God se gimnasium
How difficult it is to avoid having a special standard for oneself! —C.S. Lewis
God se gimnasium
Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through pain and suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.
Die Bybel gebruik die metafoor dat lyding ‘n smeltkroes is. ‘n Ander metafoor wat die Bybel gebruik is ‘n gimnasium. Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ‘n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God (Hebreërs 12:11). In die oorspronklike verwys gevorm na gimnasium. Dit verwys letterlik na oefeninge wat doelbewus gedoen word om swak dele van die liggaam te versterk en die sterk dele verder te verbeter.
Wat gebeur by ‘n gimnasium?
- Ek moet my gewone klere uittrek en my oefenklere aantrek. My gewone klere verhoed dat ek die uitputtende bewegings kan doen. Maar my oefenklere maak my tekortkominge duidelik – my maag is te groot. My gewone klere mag dit wegsteek. Dit dien dus as ‘n aanmoediging – ek besef ek moet iets daaraan doen. Dit sê vir my dat as alles goed gaan, kan ek die tekortkominge in my karakter wegsteek. Sodra probleme en swaarkry kom, is ek in God se gimnasium en my tekortkominge word blootgestel – my humeur, trots, neiging om leuens te vertel, gebrek aan selfdissipline, ens. Dit wys ook vir my die positiewe eienskappe wat ek nodig het en wat ek nie het nie. Lyding wys vir my wie ek werklik is.
- Nou doen ek ‘n reeks oefeninge. Die doel van die oefeninge is om druk op sekere liggaamsdele te plaas. Balans is nou belangrik – nie te veel en nie te min nie. Wat nodig is, is net die regte hoeveelheid pyn en ongemak. Hebreërs 12:11 sê dat swaarkry later ‘n goeie vrug lewer.Ons het die volmaakte Afrigter. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hy liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28). Lyding is nie ‘n speletjie wat God vanuit die hemel met ons speel nie. Hy was vir hulle nie ‘n vyand nie, Hy self was die engel wat hulle gered het. hy het hulle verlos deur sy liefde en ontferming; Hy het hulle opgetel en hulle altyd gedra (Jesaja 63:9).
My kind moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem (Hebreërs 12:5). Die Here, my afrigter, lei my deur die lewe met balans. Hoe reageer ek op sy tug? Ek kan dit stoïsyns doen – ek byt vas en weier om God se onderrig raak te sien of ek kan vorentoe beweeg deur die oefeninge wat Hy vir my voorskrywe.
Laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en die Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. Hou Hom voor oë wat so ‘n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie (Hebreërs 12:1 – 3). Deur na Jesus te kyk, weet ek hoe om in God se gimnasium te funksioneer. As ek dink aan wat Hy vir my verduur het sonder om te kla, verdwyn my selfbejammering. Ek moet my hartseer en verlies hanteer wetende dat God agter dit alles besig is om vir my beswil te werk. As ek my oë op Jesus gerig hou, sal ek deur die pyn kom na ‘n dieper vrede.
Daar is nogal gemeenskaplike temas tussen ‘n smeltkroes en ‘n gimnasium:
- Beide is plekke van gevaar. As ek verkeerd reageer, mag dit ‘n ramp tot gevolg hê; as ek reg reageer lei dit tot skoonheid en krag.
- Beide kan nie vermy word nie. Ek moet net na Hom kyk wat deur dit alles gegaan het aan die kruis. Hy loop langs my in my lyding.