geneeskunde beoefen. Jakobus sê dat as iemand siek is, moet daar vir hom gebid word. Hy moet ook met olie gesalf word (Jakobus 5:14). Implisiet in hierdie stelling is dat siekte die gevolg van sonde is en dat genesing aan vergifnis gekoppel word.
Die gawe van genesing
Paulus sê dat gesondmaking een van die genadegawes van die Gees van God is (1 Korintiërs 12:9). Die implikasie is dat sekere gelowiges die spesiale vermoë ontvang het om mense op ʼn gereelde basis te genees. Anders as die spreek in tale en profesie is gesondmaking vir Paulus ʼn feit van die Christelike leefwyse en word nêrens bespreek as ʼn pastorale bekommernis nie.
Die bron van siekte in die Bybel
Siekte is maar deel van ʼn breër konsep – die lyding van die mens. Volgens die Bybel het siekte vyf bronne:
1. God. Alle mense van destyds het bonatuurlike gebeure aan verskillende gode en bose geeste toegeskryf. Die Jode, omdat hulle monoteïsties was, het alles aan God toegeskryf. God was verantwoordelik vir alles. Hierdie selfde God was ook die bron van voorspoed en seëninge – soos gesondheid. God kon dus siekte of gesondheid gee, maar met beide het Hy ʼn doel gehad.
Een doel van siekte was straf vir sonde. Na Dawid se ongeoorloofde volkstelling gee God hom drie keuses. Een daarvan was drie dae lank pes in jou land (2 Samuel 24:13). Daarom is dit nie verbasend dat toe God giftige slange stuur as straf vir hulle ongehoorsaamheid, hulle nie die slange doodmaak nie, maar teenoor God bely dat hulle ongehoorsaam aan Hom was (Num 21:4 – 9). Melaatsheid was ʼn vernietigende siekte wat deur God gestuur is om mense wat sonde doen, te straf. Hier dink ons aan Mirjam (Numeri 12) en Naäman (2 Konings 5:27).
God het ook siekte gestuur as bewys van sy mag of om mense te beskerm. Die tien plae in Egipte is bewys van God se mag. Om Israel te beskerm het God 185 000 man van Sanherib se leër een aand in hulle kamp laat sterf (2 Konings 19:34 – 36).
2. Satan. Satan se vermoë om mense siek te maak, val binne die toelatende wil van God. Hierdie beperkte vermoë van Satan blyk duidelik uit Job se geskiedenis (1:11). Hierdie boodskap is ook duidelik in die Nuwe Testament. Jesus sê dat die gebreklike vrou al agtien jaar lank deur die Satan gebind is (Lukas 13:16). Satan se tyd was beperk – sy volkome vernietiging was verseker. Min of meer 200 vC is die boek Tobit geskryf. Hy het blind geword toe die warm mis van mossies in sy oë geval het. Geneeshere kon hom nie help nie (2:10). Wat uiteindelik sy sig herstel het, was toe hy gal aan sy oë gesmeer het (11:8). Net ʼn entjie vroeër word verduidelik hoe dit werk: Die hart en lewer (van ʼn vis) kan ʼn mens gebruik as ʼn duiwel of ʼn slegte gees iemand probleme gee (6:8). Ons lees dat toe die duiwel die reuk van die vis se hart en lewer wat op die wierookkole gesit is, kry toe vlug hy tot in die boonste dele van Egipte.
3. Sonde. Lyding is een van die gevolge van sonde. Ons lees dat as jy nie luister na God en sy gebooie nie, sal Hy jou straf met onder andere tering, inflammasie en koorssiekte (Deuteronomium 28:22). Nadat Jesus die man by die bad van Betesda genees het, sê Hy vir hom: Moet nou nie meer sonde doen nie (Johannes 5:14).
4. Sondes van die voorouers. Die bekendste voorbeeld is die dood van Dawid se seun as gevolg van sy sonde met Batseba. (2 Samuel 12:15). Jesus se dissipels was bekend met hierdie konsep. Daarom vra hulle vir Jesus of die man blind was as gevolg van sy eie of sy ouers se sonde (Johannes 9:2). In die tien gebooie reken God die sondes van die vaders aan die kinders toe.
5. Oortreding van die natuurwette. Hierdie is ʼn belangrike beginsel, want dit beteken dat ʼn persoon verantwoordelik vir sy eie en sy gemeenskap se gesondheid is. Hy is nie net ʼn passiewe slagoffer van bonatuurlike magte nie. Daarom stel Moses ʼn uitgebreide gedragskode op wat dinge soos dieet, sabbatsonderhouding, higiëne in die kamp en geslagsverhoudings hanteer. As hulle doen wat God hulle beveel het, dan sal hulle nie die siektes waarmee God vir Egipte getref het opdoen nie (Eksodus 15:26). Hulle sou ook lank lewe (Spreuke 3:1 – 2).
Dit is onmoontlik om vas te stel of ʼn siekte die gevolg van natuurlike oorsake, God se optrede of Satan se planne was. Miskien is almal in sekere gevalle teenwoordig. Waarvan ons wel seker kan wees, is dat God elke traan sal afdroog en dat daar geen pyn meer sal wees nie (Openbaring 21:4).
Profete as agente vir genesing
Elia het die weduwee van Sarfat se seuntjie uit die dood opgewek (1 Konings 17:8 – 23). Net so genees Elisa vir Naäman van sy melaatsheid toe hy hom beveel om in die Jordaan te bad (2 Konings 5:1 – 14). Beide die weduwee en Naäman bely dat daar net een God is – Jahweh.
Outeur: Dr Coen Slabber