God kies nie dienaars wat soliede rotse is nie
“Biblical preaching is the central, primary, and decisive function of those God calls to shepherd the church.” H. B. Charles, jr
God kies nie dienaars wat soliede rotse is nie
Die man wat op pinksterdag na vore getree het en die toespraak gehou het, was nie sonder foute nie. Ons weet hy was voortvarend; ons weet dat hy vir Jesus verloën het. Maar Petrus het in ‘n man ontwikkel wie se impak op die koninkryk sy impulsiwiteit oorskry het.
As ons Petrus se lewe bestudeer fokus ons dikwels op sy negatiewe optrede – die man wat amper verdrink het toe hy op die water wou loop; sy verloëning van Jesus; ens. Maar Petrus is ook ‘n voorbeeld van ‘n oorwinnende lewe. Hy was ‘n visserman met geen opvoeding en waarskynlik nie veel ander vaardighede as dié van ‘n visserman nie. Hy los sy nette en volg Jesus onmiddellik toe Jesus hom geroep het. Hy was die eerste persoon wat Jesus as die Christus, die Seun van die lewende God erken het (Matteus 16:16). Na Jesus se opstanding is hy die een wat in die water gespring en na die strand geswem het toe hy hoor dat dit Jesus was wat op die strand gestaan het (Johannes 21:7). Ons kan nie Petrus se toewyding bevraagteken nie.
Petrus is steeds vir ons ‘n inspirasie. God kies nie dienaars wat soliede rotse sonder enige krake en skeure is nie. Nee, Hy kies mense met swakhede, mislukkings – mense wat voortdurend vergewe moet word. Die Here soek mense wat sal leer, mense wat gewillig is om te bely en bereid is om hulle aan sy wil te onderwerp. Mense soos Petrus.
Baie Christene besluit vooraf hoeveel die Here met hulle kan doen. Dit berus op hulle persoonlikheid, talent en opvoeding. God stel nie in kwalifikasies belang nie. Hy soek gewillige volgelinge wat soos Jesaja bereid is om te sê: Hier is ek! Stuur my! (Jesaja 6:8).