Geseënd is die vredemakers

 

It is a poor sermon that gives no offense; that neither makes the hearer displeased with himself nor with the preacher – George Whitefield

 

Geseënd is die vredemakers

Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word (Matteus 5:9).

Die Romeine wat Jesus se woorde gehoor het, het gedink dat hulle vrede het – die Pax Romana. Rome het die klein oorloggies tussen groepe mense stopgesit; hulle het seerowery stopgesit. Ons moet versigtig wees as een groep vrede vestig, veral as hulle dit deur geweld en onderdrukking doen – soos Rome gedoen het.

 

Jesus het glad nie die Pax Romana in gedagte gehad toe Hy hierdie woorde geuiter het nie. Wat Hy vervul het, was die Ou Testament se klem op Sjalom. Jesus konfronteer die Romeinse reël van vergelding deur een van verlossing, genade en die kruis. Dit is nie net die Romeine, Selote en tollenaars wat nie verstaan wat Jesus sê nie. Almal van ons kan dit verkeerd verstaan. Ons pas nie toe wat Jesus sê nie. In plaas van vrede, maak ons oorlog. Ons glo dat as Jesus van vredemakers praat, praat hy figuurlik. Jesus wil hê dat ons sy woorde letterlik opneem; Hy wil hê dat ons vrede moet maak. God inisieer ons vrede met Hom – Hy versoen ons – maar ons moet reageer. As ons met Hom versoen is, moet ons ook met ons naaste vrede soek. Ons kan nie versoening met God van versoening van ons naaste skei nie.

 

Om vrede te maak, is meer as om oorlog te vermy. Daar is niks passief daaraan nie. Dit is harde werk.

Hoe wonderlik klink op die berge die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring, wat redding aankondig, wat vir Sion sê: “Jou God is Koning!” (Jesaja 52:7).