Geneeskunde in die Bybel (5)
Geneeskunde in die Bybel (5) – Coen Slabber
Geneeshere
In die Bybel word dit baie duidelik gemaak dat God die groot Geneser is. Ons lees van dokters in die Ou Testament. Die eerste verwysing na dokters is Josef wat die Egiptiese dokters inroep om Jakob se lyk te balsem (Genesis 50:2). Of hierdie werklik dokters was en of hulle net balsemkundiges was, is onseker. Koning Asa het dokters se hulp gesoek vir sy voete (2 Kronieke 16:12). Job beskryf sy vriende as kwaksalwers (13:3). Jeremia vra: Is daar nie ʼn dokter nie? (8:22). Jeremia sê sarkasties vir die Egiptenare: Jou baie medisynes help nie, jy word nie gesond nie (46:11).
Geneeshere as agente van God
In Die Wysheid van Ben Sirag lees ons: Vir dokters moet jy respek hê, want hulle het hulle talent by die Here gekry (38:1). Ons kan dit amper as ʼn “modernisering” van die gewone Joodse siening van destyds beskou. Hy sê ook: Dit is die Here wat medisyne uit die aarde gee; mense met insig sal nie op sulke medisyne neersien nie (vers 4). Die gewone raad – bid en offers – bly egter steeds vir Ben Sirag belangrik (vers 9 – 11). Aan die einde van hierdie gedeelte sê hy: Soms is ʼn mens se herstel in die hande van die dokters. Hulle sal ook tot die Here bid en vra dat Hy hulle help om hulle pasiënte se pyn te verlig en hulle gesond te maak sodat hulle kan lewe. (vers 13 – 14). Mense wat sonde doen en nie gehoorsaam is aan die Een wat hulle gemaak het nie, behoort siek te word! (vers 15) Hierdie boek is in die vroeë tweede eeu vC geskryf. Hierdie gedeelte is waarskynlik aanduidend van die invloed wat die Griekse geneeskunde gehad het. (Die bekende Griekse geneesheer Hippocrates het in die vyfde eeu vC geleef.) Beide Ben Sirag en later Josefus het geglo dat natuurlike substanse belangrik is vir die genesing van siekes.
Was Lukas ʼn geneesheer? Waarskynlik. Hy gebruik mediese terme wat Hippocrates en ander gebruik het, wat nie elders in die Bybel voorkom nie. Hy gee ook aandag aan mediese besonderhede: die koors was hewig (4:38), die regterhand was gebreklik (6:6) en die sieke was reeds van geboorte af verlam (Handelinge 3:2).
Die NT houding teenoor geneeshere
In die tydperk van die NT het die Grieke reeds mediese skole in baie dele van die Grieks-Romeinse wêreld gevestig. Die bekendstes was dié by Pergamos en Aleksandrië. Hierdie mediese skole was meestal gekoppel aan heidense tempels. Uit opgrawings is ons bewus van verskeie chirurgiese instrumente wat destyds gebruik is. Die woord geneesheer/dokter kom op verskeie plekke in die NT voor. Lukas word spesifiek vermeld. Paulus beskryf hom as: die dokter wat ek baie lief het (Kolossense 4:14). Jesus sê: Dié wat gesond is, het nie ʼn dokter nodig nie, maar dié wat siek is (Matteus 9:12). Lukas haal nog ʼn spreekwoord wat Jesus gebruik het, aan: Geneesheer, genees jouself (Lukas 4:23). Dokters kon nie alle siektes genees nie. Vir die vrou met bloedvloeiing kon hulle maar min doen (Markus 5:26). Jesus die Groot Geneesheer kon natuurlik genees waar dokters dit nie kon regkry nie. Geneeshere was van hulp, maar die Bybel beklemtoon die belang van die geloofsgemeenskap en die ouderlinge in siekebediening. Die ouderlinge moes vir die sieke bid en hom met olie salf.
Opsomming
In die Bybel kry ons hoofsaaklik ʼn negatiewe houding teenoor geneeshere en die geneeskunde. Dit staan in teenstelling met die oortuiging dat dit God se bedoeling is dat mense gesond moet wees. God genees of direk of deur gebruik te maak van agente – profete, Jesus, apostels en in enkele gevalle deur geneeshere.
Outeur: Dr Coen Slabber