Genesis 6:1-4 – Die mens se soeke na die ewige lewe

Genesis 6:1-4 – Die mens se soeke na die ewige lewe – Gustav Claassen

Koos vra:

Ek wil graag meer weet aangande die hemelwesens: hoe lyk hulle? Kon die dogters in Genesis 6 nie sien dat daar n verskil tussen hulle en die mans was nie? Het ons enige ander inligting?

Antwoord

Dr Gustav Claassen antwoord:

Genesis 6:1-4, is seker een van die moeilikste gedeeltes in die Bybel. Daar word van hemelwesens gepraat wat na die aarde gekom het, en met vrouens op die aarde getrou het. Die kinders wat uit hierdie verhoudings gebore is, was so groot soos reuse (nephilim). Dus, inderdaad ‘n vreemde gedeelte en baie is al geskryf oor hierdie gedeelte.

As agtergrond waarteen ons die teks moet verstaan ‘n paar opmerkings: Die boek Genesis, alhoewel dit eerste in die Bybel staan en vertel van die begin van die hemel en aarde, is nie die oudste boek in die Bybel nie. Genesis, word gedateer tussen 600 en 500 v C, in die tyd van die ballingskap. Gedurende hierdie tydperk maak die Jode die eerste keer kontak met die kultuur, filosofieë, godsdienste en ander oortuigings van die Perse, Assiriërs en Grieke.

In die kontak met die Perse, Assiriërs, Grieke en talle ander volkere het Israel ook kennis gemaak met hulle gode, verhale oor hierdie gode, en ook verhale oor die skepping van die aarde. So is daar byvoorbeeld die baie bekende Assiriese skeppingsverhaal, die Enuma Elish, wat in baie opsigte ooreenkom met die skeppingsverhaal van die Bybel. In die ander buite Bybelse skeppingsverhale is daar ook vertellings van gode wat by aardse vroue kinders verwek het, kinders wat bekend gestaan het as godmense, mensgode, of reuse.

So het die Ugaritiese god, El, by aardse vroue kinders verwek. Die Griekse god Zeus het Herakles verwek by Alkmene, die vrou van Amfitrio. Herakles, was reusagtig groot en baie sterk, ‘n soort godmens. Hulle was die manne van naam, reuse, godmense wat vir ewig lewe, wat nie sal doodgaan nie. Hulle is of gode, of halfgode, en gode leef vir ewig. Die belangrike ding om hier raak te sien is die verwysing na die “manne van naam” wat ewig sou leef. In hierdie wêreld het die Jode probeer om hulle geloof in hulle God te verwoord.

Die verteller van Genesis vertel sy mense die verhaal van die skepping van die hemel en die aarde. In die skeppingsverhaal wil die verteller dit baie duidelik stel: God alleen het geskep en is daarom alleen God, en God alleen lewe vir ewig. Verder vertel die skeppingsverhaal ‘n verhaal van die mens se opstand teen God. Adam en Eva, het in volmaakte omstandighede gelewe. Maar dan eet die mens van die boom van kennis. Hierdie oortreding van die mens het die mens die ewige lewe gekos.

God sê dan (Gen 2): as hulle tog nie ook die hand uitsteek na die boom van die lewe nie. Om te verseker dat dit nie gebeur nie beveel God hulle om die tuin te verlaat. Genesis vertel dan dat sedert dié dag is die mens op soek na die ewige lewe. Die mens wil soos God word wat nie alleen alles kan ken nie, maar ook vir altyd kan lewe. En doen die mens alles in sy vermoë om die ewige lewe te verkry. Om die toppunt van hierdie menslike soeke te illustreer, gebruik die verteller bekende verhale van godmense, en hoe die reuse tot stand gekom het. Hoe dat ‘n god uit die hemel na die aarde gekom het, en die een of ander vrou op die aarde verlei. En hoe daar uit die verbintenis ‘n halfgod-halfmens gebore word: ‘n mens, maar tog ‘n god. Dus: ‘n mens wat vir altyd kan lewe, die ewige lewe het!

Die verteller van Genesis sinspeel met sy verhaal oor die gode- en mensevermenging op die soeke van die mens na die ewige lewe. Die mens, sal as God hom die boom van die lewe ontsê, self ‘n plan maak. In Genesis 11 sou die mens weer op ‘n ander manier probeer om ‘n plan te maak, ons lees: “die mens wil ‘n toring bou om tot by God te kom, om in die hemel te kom, om God te word”.

God sien die opstand van die mens teen Hom raak, hierdie plan van die mens om soos God te wil word, om ewig te wil lewe. Die opstand van die mens teen God kos hom die ewige lewe. Maar God maak hierdie plan ongedaan. Sterflik sal die mens bly. Die mens sal nooit kan God word nie, sy lewensasem wat hy van God ontvang het sal van hom weggeneem word. Hy sal voortaan net 120 jaar lank bly leef. Die klem val hier nie op die 120 jaar nie, maar op die begrensdheid van die menslike lewe.

Om hierdie soeke van die mens, om die ewige lewe terug te kry, bloot te lê, gebruik die verteller bekende verhale soos mense wat met gode trou en so vir ewig kan lewe. God, sê die verteller, sien die mens se plan raak, en bring dit tot ‘n einde. Met God wat ‘n einde maak aan hierdie strewe van die mens, sê die verteller verder: God is sterker en magtiger as al die ander gode van wie hierdie verhale vertel is, want Hy sien deur hulle, hy bring hulle ook tot ‘n einde.

Hierdie verhaal sê dat ons nie onsself kan red nie. Dat God aan ons lewens grense stel. Alleen God kan aan ons die ewige lewe gee. En Hy gee dit aan ons deur Jesus Christus wat na ons toe kom en in ons plek die pad na die kruis toe stap.

 

Skrywer: Dr Gustav Claasen